Dienslewering in Suid-Afrika het ’n ongekende laagtepunt bereik. Verskeie dorpe loop gereeld deur onder kragonderbrekings, slaggate en dies meer, maar dit is wateronderbrekings wat een van die ernstigste probleme geword het. Verskeie dorpe, insluitend Parys en Bethal, is gereeld in die nuus oor die waterprobleme wat inwoners hier ondervind. AfriForum het reeds vyf jaar gelede besef dat die waterprobleem in die land net sal vererger en het daarom begin om met ’n reeks noodwaterpunte verligting te bring.
AfriForum het in 2019 by die Laerskool Pierneef in Pretoria die eerste van hierdie waterpunte opgerig. Daar is jaarliks landwyd, met die uitsondering van die Wes-Kaap, nóg noodwaterpunte aangebring met die totaal wat tans op nagenoeg 70 punte staan. Die kapasiteit van hierdie waterpunte wissel van 500 liter tot 100 000 liter. Die totale kapasiteit landwyd is tans nagenoeg 650 000 liter.
“Die noodwaterpunte word op verskillende maniere van water verskaf. Sommige word met munisipale water volgemaak, ander uit boorgate en daar is selfs boere wat op hul eie onkoste water van hul plase af na die waterpunte aanry,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
“Gebruikers kan die water as gebruikswater aanwend. Die water kan byvoorbeeld aangewend word om in te bad of om wasgoed mee te was. As iemand dit sou wou drink moet dit eers gekook word,” verduidelik De Vaal.
’n Fokusarea vir AfriForum is om die kapasiteit van noodwaterpunte in 2024 verder uit te brei. Die mikpunt is om ten minste 15 addisionele waterpunte in 2024 op te rig, maar takke word aangemoedig om te kyk of hulle selfs meer kan doen.
Volgens De Vaal befonds AfriForum-takke self die noodwaterpunte in hul omgewing. “Die gemeenskap is egter welkom om ons te kontak as hulle ’n behoefte aan ’n noodwaterpunt het.”
’n Geskikte en veilige terrein is noodsaaklik vir die oprigting van ’n waterpunt. AfriForum-waterpunte is al by onder meer skole, kerke en selfs op privaat plase opgerig. Indien die waterpunt naby ’n waterbron opgerig kan word, sal dit ook voordelig wees.
“Die gemeenskap kan hul plaaslike AfriForum-tak kontak as hulle die moontlikheid van ’n noodwaterpunt wil bespreek. Indien daar dan ’n geskikte terrein en fondse by die plaaslike tak beskikbaar is, kan ’n ooreenkoms daarvoor aangegaan word. Indien die tak nie die nodige fondse het nie kan daar van hoofkantoor se kant af gekyk word of fondse op nasionale vlak beskikbaar gestel kan word vir die oprigting van die waterpunt,” sluit De Vaal af.
Fotobyskrif: Die AfriForum-noodwaterpunt op Bethal bring verligting vir inwoners.