Deur Marthinus Koekemoer
Die Tshwane-metro het tydens ’n raadsvergadering in Mei 2025 die instelling van ’n nuwe heffing – wat dié metro jaarliks nagenoeg R540 miljoen in die sak sou bring – goedgekeur. Daar is bepaal dat dié sogenaamde stadreinigingsheffing ingestel sou word op eiendomme wat nie tans van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie. AfriForum het egter met ’n suksesvolle hofsaak ’n stokkie voor dié twyfelagtige plan gesteek.
Dubbele belasting lol
Volgens die Tshwane-metro is die omstrede heffing ingestel om huishoudings, komplekse en ondernemings wat nie van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie, te kry om ’n bydrae te maak om die stad skoon te hou. Die stad se gebrekkige dienste het egter talle eienaars gedwing om van alternatiewe vullisverwyderingsdienste gebruik te maak.

Aangesien ’n diens wat nie inkomste genereer nie – soos ’n reinigingsheffing – gewoonlik deur eiendomsbelasting gefinansier word, het AfriForum uit die staanspoor van sy veldtog teen die heffing benadruk dat die implementering van hierdie heffing op dubbele belasting neerkom.
“Die stad het die heffing as deel van die begrotingsproses ingestel en dit het die eerste keer in Julie op rekeninge verskyn. Die Tshwane-metro het gesê die heffing is nodig om die stad skoon te hou, maar soos AfriForum in die hof bewys het, het dit eintlik niks daarmee te doen gehad nie. Die ekstra fondse wat sou inkom sou bloot die begroting befonds het, wat op sy beurt politieke punte vir sekere raadslede sou wen,” verduidelik Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum vs. Tshwane-metro
AfriForum het die hof in Junie 2025 genader om die implementering van die heffing te keer. Die saak is in Julie aangehoor en op 31 Julie het die Hooggeregshof in Pretoria in AfriForum se guns beslis en die implementering van die heffing onwettig en ongeldig verklaar.
Die metro was egter nie gereed om dié besluit gelate te aanvaar nie en het aansoek om verlof tot appèl ingedien, maar dié aansoek is ’n maand later van die hand gewys. Waarnemende regter George Avvakoumides het hul aansoek afgemaak as “ondeund”, “sonder meriete” en ’n aansoek wat “die beginsel van geregtigheid vermy”. ’n Tweede bestrawwende kostebevel is teen die metro opgelê.
Tshwane-metro bly steeks
Nagenoeg 250 000 inwoners en ondernemings sou elke maand R194,37 (BTW uitgesluit) moes opdok vir dié heffing wat tot ’n jaarlikse inkomste van nagenoeg R540 miljoen vir die metro sou lei. Die heffing is – voor die hofuitspraak in die saak gelewer is – wel in Julie op sommige eienaars se munisipale rekeninge gehef, maar ná die metro se aansoek om verlof tot appèl geweier is, het die hof beveel dat die onregmatige aftrekking gekrediteer moes word.
’n Maand later het die metro bloot die hofuitspraak geïgnoreer en weer die heffing op sommige munisipale rekeninge gehef. Selfs die bedrag wat na aanleiding van die hofbevel op rekeninge gekrediteer is, is teruggeskryf met die verwagting dat inwoners weer vir die heffing sou moes opdok.
Talle inwoners van die metro het hul misnoeë op sosiale media te kenne gegee. Herman Pienaar meen: “Pretoria lyk soos ’n varkhok, maar nou wil hulle hê ons moet ekstra betaal?” Nog ’n inwoner, Christa Potgieter, het geskryf: “Die ANC dink heffings en wette is toorstokkies waarmee hulle massas geld in die sak kan steek.”
“Dit is vir ons uit en uit ’n beginselsaak. AfriForum glo belastingbetalers is die ruggraat van die meeste samelewings en plekke soos stede. Regerings soos dié wat in die Tshwane-metro aan bewind is, buit eenvoudig belastingbetalers uit. As ons onregmatige en onwettige belastings soos dié teëkom, sal ons dit takel en dit is hoekom ons hof toe is,” verduidelik Roodt.
Hy benadruk dat AfriForum ook stappe gaan doen teen die amptenare wat belastingbetalers se geld mors met merietelose hofsake. “Hulle moet in hul persoonlike hoedanigheid vir dié kostes aanspreeklik gehou word. Die Tshwane-metro moet eerder wanadministrasie uit die weg ruim as hulle hul finansies in orde wil kry en nie net nóg meer geld uit die metro se belastingbetalers probeer tap nie. Talle hooggeplaaste metro-amptenare skuld die metro miljoene – die metro kan veel eerder plan maak om toe te sien dat dié skuld vereffen word,” sluit Roodt af.
Metro nader Appèlhof
Die Tshwane-metro was teen September stééds nie gereed om die stryd in dié sage gewonne te gee nie en het teen die Hooggeregshof se uitspraak gepetisioneer. Die petisie is op 22 September by die Hoogste Hof van Appèl beteken. Dié stap het noodwendig tot die opskorting van die aanvanklike hofbevel gelei.
In ’n poging om die afdwing van die bevel in die tussentyd te verseker het AfriForum egter in Oktober ’n artikel 18(3)-aansoek by die Hooggeregshof in Pretoria geliasseer. Indien dié aansoek slaag sal AfriForum kan toesien dat die toepassing van die heffing opgeskort word terwyl die appèl nog hangend is.
* Die aansoek was teen druktyd nog nie aangehoor nie.