Deur Ilze Nieuwoudt
Woelinge, woede en teenkanting. ’n Gemeenskap wat prontuit verklaar: Los ons skole uit!
Dit is dalk wêrelde verwyderd van hoe ’n feesjaar ter viering van Afrikaans se eerste 100 jaar as amptelike taal daarna moes uitsien, maar wanneer hierdie geliefde taal van miljoene bedreig word en Afrikaanse skole se voortbestaan deur wetgewing wat verengelsing wil afdwing in die weegskaal kom, kan dit nie anders nie.
Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) waarteen AfriForum en talle ander Afrikaanse organisasies sedert 2017 veg, is in September 2024 deur pres. Cyril Ramaphosa as wet ingestel. Die implementering van twee sleutelartikels wat sedert die begin aan die hart van AfriForum se veldtog teen Bela gestaan het en ingrypende implikasies op openbare skole se taal- en toelatingsbeleide sal hê, is egter ter elfder ure – ná gesprekvoering met Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit – met drie maande uitgestel.
Ramaphosa se besluit is volgens Siviwe Gwarube, minister van Basiese Onderwys, in belang van eenheid in die land geneem. Hoewel dit beslis nie eenheid tussen partye vir en teen die nuwe Onderwyswet gebring het nie, het nagenoeg 50 belanghebbende organisasies en meer as 70 skole op 10 Oktober ’n Bela-aksieberaad by die Sol-Tech-kampus in Pretoria bygewoon en as eenheid ’n historiese resolusie ter beskerming van Afrikaans en Afrikaanse skole aanvaar.
Die resolusie stel dit duidelik dat die breë Afrikaanse gemeenskap “enige aanval op of verskraling van moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaans spesifiek” verwerp; dat Bela neig om aan die staat meer mag oor skole te gee en dus “ouers se gesag ernstig ondermyn”; dat die Gautengse Onderwysdepartement se vyandige houding teenoor Afrikaanse skole verwerp word; en dat die artikels oor skole se taal- en toelatingsbeleide wat “aan die onderwyshoof die reg gee om aan skole voor te skryf oor taal en toelating” geskrap moet word.
As deel van die aksieplan vir die beskerming van Afrikaanse skole is onder meer besluit om op 5 November ’n dag van protes om Afrikaanssprekendes se verwerping van die aanval op moedertaalonderrig in skole te hou. Voorts is ook beklemtoon dat, sou die gewraakte artikels ná die konsultasietydperk van drie maande wel ingestel word, AfriForum en ander organisasies met hul regstappe teen die wet sal voortgaan. Daarbenewens gaan Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, ook teen die einde van November AfriForum en die Afrikaanse gemeenskap se standpunte rakende Bela by die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Switserland belig.
Afrikaans, moedertaalonderrig en Bela
“Ons sit vandag weer met politici met imperiale ambisies … in die naam van dekolonisering pleeg hulle die grootste daad van kolonisering.” – Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Bela-aksieberaad op 10 Oktober 2024
“I have to say this, we are happy as Gauteng Province about this bill. It will really, really, really take us forward in terms of transforming our schools. We can’t have a single-medium school, especially in our province.” – Matome Chiloane, LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Rekreasie in Gauteng op 15 September 2024
“Daar is ’n staatsgreep op ons skole uitgevoer.” – Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, tydens die Bela-aksieberaad op 10 Oktober 2024
“Bou eerder skole wat inspireer. Los die taal uit wat ek so koester en lief het.” – Itumeleng Maluleke, trotse Afrikaans- en Tsongasprekende jongmens, in ’n video-opname tydens die Bela-aksieberaad op 10 Oktober 2024
“Ons bedel nie. Ons beding, anders staan jy in afhanklikheid en kry jy net die krummels wat op die grond val.” – Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, tydens die Bela-aksieberaad op 10 Oktober 2024
“Ter wille van my dogter en haar generasie moet die twee artikels [van Bela] geskrap word en die skoolgemeenskap hul sê behou.” – Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, in ’n video-opname tydens die Bela-aksieberaad op 10 Oktober 2024