Deur Ilze Nieuwoudt
AfriForum se 177 buurt-, plot- en plaaswagte is waarskynlik een van die beste voorbeelde van gemeenskappe wat sélf inspring, sélf doen en sélf ’n daadwerklike verskil in die veiligheid van hul dorpe, woonbuurte, kleinhoewes en plaasgemeenskappe maak. Nagenoeg 11 000 buurtwaglede werk boonop aktief aan die beveiliging van dorpe vanaf die verre noorde van die land tot in Kaapstad en vanaf die KwaZulu-Natalse ooskus tot by die Weskus. Hierdie buurtwagte is tydens AfriForum se nasionale kongres in Augustus bedank vir hul ywer en dapperheid en die room van buurtwagte is vereer vir die uitsonderlike werk wat hulle dag na dag vreesloos verrig.
Buurtwagte is streeksgewys in drie afsonderlike kategorieë vereer vir hul werk. In die kategorie van beste opkomende AfriForum-buurtwag het die Winterberg-plaaswag buite Kariega (Uitenhage), die Sasolburg-buurtwag en die Beska Palala-plaaswag buite Lephalale (Ellisras) koning gekraai in onderskeidelik die suid-, sentraal- en noordstreek.
Die Walker Drive-buurtwag in Gqeberha (Port Elizabeth) is as naasbeste buurtwag in die suidstreek aangewys, terwyl die Wilgehof-buurtwag in Bloemfontein in die sentrale deel van die land en die Delmas-buurtwag in die noordelike streek as die naasbeste buurtwagte in hul onderskeie streke aangewys is.
Lees meer oor die voorste buurtwagte in elke streek hier, hier en hier.