AfriForum plant bome vir Afrika

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se takke oor die land heen het weer oudergewoonte in September aan boomplantmaand deelgeneem. Takke het orals ingespring en bome is by skole, aftreeoorde, in parke en ander openbare ruimtes geplant.

“Ons doel vir die jaar is om 1 000 bome aan te plant. Dit kom daarop neer dat daar in elkeen van AfriForum se 20 streke 50 bome geplant moet word. Vanjaar se boom van die jaar is die kareeboom en dit is die boom wat meestal as deel van vanjaar se projek aangeplant is, maar verskeie ander soorte is ook op sekere plekke verkies. Spekbome, doringbome en selfs vyebome is vanjaar by van ons takke geplant,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Boomplanters in Bronkhorstspruit, v.l.n.r.: Johann Botha (taktesourier), Lambert de Klerk (bestuurder van Omgewingsake by AfriForum), Sampie Steinberg (hoof van Gemeenskapstrukture vir die noordstreek) en Charles Hall (buurtwaglid). Voor v.l.n.r.: Danielle Coetzee (taklid), Magda Lewis (takvoorsitter), Marais de Vaal (omgewingsraadgewer by AfriForum) en Dries Fella (buurtwaglid).

Elke AfriForum-tak kies self waar hulle bome wil plant en watter soort bome vir hul omgewing geskik sal wees. De Vaal sê ’n boom wat goed in sy omgewing aard het bitter min aandag nodig om te floreer. Hy sê ook inheemse bome moet liefs geplant word en skadelike indringerplante moet vermy of selfs verwyder word.

Só pak AfriForum omgewingsbewaring

AfriForum is by verskeie aktiwiteite betrokke wat daarop gemik is om die omgewing te bewaar. Jaarlikse toetsing van drink- en rioolwater word landwyd gedoen in dorpe en stede waar AfriForum-takke aktief is. Die bevindinge en uitslae hiervan word in AfriForum se blou-en-groendruppelverslag vervat en bied ’n oorsig oor die gehalte van drink- en rioolwater in Suid-Afrika. ’n Soortgelyke verslag word ook jaarliks oor vullisterreine opgestel waarin punte vir die onderskeie vullisterreine in die land toegeken word om te bepaal of dié terreine op pyl is. AfriForum verskaf ook vullisverwyderingsdienste op sekere dorpe en plaas, soos nodig, druk op munisipaliteite en staatsamptenare om hul verpligtinge na te kom om byvoorbeeld besoedeling te beperk.

“Volgende jaar sal takke steeds vrywillig aan boomplantmaand se aktiwiteite kan deelneem, maar ons gaan ook fokus op die toenemende waterkrisis in die land. Watervoorsiening en rioolsuiwering is veral belangrik en ons beplan om aanstaande jaar nóg noodwaterpunte by sleutelpunte op te rig. Ons wil ook ons vullisverwyderingsdienste verder uitbrei,” sê De Vaal.

Die eindelose voordele van bome

Bome hou talle voordele vir mens en die omgewing in. Dit suiwer die lug en grond, verskaf suurstof, beperk gronderosie, dien as voedselbronne én bied huisvesting vir allerlei fauna en flora. Bome kan ook eiendomswaarde verhoog, skaduwee verskaf en as windskerms dien.

AfriForum-hoofkantoor en die Bronkhorstspruit-tak het in September aan boomplantmaand deelgeneem.

Die basiese stappe om ’n boom te plant behels die volgende:

1. Grawe ’n gat van omtrent ’n halwe meter diep en wyd.

2. Vul die gat omtrent halfpad met kunsmis.

3. Verwyder die plastiek om die boom se basis.

4. Maak die wortels effens los voor die boom in die gat geplant word.

5. Vul die gat met grond.

6. Steek ’n stok langs die boom in waaraan sy stam geanker kan word.

7. Gee die boom vir die eerste twee jaar minstens twee emmers water per week.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad