Afrikaans is lekker … daarom veg en bou ons vir dié taal

Deur Kallie Kriel – uitvoerende hoof van AfriForum

AfriForum gaan in die komende jaar saam met talle ander organisasies en individue die honderdste herdenking van Afrikaans as amptelike taal vier. In 2025 herdenk AfriForum ook die feit dat dit 150 jaar is sedert die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom het en ’n groot rol begin speel het om die Afrikaanse taal te begin formaliseer. Natuurlik het die ontstaansproses van Afrikaans al lank voor 1925 in 1875 begin afspeel. Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 1925 was egter ’n belangrike mylpaal vir dié taal op die pad om een van slegs vier tale ter wêreld te word om gedurende die 20ste eeu te moderniseer tot ’n volle funksionele taal. Dít is iets om op trots te wees en te vier.

Afrikaans vorm ’n kernelement van dit wat AfriForum is en waarvoor dié organisasie staan. ’n Groot komponent van AfriForum se lede en baie ander landsburgers droom, bid en dink in Afrikaans, ontvang en gee onderrig in dié taal en kuier saam met vriende en familie in Afrikaans. Dit is lekker om Afrikaans te praat. Meer nog, Afrikaans staan sentraal tot die onderskeie kulturele identiteite van Afrikaanssprekendes.

Die Afrikaanse huishouding het vele kamers deurdat Afrikaans ’n kerndeel van die identiteit van verskeie volke in die land vorm. Hierdie volke sluit onder meer in die Griekwas, Namas, Koranna, San, mense wat hulself as bruin Afrikaanssprekendes beskou en Afrikaners. Binne hierdie konteks is dit normaal om veelvuldige identiteite te kan hê. Iemand kan tegelyk ’n Griekwa en deel van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap wees. Op soortgelyke wyse is ek persoonlik trots om ’n Afrikaner en tegelyk deel van die groter Afrikaanssprekende gemeenskap te wees. Ek het ook ander identiteite soos onder andere dié van ’n trotse pa en Christen.

Daar is ongelukkig enkele individue (gelukkig sonder wesenlike steun) wat verdeeldheid in die Afrikaanse gemeenskap wil saai deur een van die Afrikaanse identiteite, naamlik Afrikanerskap, se bestaan te bevraagteken, te stereotipeer en valslik af te maak as uitsluitend en rassisties. Daar is nie ’n groter skending van iemand se menswaardigheid as om wie en wat hulle is te minag nie. Gelukkig besef die meerderheid lede van die Afrikaanse taalhuishouding dat die beste wyse om eenheid in verskeidenheid te bou is deur wedersydse erkenning en respek te bevorder tussen die onderskeie Afrikaanse identiteite. Kom ons wees gemaklik met wie elkeen van ons is, respekteer dit waaroor ons verskil en werk eerder saam vir ons gedeelde belange, wat die Afrikaanse taal insluit.

Die embleem van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat in 1875 in die Paarl
tot stand gekom het om Afrikaners te oortuig dat hulle ’n eie taal – Afrikaans – het.

Terwyl AfriForum geensins huiwer om toe te tree tot kwessies wat Afrikaners raak nie en met trots deelgeneem het aan die opstel van die Afrikaner Verklaring wat in Mei 2024 bekendgestel is, neem ons ook met ywer deel ter bevordering van die breër Afrikaanse gemeenskap se belange. Juis daarom is AfriForum trots lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR), werk ons aktief saam met Kaapse Forum om bruin Afrikaanssprekendes se belange te bevorder en ondersteun ons Kaapse Forum se projekte om onderrighulp aan behoeftige Afrikaanse skole te bied.

AfriForum se veg-en-bou-strategie is ook toepaslik op Afrikaans. Aan die een kant moet ons as waghond veg teen agteruitgang en miskenning van Afrikaans, terwyl ons aan die ander kant konstruktief moet bou aan ’n volhoubare toekoms vir Afrikaans en die taal se sprekers.

Terwyl AfriForum al op verskeie terreine geveg het vir Afrikaans, woed die felste aanslag teen Afrikaans op onderwysgebied. AfriForum het al miljoene rande spandeer om met sukses ter behoud van Afrikaanse skole te veg. Die owerheid poog egter om nou met die nuwe Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) om die aanslag op Afrikaanse skole en kinders te versnel. Dié wet se taal- en toelatingsbepalings gee aan ’n provinsiale onderwyshoof die finale besluit oor ’n skool se taal- en toelatingsbeleid. Die optrede en uitsprake van anti-Afrikaanse ideoloë soos Panyaza Lesufi, die huidige premier van Gauteng, en die Gautengse Onderwysdepartement toon duidelik dat die Bela-wet ’n daad van aggressie is wat gemik is op nie net Afrikaans nie, maar ook op Afrikaanssprekendes.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens my gesprek met hom in September vanjaar aangedui dat hy die taal- en toelatingsklousules van die Bela-wet weer tot die einde van 2024 vir gesprekvoering sal heropen. Dit is ’n positiewe stap, maar ons moenie naïef wees om te dink die stryd is naby aan wen nie. AfriForum gee prioriteitsaandag hieraan en werp alles in die stryd. Sou dit nie slaag nie, sal ons die Bela-wet enduit in die howe en selfs, indien nodig, internasionaal beveg.

Ons sal dit doen omdat Bela Afrikaanssprekende gemeenskappe in ’n stryd om oorlewing dompel. Afrikaanse skole speel ’n sleutelrol in Afrikaanse gemeenskappe om identiteit aan volgende geslagte oor te dra. Ons is dit aan ons kinders en ons kinders se kinders verskuldig om nooit toe te gee aan dié wat van Afrikaanssprekendes ontslae wil raak nie.

Om net te veg teen die owerheid vir die behoud van Afrikaans is nie genoeg om ’n volhoubare toekoms vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes te verseker nie. Daarom is dit veel belangriker dat ons self met ywer moet bou aan instellings en aksies waardeur ons selfstandig na Afrikaans en Afrikaanssprekendes se belange kan omsien.

AfriForum is aktief besig met die vestiging van instellings soos AfriForum Teater en AfriForumTV, asook die aanpak van talle projekte by Afrikaanse skole en kleuterskole. AfriForum werk ook aktief daaraan om Afrikaans onder ons mense in die buiteland lewend te hou deur AfriForum Wêreldwyd se betrokkenheid by die Afrikaans is Lekker-musiekkonserte waar top- Afrikaanse sangers oor die hele wêreld heen optree.

Ook binne die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum met trots deel is, word instellings geskep waardeur Afrikaans kan leef. Dit sluit onder meer in Maroela Media en onderriginstellings soos Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding, Solidariteit Helpende Hand se opleidingsinstituut en die nuwe privaat skool Gimnasium Pretoria.

Daar ís hoop vir Afrikaans, want ons bou self die toekoms daarvan met genade van Bo. So tussendeur die harde bouwerk is dit egter belangrik dat ons ook die taal en wie en wat ons is geniet, want Afrikaans is immers lekker!

Kaapse Forum, AfriForum se sustersorganisasie, het in Januarie 2024
tassies, gevul met broodnodige skryfbehoeftes, aan onder meer ’n
gemeenskaps- en nasorgsentrum in Morningstar, Durbanville, geskenk.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad