Deur Alana Bailey
Sedert pres. Cyril Ramaphosa die volledige implementering van die omstrede Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (beter bekend as die Bela-wet) op Vrydag 20 Desember 2024 gemagtig het, het belanghebbendes op die publikasie van die regulasies wat dit vereis, begin wag.
Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys, het in Junie 2025 riglyne gepubliseer as ’n eerste stap in aanloop tot die publikasie van hierdie regulasies. Riglyne het nie dieselfde regskrag as regulasies nie, maar is wel ’n belangrike rigtingwyser. Dit is dan ook verwelkom as ’n taktiese deurbraak deur onder meer die lede van die Solidariteit Beweging omdat dit duidelik minder aanvallend teen Afrikaanse skole was as die uitlatings van politici aan die kant van die ANC en EFF pas nadat die wet onderteken is. Soos verwag kon word het dieselfde politici en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) die riglyne veroordeel en geëis dat dit teruggetrek moet word – iets wat nie gebeur het nie.
Op 6 Augustus is die eerste twee stelle regulasies in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer. Dit is naamlik dié met betrekking tot toelating tot en die kapasiteit van skole. Aanvanklik is die publiek 30 dae gegee om hul kommentaar skriftelik by die departement in te dien, maar die tydperk is later eers tot 5 Oktober en daarna tot 5 Desember verleng.
Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie regulasies net op openbare skole van toepassing is en nie tuis-, onafhanklike of privaat skole raak nie.
AfriForum konsulteer deurlopend met ons regspan oor alle aspekte van die Bela-wet en het ons kommentaar op die regulasies veral gefokus op onduidelikhede en weersprekings in die regulasies, wat later dalk tot dispute of selfs regsaksies mag lei as dit nie beter geformuleer word nie. Daar moet veral oor sensitiewe kwessies soos voedingsones en die rol van taalbeleide in toelatingsvereistes geen onduidelikheid wees nie.
Wetgewing word meestal oorsigtelik en idealisties opgestel. Regulasies is dus nodig om duidelikheid oor die inhoud daarvan te skep, sodat praktiese uitvoering aan die wetgewing gegee kan word. Een van ons vernaamste punte van kritiek teen die regulasies is dan ook dat sommige dele daarvan steeds té vaag is.
Wat kapasiteit betref, word formules byvoorbeeld gegee waarvolgens die aantal kinders wat per klas geakkommodeer kan word, bepaal moet word, maar daar word nie in ag geneem dat alle skole se klasse nie noodwendig dieselfde grootte is nie. Die omskrywing van wie voorkeur vir toelating kry, is ook nie duidelik nie. Daar word na lede van die gemeenskap waarbinne die skool geleë is, verwys, maar ’n gemeenskap kan suiwer deur die geografie, of anders deur kulturele, taalkundige of ander faktore bepaal word.
Duidelikheid is noodsaaklik, anders kan waninterpretasies tot die skending van regte en selfs regsaksies lei, wat duur en stadig is en derhalwe eerder voorkom moet word.
Daar word ook steeds op ander regulasies, insluitend dié oor die taalbeleid van skole en oor tuisskoling, gewag.
AfriForum sal ons lede op hoogte hou van verdere verwikkelinge in hierdie verband. Dit is belangrik dat soveel instellings en individue as moontlik die regulasies bestudeer en daarop reageer, aangesien dit sal bepaal hoe die Bela-wet in die toekoms geïmplementeer sal word en ons skole en ons kinders se toekoms gaan raak.