AfriForum-takke maak só: SUIDSTREEK

Kamiesberg: Die tak het ’n volhoubare projek van stapel gestuur om Kamieskroon en omliggende dorpe 24 uur per dag, sewe dae ’n week van drinkwater te voorsien met behulp van drie boorgatpompe wat AfriForum in die omgewing geïnstalleer het.

Kakamas: Die tak het ondersteuning gebied aan sekere gemeenskappe in Kakamas wat nie toegang tot drinkwater het nie deur ’n waterkar vir inwoners te reël.

Kathu: Taklede het die Hugenotemonument skoongemaak en die kruise wat langs die monument opgerig is, herstel.

Keimoes: Die Grootoog-buurtwag het water vir gemeenskapslede aangery in woonbuurte waar watertekorte voorgekom het.

Kuruman: Taklede het die beheerkamer se kameras herstel om te help met veiligheid in die dorp.

Springbok: Die tak het saam met die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit gewerk om die plaaslike vullisterrein weer op standaard te bring.

Upington: Taklede het die tak se eerste nommerplaatherkenningskamera by die kruising van die N10-N14-hoofroete geïnstalleer. Rhino Sekuriteit se beheerkamer gaan dié kamera in samewerking met AfriForum-hoofkantoor en die SAPD moniteer.

Williston: Die tak het deurlopend water-, krag- en rioolprobleme aan die Karoo Hoogland Plaaslike Munisipaliteit se inbelsentrum deurgegee sodat herstelwerk kan plaasvind.

AfriForum se Williston-tak het groente en vrugte aan die Emmanuel- en ACVV Amandelhof-tehuise op Williston geskenk.

De Aar, Hanover en Britstown (nie tans ’n aktiewe tak nie): Danksy AfriForum se volgehoue druk op die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit is nege nuwe boorgatpompe onlangs aangekoop om die watervolume in dié gemeenskappe te verhoog.

Bo-Karoo: Die buurtwag het deurlopend patrollies gery om hul gemeenskap te beveilig. 

Delportshoop: Die tak het kameras aangekoop wat daartoe sal bydra om die dorp en sy inwoners te beveilig. 

Douglas: Die tak het deurlopend water-, krag- en rioolprobleme aan die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit se inbelsentrum deurgegee sodat herstelwerk kan plaasvind.

Griekwastad: AfriForum het watertoetse by ’n geakkrediteerde laboratorium laat doen om die gehalte van die dorp se drinkwater te bepaal. 

Kimberley: Die tak het gereeld verskillende woonbuurte in die stad skoongemaak. 

Prieska: Die tak het ligte en groente aan die plaaslike ouetehuis geskenk. 

Vaalharts: Die tak het koeldrank en water aan die plaaslike polisiestasie geskenk. 

Elliot: Die buurtwag het deurlopend patrollies gery om hul gemeenskap te beveilig.

Cradock: Die tak se noodwatertenks is deur gemeenskapslede benut tydens wateronderbrekings op die dorp.

Gamtoosvallei: Die Kirkwood-buurtwag ontvang binnekort nuwe radio’s.

Jeffreysbaai: Taklede en bestuurslede van AfriForum-hoofkantoor het met die Kouga Plaaslike Munisipaliteit vergader oor die uitdagings wat bestaan met betrekking tot die dorp se wateraanlegte en hoe AfriForum hulle hierin kan ondersteun.

Oos-Londen: Die tak het met die Eco Scorpions vergader om ’n buurtwag op die been te bring.

Port Elizabeth: Die Winterberg-plaaswag en Walker Drive-buurtwag het saamgewerk om ’n gesteelde vragmotor op te spoor, asook om die wegkommotor se bestuurder in hegtenis te neem. Hulle is ondersteun deur die Walker Drive-buurtwag se hommeltuigvlieënier.

Lede van AfriForum se Winterberg-plaaswag en
Walker Drive-buurtwag saam met die SAPD.

Uitenhage: Die tak het ’n gemeenskapsvergadering in Rocklands bygewoon om meer te verduidelik oor hoe AfriForum se buurtwagte funksioneer, asook hoe AfriForum beplan om die gemeenskap te beveilig.

De Doorns: Buurtwaglede het die SAPD tydens ’n veiligheidsoperasie ondersteun deur hul hommeltuig in te span.

Helderbergkom: Die tak en die plaaslike brandweerdiens het die Laerskool Gordonsbaai besoek en leerders meer vertel oor brandbewustheid en -veiligheid.

Leerders aan die Laerskool Gordonsbaai
leer hoe om met die brandslang te werk.

Overstrand: Alfa-buurtwaglede het die SAPD en wetstoepassingsowerhede gehelp met die bekamping van misdaad en die vastrek van onwettige stropers deur die beskikbaarstelling van hul hommeltuig.

Paarl: Die tak het ’n gratis werkswinkel oor selfverdediging aangebied wat deur sowel AfriForum-lede as lede van die publiek bygewoon is.

Stellenbosch: Die tak het aanhoudend druk op die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit uitgeoefen rakende waterbesoedeling in die omgewing en het ook uiteindelik terugvoer ontvang op die interne appèl wat vroeër vanjaar ingedien is.

Strand: Lede van die buurtwag het aan die protospanopleiding deelgeneem en vlak 2-opleiding voltooi.

AfriForum-lede ontvang protospanopleiding.

Worcester: Die buurtwag het deurlopend patrollies gery om hul gemeenskap te beveilig.

George: Die tak se jeugvleuel het ’n inligtingsessie oor slange gehou en interessante feite oor slange gedeel.

Hessekwa: Taklede het gehelp om ’n brand by die plaaslike vullisterrein te bestry.

Kannaland: Die plaaswag het deurlopend patrollies gery om hul gemeenskap te beveilig.

Knysna: Die tak het sowel ’n buurtwagleier- as ’n operasionelespanleierkursus vir sy lede aangebied.

AfriForum se Knysna-tak het die tweede fase van die opknapping van die veiligheidsreëling langs die N2 buite Knysna afgehandel. ’n Totaal van 335 meter van die reëling is teen ’n koste van nagenoeg R9 000 in hierdie fase herstel.

Mosselbaai: Die tak se jeugvleuel het ’n inligtingsdag oor wapenveiligheid en -bewustheid gehou.

Oudtshoorn: Taklede het bome gesnoei en strate skoongemaak.

Swellendam: Die buurtwag het in samewerking met die SAPD aan ’n massapatrollie in Barrydale deelgeneem.

Durbanville: Die tak het ’n heining om die Klein Phisantekraal Preprimêre Skool opgerig om leerders van dié skool te beveilig.

Kaapstad-Noord: Die Philippi-plaaswag het deurlopend patrollies gery en die SAPD tydens ’n operasie ondersteun. Plaaswaglede het die SAPD veral gehelp om bendegeweld te bekamp.

Kraaifontein: Taklede het aan ’n opknappingsprojek deelgeneem waartydens hulle parke skoongemaak het deur die gras te sny en vullis op te tel. Dit sluit die nuwe parke langs die Van Riebeeck-hoofingang in.

Malmesbury: Die buurtwag het sy hommeltuig aangewend om hulp te verleen aan die SAPD en ander statutêre magte tydens ’n optog in die dorp; die betogers was ontevrede oor sekere dienste in die dorp.

Matzikama: Die tak het sy lede gestuur vir protospan- en spanleiersopleiding.

Weskus: Taklede het gehelp om die poskantoor se lugversorgers te diens, terwyl hulle ook fondse ingesamel het vir ’n nuwe lugversorger.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad