“I feel alone. They don’t want to be my friend. I’m a loser.” ’n Briefie met dié woorde het in Julie 2020 ’n stukkie van die legkaart van die 12-jarige Herman Odendaal van Kestell in die Vrystaat se lewe in plek laat val. Op ’n Vrystaatse wintersdag, midde-in die Covid 19-pandemie, het Herman sy eie gelewe geneem en sy woorde op papier het lig gewerp op wat werklik in dié stil, teruggetrokke seun se kop gewoel het. Nou, sowat vier jaar later, is daar steeds soveel onbeantwoorde vrae waarmee sy ma Arina worstel, maar ook ’n besef dat ander deur Herman se storie gehelp kan word.
Die Odendaal-gesin se ervaring van die uitwerking wat boelies op ’n kind kan hê, is ekstreem. Nie alle kinders wat deurloop onder afknouery pleeg selfdood nie, maar die rol wat boeliegedrag in kinders se geestesgesondheid speel kan nie misken word nie.
Sewe uit elke tien kinders word geraak
Die statistiek rakende selfdood onder kinders en die aantal oproepe wat kinderhulpinstellings soos Childline SA ontvang, getuig daarvan. Gedurende die laaste kwartaal van 2023 het dié organisasie meer as 150 oproepe om hulp rakende boeliegedrag ontvang. Volgens ’n studie wat in 2023 in die vaktydskrif International Journal of Environmental Research and Public Health verskyn het, het navorsers – wat hul studie in die Tshwane-onderwysdistrik onderneem het – bevind dat nagenoeg 74% van leerders wat aan die studie deelgeneem het óf slagoffers van boeliegedrag was óf hulself aan boeliegedrag skuldig gemaak het. Dit kom neer op as meer as sewe uit elke tien kinders wat op die een of ander manier deur dié gedrag geraak word.
Navorsers van dié studie beveel voorts aan dat skole strategieë moet ontwikkel om boeliegedrag te identifiseer en onderwysers op te lei in hoe om dié gedrag te takel.
Só maak AfriForum en sy teenboeliespan
AfriForum se Teenboelieveldtog is in 2017 begin nadat navorsing wat by dié burgerregteorganisasie gedoen is, bevestig het dat die voorkoms van geweldpleging onder volwassenes teruggevoer kan word na geweldenaars se kinderdae. Dít, meen Leandie Bräsler, bestuurder van Jeugleierskap by AfriForum, het haar laat besef dat die siklus van geweld slegs verbreek kan word indien ingryping so jonk as moontlik geskied. Dit het tot die ontstaan van die Teenboelieveldtog gelei, ’n projek wat Bräsler steeds hanteer en wat haar baie na aan die hart lê.
In die afgelope nagenoeg nege jaar het Bräsler en haar span meer as 133 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers by sowat 180 skole landwyd toegespreek oor die gevare van boeliegedrag en hoe om dié gedrag te bekamp. Oor waarom AfriForum juis dié taak aanpak, stel Bräsler dit duidelik: “Veilige skole sorg vir veilige gemeenskappe, nou en in die toekoms.” Daarom is AfriForum, as ’n organisasie wat toegewyd is aan die vestiging van gesonde en veilige gemeenskappe, ideaal gerat vir dié belangrike taak.
Kopseer en “skoolsiek” – ’n ma vertel
Arina praat openlik oor haar en haar seun Herman se storie van boelies en selfdood. “As ek een ma kan help en keer dat sy hierdeur gaan, dan praat ek,” verduidelik sy. In ’n kort dokumentêr wat AfriForum enkele maande ná Herman se dood verfilm het, vertel sy en haar man Johan hoe daar op die dag wat hul seun sy eie lewe geneem het, nie tekens was van wat hul seun beplan het nie.
As Arina egter vandag terugkyk na die tyd voor Herman se dood, was daar wel gevaarligte. Dit is juis hierdie waarskuwingstekens wat sy meen ouers, onderwysers en sibbe op moet let. “Hy het baie keer gekla van kopseer of ná ’n naweek gesê hy wil nie skool toe gaan nie, want sy maag is seer. Dit wat ’n mens baie keer dink is ‘skoolsiek’, is nie noodwendig ‘skoolsiek’ nie. Daar is ’n rede waarom ’n kind elke Maandag ‘siek’ is,” verduidelik sy.
Hoewel Herman nooit laat blyk het wie hom afgeknou het nie, weet Arina dat haar seun, wat meer as ’n kop langer as sy klasmaats was, erg deurgeloop het. Hy is onder meer gespot oor sy rooi hare, sproete en groot voete.
Haar “stil kind” het in die twee na drie maande voor sy dood selfs stiller geword en hom meer onttrek, onthou Arina nou. “Hy het byvoorbeeld sy kamer geskuif en vir homself ’n klein hokkie ingerig. Ek het dit nie in daardie stadium besef nie, maar ek weet nou dat hy homself daarmee nog verder geïsoleer het.”
Herman het ook karate, ’n sport waarin hy binne ’n kort tyd baie gevorder het, eendag skielik opgegee.
Tekens soos Herman se “skoolsiekte”, onttrekking en staking van aktiwiteite wat hy voorheen geniet het, is nou vir Arina duidelike tekens dat haar kind swaar getrek het. Sy moedig ouers aan om ook uit te kyk vir ander gevaarligte soos dit wat kinders byvoorbeeld in skoolopstelle skryf. Soms word kinders se diepste en seerste gedagtes juis op daardie manier op papier uitgestort, verduidelik sy.
Arina, wat self ook ’n slagoffer van boeliegedrag was, het intussen ’n organisasie ter ere aan haar rooikopseun op die been gebring. Met Herman’s Heroes probeer sy om die boodskap rakende die gevare van boeliegedrag by skole tuis te bring en hoop om in die toekoms ook skoolsielkundiges oor die kwessie bewus te maak.
Herman was ’n “sponsie”, verduidelik Arina. “Hy het alle negatiewe dinge wat mense vir hom gesê het, opgeneem.” Nou beywer sy haar daarvoor om ander oor die invloed van woorde in boeliegedrag te vertel, want – stel ’n ma wat die seer van bespotting in haar eie seun moes sien, dit duidelik – “woorde maak seer”.
Wanneer seer ander seer maak
Die 39-jarige Ivor Swartz, vandag ’n predikant en jeugbedienaar by die N.G. Kerk Oosterlig in Pretoria, ken van seer. En van seermaak. En heel word. Sy lewe het wye draaie gestap vandat hy in die armste deel van Grabouw, bekend as Die Gaatjie, grootgeword het. Dit is in hierdie dorp met sy vaderlose gemeenskap wat Ivor die prooi van boelies geword het.
Hy het dit nie in daardie stadium self besef nie, maar hy weet nou dat die afknouery en bespotting wat hy en sy jonger broer Peter deurgemaak het, ernstige boeliegedrag was. Die boeties se loopneuse en die uitwerking van trauma wat Ivor tot op laerskool nog homself laat natmaak het, het van dié behoeftige kinders die teiken van boelies gemaak, verduidelik hy. “Ek het nie die taal gehad om te weet dat die mense wat hierdie goed aan ons doen, boelies is nie,” sê hy.
Sy eie besef dat woorde soms by kinders kan ontbreek en dat kinders dikwels nie kan beskryf of verstaan dat hulle afgeknou word nie, is ’n rede waarom hy vandag ook landwyd praatjies doen by skole oor die onderwerp.
“Die meeste afknouery is baie subtiel,” verduidelik Ivor. Hierdie subtiele vorm van boeliegedrag laat kinders dikwels dan met ’n verwarde gevoel waar hulle seergemaak en uitgesluit voel.
In ’n rubriek wat in April op Maroela Mediaverskyn het, skryf Ivor onder meer oor die boelie by die huis. Sy ouer broer was in vele opsigte die boelie waarvan hy nie kon ontsnap nie.
Die aanhoudende blootstelling aan afknouery het uiteindelik sy tol op Ivor geëis en later het hy self die boelie geword en by ’n bende aangesluit. As tienerseun het Ivor en nog ’n bendelid Ivor se ouer broer geskiet. Hy is later in die hospitaal oorlede. Vir sy aandeel hieraan is Ivor op die ouderdom van 14 tronk toe. Ná vyf jaar was hy vry. Sedertdien het sy lewe handomkeer verander en werk hy nou juis met jongmense, en veral tieners, om hulle te lei om nie net in God te glo nie, maar ook ’n persoonlike verhouding met Hom te hê en dit ook in hulle alledaagse lewe prakties te maak.
“Geen kind moet ooit voel wat ek gevoel het nie,” stel Ivor dit vurig. Hy fokus daarom in sy praatjies by skole juis op sy eie onhandigheid as kind toe hy nie geweet het hoe om sy eie “groot emosies” te verwoord nie en toe self die boelie geword het.
Oor hoe om te keer dat kinders in dieselfde lokval trap, is Ivor duidelik – gaan vertel iemand wat jy vertrou van jou seer en loop weg van jou boelie. Vir ouers raai hy aan om kinders se emosies te erken.
As Ivor vandag terugkyk op sy eie lewenspad en dié van sy tweejarige seuntjie wat nou voorlê, besef hy die belangrikheid van sy rol as pa en ouer. Hy maak ’n punt daarvan om die oordrag van trauma van die een generasie na die volgende te stop. “Die pyn stop by my,” stel hy dit duidelik. Hy wil sy seun toerus sodat hy, in die woorde van die Amerikaanse skrywer en maatskaplike werker Brené Brown, die lewe met ’n “harde rug en ’n sagte bors” kan aanpak. Selfvertroue en deernis – dít, meen Ivor, is wat nodig is om die lewe met al sy goed en kwaad en boelies aan te pak.