Deur Marthinus Koekemoer
Slaggate is ’n algemene verskynsel op Suid-Afrikaanse paaie en dit is dikwels veral kleiner dorpe wat die swaarste onder dié verval deurloop. Ry in die hoofstraat van enige klein dorpie en na alle waarskynlikheid is dié straat deurspek met slaggate. Dít is egter nie in Lichtenburg die geval nie, want hier het die plaaslike AfriForum-tak die afgelope paar jaar reeds hard gewerk en die hele hoofstraat se slaggate opgevul.
Dié omvangryke werk het intussen aan AfriForum se Lichtenburg-tak die gesogte toekenning van bouprojek van die jaar besorg tydens die burgerregteorganisasie se nasionale kongres wat in Augustus gehou is. Die tak het oor die afgelope drie jaar meer as 445 ton teer vir herstelwerk aan slaggate in dié dorp aangewend.
AfriForum het in Julie vanjaar sy #VulDieGat-projek aangepak waartydens takke oor die hele land heen vir die duur van die maand slaggate opgevul het. Op Lichtenburg is 29 ton teer gebruik om slaggate op te vul. Die tak is só doenig met slaggate dat ’n span werkers daagliks daarmee besig is. Pine Pienaar is die projekleier van hierdie deurlopende teerprojek en staan aan die stuur van dié span se daaglikse bedrywighede.
“Mense nomineer ’n straat en maak ’n inbetaling. Wanneer daar genoeg geld is om die straat te herstel, word ek gebel en ons beplan en spring aan die werk. Ek het vier manne in my span en hulle is uithalermanne wat baie hard werk. Ek dink Lichtenburg is een van die min dorpe in Noordwes wat nie ’n enkele slaggat in die hoofstraat het nie en dit is te danke aan AfriForum,” sê Pienaar.
Die Lichtenburg-teerprojek het ook al skenkings van meer as R500 000 van die publiek ontvang waarmee hulle talle slaggate opgevul het. Voorts het die landbou-onderneming NWK ook hul steun aan die projek gegee en verskeie masjinerie, insluitend ’n roller en snymasjien, beskikbaar gemaak vir die projek.
“Daar is baie terreine waar die munisipaliteit tekortskiet en as ons nie inspring om self iets te doen nie, gaan ons dorpe net verder agteruitgaan. Slaggate is net een van die volhoubare projekte waarmee AfriForum se Lichtenburg-tak tans besig is. Ons verf padmerkers waar nodig en het ook al padtekens vervang. Ek is ongelooflik trots op die harde werk wat hierdie tak daagliks insit om van hul dorp ’n spogdorp te maak. Hulle harde werk is ’n teken van hul liefde en trots vir hul dorp,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
Pienaar beskou die toekenning van bouprojek van die jaar as ’n groot eer. “Ek het nog nooit die werk wat ons doen ligtelik opgeneem nie, maar om as wenners van dié kategorie aangewys te word, is ’n ongelooflike groot eer. Die doel is of was nooit om iets daarvoor te kry nie, want ons doen dit vir die liefde van die saak. Daarom is hierdie toekenning net nog meer spesiaal.”
Volgens Pienaar gaan die tak beslis nie nou slap lê nie “want nou is alle oë op hulle”.
AfriForum maak só kuier op Lichtenburg
Ontmoet die span agter die suksesvolle Lichtenburg-teerprojek. Klik hier en kuier saam met AfriForum se nuusprogram AfriForum maak só op Lichtenburg – die plek waar geen slaggat ’n kat se kans teen die plaaslike AfriForum-tak staan nie.