Hooffoto: Noah (9) en Joshua Smith (11), eienaars van die onderneming Bin Brothers.
Nes die gedurige gezoem van bye in ’n byekorf, só is die ywerige gewerk van AfriForum se Besigheidsbytjies – oftewel jong entrepreneurs. AfriForum se Besigheidsbytjies-projek, wat in 2019 afgeskop het, is ’n unieke model wat kinders met ’n aanvoeling vir besigheid aanmoedig om hul besigheidsidees te omskep in ’n realiteit en kinders terselfdertyd toe te rus met vaardighede om dié ondernemings te laat vlamvat. Nagenoeg 400 jong entrepreneurs het reeds die afgelope ses jaar aan die jaarlikse Besigheidsbytjies-kompetisie deelgeneem en nou sprei ’n aantal van dié bytjies hul vlerke wanneer agt ondernemings en die entrepreneurs wat dit bedryf op AfriForumTV te sien sal wees in die nuwe reeks Die Korf.
Volgens Leandie Bräsler, bestuurder van Jeugleierskap by AfriForum, is die doel van die program nie net om blootstelling aan hierdie suksesvolle jong entrepreneurs te bied nie, maar ook om aan voornemende entrepreneurs ’n blik agter die skerms van ’n onderneming te gee. Hiermee word die stories vertel van sukses, vroeë oggende en laat aande, van harde klippe kou en hoe dit voel om die vrugte van jou arbeid te pluk.
Benewens die entrepreneurs se eie stories, gee Die Korf ook waardevolle advies oor hoe om in die spore van suksesvolle entrepreneurs te volg. Die geliefde sangeres Bernice West van “Lyfie”-faam en haar broer Renier van die groep Rooksein, neem kykers op ’n reis van die een besige onderneming na die volgende. Dié boetie-en-sussie-span is boonop self entrepreneurs wat hul eie onderneming, West Café, in 2022 in Pretoria oopgemaak het en bied ook advies aan die hand van eie ervaring en lesse wat geleer is.
Die Smith-boeties Noah (9) en Joshua (11) eienaars van die onderneming Bin Brothers, is binnekort te sien in die nuwe televisiereeks Die Korf. Dié innoverende entrepreneurspaar van Elarduspark in Pretoria het hul onderneming in Januarie 2022 begin en sien toe dat hul kliënte se munisipale vullisdromme silwerskoon gewas en ontsmet word. Hulle betaal ’n werknemer om die op- en aflaaiwerk te hanteer en spring dan self in met skoonmaakmiddels om selfs die vrotste vullisdrom skoon te maak. Hulle verkoop nou ook allerlei vullisdromsakke en stel ondersoek in na die uitbreiding van hul onderneming om ook ’n karwasdiens in te sluit.
Die 13-jarige Lem Theron van Krugersdorp se onderneming, Tron Gadgets, spesialiseer in die ontwerp en vervaardiging van 3D- gedrukte speelgoed en benodighede. Deur Tron Gadgets kry hy nie net blootstelling aan entrepreneurskap en alles wat met die sakewêreld te doen het nie, maar is hy ook aan die voorpunt van nuwe tegnologie.
Kyk, neem deel en wen
Kykers van Die Korf sal die geleentheid kry om vir hul gunstelingonderneming te stem en staan sodoende die kans om self ’n lekker prys los te slaan. Hou AfriForumTV en AfriForum se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting.
Die Korf sal teen September vanjaar op AfriForumTV vir intekenaars beskikbaar wees. (Onthou, intekening op dié Afrikaanse vermaakplatform is absoluut gratis!)