Die ondertekening van die Afrikaner Verklaring in April vanjaar het grootskaalse reaksie ontlok en terwyl sekere kommentators aanvoer dat die verklaring “vervreemding” veroorsaak, beskou selfs mense buite Afrikanergeledere dit as ’n “baie belangrike” dokument wat by die “nasionale dialoog bespreek moet word”. In die weke na afloop van die ondertekening is debatte heen en weer gevoer, en dit maak dit duidelik dat gesprekke oor sake soos Afrikanerskap, identiteit en kultuur brandpunte is wat nou (dalk meer as ooit vantevore) gevoer moet word.
Die Afrikaner Verklaring, wat op 22 April deur ’n aantal Afrikanerorganisasies, -netwerke en individue onderteken is, se boodskap is egter duidelik – die nagenoeg twee miljoen Afrikaners wat deur hierdie oorspronklike ondertekenaars en organisasies verteenwoordig word, is hier om te bly. AfriForum is een van die organisasies wat hierdie verklaring onderteken het.
Volgens dr. Theuns Eloff, fasiliteerder van die verklaring en oudrektor van die toenmalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), volg die verklaring ná nagenoeg drie jaar se gesprekke tussen verskeie Afrikanerorganisasies. Hy bestempel dit as ’n “breë middelgrond verklaring” wat aandui waarop Afrikaners, al verskil hulle in baie opsigte, kan saamstem.
Die doel van die verklaring is, luidens Eloff, drieledig. “Die eerste is ’n doel na buite. Ons wil hê dat ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe en individue moet kennis neem van die Afrikaners se goeie trou en gesindheid ten opsigte van die land. In ’n sekere sin is dit ’n hand van vriendskap wat uitgereik word,” het Eloff tydens die ondertekeningsgeleentheid gesê. In die tweede plek, benadruk Eloff, hoop die betrokke organisasies om meer en diverse steun te kry van organisasies en individue wat nie aanvanklik betrokke was nie; en laastens wil die groep die regering oortuig van die noodsaak om ’n kultuurverdrag met die Afrikanergemeenskap te sluit.
Die behoefte aan ’n kultuurverdrag is volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, nou (30 jaar sedert die aanvang van die huidige grondwetlike bedeling) nodig om die gaping tussen die “bedoelings en bewoording in die Grondwet” en dit wat in die praktyk uitspeel, toe te maak.
Buys verduidelik dat die behoefte aan kulturele leefruimtes, soos dorpe en skole, ’n saak is wat die samestellers van die verklaring baie belangrik ag. “Enige minderheid het die ruimte nodig waar hy die meerderheid kan wees, anders word elke lewensaspek deur die demografiese meerderheid beheer.” Hy benadruk voorts dat kulturele vryheid ’n voorwaarde is vir ware vryheid in enige demokrasie en hou vol dat die bouwerk aan instellings waardeur ’n kultuur kan floreer sal voortgaan met of sonder die regering se toestemming. Die strewe na kulturele vryheid is volgens hom tog ’n normale reaksie op swak staatsbestuur.
Die verklaring en strewe na kulturele vryheid is egter nie ’n verlange na die verlede nie, sê Buys, maar “ons sien ook nie uit na ’n toekoms onder die ANC of ’n soortgelyke groep partye nie. Ons praat nie van ’n uitgediende, luidrugtige nasionalisme nie, maar van ’n stille kulturele selfvertroue wat sê: Ons is hier om te bly. Ons bou om te bly en ons bly om te bou, maar ons wil ook ons regmatige regte en belange beskerm en opneem.”
Dáárom steun AfriForum die Afrikaner Verklaring
AfriForum, wat tans meer as 320 000 lede verteenwoordig, is ’n medeondertekenaar van die verklaring. Ander organisasies sluit onder meer Solidariteit en Helpende Hand in.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat die Afrikaner Verklaring ’n positiewe stap ter bevestiging van die groeiende selfvertroue en selfrespek onder Afrikaners is. “Dit word beklemtoon deurdat ’n wesenlike deel van die Afrikanergemeenskap met hierdie verklaring, te midde van ’n aanslag om Afrikanerskap te misken en valslik as verdelend te probeer voorhou, hard en duidelik sê ons is Afrikaners en ons is hier om te bly.”
Die verklaring beklemtoon volgens Kriel voorts Afrikaners se bereidwilligheid om wedersydse erkenning en respek met ander volke in die land te bevorder. “Ons kan met selfrespek eis dat Afrikaners se belange nie ondergrawe word nie, terwyl ons ook met ywer saam met ander kan meewerk om ’n beter toekoms vir ons, ons gemeenskappe en ons nageslag te help vestig.”