Afrikaans is lekker!

Deur Carina Bester

Die feesviering vir Afrikaans se 100ste verjaarsdag het reeds begin. Om ons geliefde taal te vier het Forum Tydskrif by ’n paar mense wat hoofsaaklik in Afrikaans werk gaan aanklop om te hoor waarom Afrikaans vir húlle lekker is.

Afrikaans is lekker, want … ons kan lekker kwinkslae uitdink en met woorde speel. Ons praat hard en lag hard en ons is trots daarop!

Gunsteling- Afrikaanse woord: “Boefkoets” is vir my die skeppendste beskrywing van ’n polisievangwa.

Gunsteling- Afrikaanse sêding: Ek sit nou so lekker. Ek staan sommer op en sit weer.

Gunsteling- Afrikaanse boek: Sjoe, dis die moeilikste vraag, want ek lees en koop boeke vandat ek baie klein is. My gunstelingkinderboeke is Die Uile van Cor Dirks, my gunstelingtienerliteratuur is dié van Louise Prinsloo (Gedaantes en Geraamtes-reeks) en die boek wat ek as volwassene gelees het wat my altyd sal bybly is In die laksman se skoot van Chris Marnewick.

Is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te werk? Ek sou nie sê dis vir my maak of breek om in Afrikaans te moet werk nie, maar as ’n mens so bederf kan wees, soos ek is, om by ’n Afrikaanse werksplek te kan werk, dan is alles net makliker en jy voel of jy meer produktief kan werk omdat jy uiteenlopende onderwerpe in jou moedertaal beter begryp. Jy dink in Afrikaans, skryf in Afrikaans en werk meestal met ander Afrikaanse mense. Soos ek sê, dis nie ’n móét nie, maar beslis ’n groot bederf.

Hoe sal jy wil hê moet Afrikaans bewaar en uitgeleef word? Die trots om Afrikaans te wees moet gevoed en onderhou word, want so lank as wat ons trots is op ons taal, gaan ons Afrikaans praat, suiwer uitsaai in Afrikaans, Afrikaanse musiek luister, Afrikaanse boeke koop en na Pretoria FM luister.

Afrikaans is lekker, want … niks kan ’n ding lekkerder beskryf as raakvat, lekkerpraat Afrikaans nie.

Gunsteling- Afrikaanse woord/sêding: Grieselgees (sinoniem vir “spook”)

Gunsteling- Afrikaanse boek: Asem deur Jan Vermeulen

Is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te werk? Dit is vir my van die allergrootste belang, want ek het die taal hartstogtelik lief en skryf my hele lewe lank in Afrikaans. Ek is dol daaroor om nuwe Afrikaanse woorde en gesegdes uit te dink, en dit maak die soepel taal nog beter.

Hoe sal jy wil hê moet Afrikaans bewaar en uitgeleef word? Ons moet aanhou om in Afrikaans te skryf en te praat, maar veral rolprente te maak en draaiboeke te skryf, want Afrikaanse films raak al minder en dit is ’n bekommernis. Hoe meer ons hom trots praat en skryf, hoe minder kans is daar dat hy onderdruk sal kan word.

Afrikaans is lekker, want … ons het woorde wat ons wêreldwyd herkenbaar maak vir mekaar, soos “lekker”!

Gunsteling- Afrikaanse woord/sêding: Die tieners in my huis se humorsin en nuwe uitdrukkings hou my op my tone. Die uitdrukking wat ek vanjaar by hulle geleer het is om “dik negatief” te wees. Dit beteken in tienertaal om kwaad of vies of moedeloos oor ’n situasie te wees. ’n Mens kan byvoorbeeld “dik negatief” wees as jy die yskas oopmaak en iemand het die laaste stukkie hoender geëet.

Gunsteling- Afrikaanse boek: Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee is een van die boeke wat ek weer en weer wil lees. Hoe dan anders met ’n openingsparagraaf soos dié: “Sy’t dae lank gesoebat dat hulle haar nie moet wegstuur Mauritius toe nie. Geskop en geskree, gesê die Kaap is waar sy gebore is, dis haar hele lewe. Maar hulle wou nie hoor nie. Of traak nie.”

Is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te werk? Ek kan mooi beleefd gesels in twee ander tale as Afrikaans, maar sodra emosies betrokke is, wil ek my sê in Afrikaans sê. En wie wil nou emosieloos deur die lewe gaan?

Hoe sal jy wil hê moet Afrikaans bewaar en uitgeleef word? Solank as wat ons ons kinders in Afrikaans liefhet, sal Afrikaans voortleef. ’n Mens vergeet nooit die taal waarin jy jou eerste kinderstories gehoor het nie.

Afrikaans is lekker, want ek kan my menswees ten volle uitleef daarin.

Gunsteling- Afrikaanse woord/sêding: ’n Taalkundige mag nie voorkeure hê nie.

Gunsteling- Afrikaanse boek? Fees van die ongenooides deur P.G. du Plessis

Is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te werk? Ja. As ’n beroep nie in ’n spesifieke taal beoefen kan word nie, beteken dit dat die taal se woordeskat nie tred hou met nuwe tegnologieë en ontwikkelings nie – die taal se leksikon word dus verouderd; dit dui ook daarop dat die taal nie ekonomiese waarde het nie. As daar ’n persepsie is dat ’n taal nie werklik ekonomiese waarde het nie, het dit ’n negatiewe uitwerking op die vraag na hoër en basiese onderwys in daardie taal. As ’n taal nie as taal van onderrig en leer aangewend word nie, word die taal verskraal tot slegs laer funksies, wat op sy beurt weer ’n uitwerking het op taaloordrag tussen generasies.

Hoe sal jy wil hê moet Afrikaans bewaar en uitgeleef word? Die taalgemeenskap moet bewus gemaak word daarvan dat elke spreker binne sy/haar konteks en gemeenskap die verantwoordelikheid op mikrovlak het om die taal te bewaar; dit gaan nie deur die owerhede gedoen word nie. Voorts behoort die taalgemeenskap saam te staan en organisasies te ondersteun wat op verskillende terreine hulself vir Afrikaans beywer. Laastens moet die taalgemeenskap hul regte, soos deur die Grondwet gestipuleer, opeis en besef dat dit moontlik is om sinvol in Afrikaans (in sinergie met ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika) te leef en te werk.

Afrikaans is lekker, want … dit is die taal waarin ek dink, droom en leef.

Gunsteling- Afrikaanse woord/sêding: Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Gunsteling- Afrikaanse boek/gedig: êrens is jy van Antjie Krog

Is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te werk? Dit is vir my uiters belangrik om in Afrikaans te kan werk aangesien dit die taal is waarin ek dink en kan ek sodoende my denke en gedagtes verwoord in die taal wat ek leef.

Hoe sal jy wil hê moet Afrikaans bewaar en uitgeleef word? Afrikaans word bewaar wanneer dit uitgeleef word. So lank as wat mense Afrikaans praat, skryf en leef sal die taal groei en behoue en vormend bly.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad