AfriForum kondig vierpuntwaterplan aan om waterkrisis in die land te pak

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum het in September ’n vierpuntaksieplan aangekondig om die dreigende waterkrisis in die land te pak. Waterinfrastruktuur is al jare verwaarloos en werk óf glad nie óf is in ander gevalle op hul laaste bene en hou ’n ernstige bedreiging vir watervoorsiening in.

“Dis tyd om dringend op te tree en geld alleen gaan nie die land se waterprobleme oplos nie. AfriForum het dus ’n vierpuntplan aangekondig om die impak van die dreigende krisis te beperk en watervoorsiening in Suid-Afrika weer te herstel,” verduidelik Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Die vierpuntaksieplan behels die volgende:

  1. Verbetering van plaaslike bestuur en aanspreeklikheid.
  2. Implementering van opleidingsinisiatiewe en aanstelling van gekwalifiseerde personeel vir water- en rioolaanlegte.
  3. Deurlopende monitering en toetsing van watergehalte om te verseker dat dit aan gesondheidstandaarde voldoen.
  4. Verhoogde samewerking tussen die regering, gemeenskappe en die privaat sektor.

Volgens De Vaal is swak samewerking tussen die verskillende vlakke van regering een van die grootste uitdagings in die waterkrisis.

“Die regering is veronderstel om op plaaslike en nasionale vlak saam te werk om te verseker dat watervoorsiening en sanitasie doeltreffend geskied, maar in praktyk gebeur dit nie. AfriForum se jaarlikse blou-en-groendruppelverslag wys dié probleme op grondvlak uit,” sê De Vaal.

“Gebrek aan instandhouding van infrastruktuur is een van die grootste probleme. Infrastruktuur het tot so ’n mate agteruitgegaan dat nagenoeg 50% van alle behandelde drinkwater deur lekkasies in die verspreidingsnetwerke verlore gaan. Munisipaliteite se invorderingstelsels is ook gebrekkig, wat beteken dat munisipale rekeninge nie betaal word nie. Die gevolg is dat munisipaliteite nie die nodige fondse het om infrastruktuur behoorlik te onderhou nie.”

Watertrokke is al in woonbuurte ontplooi om water te voorsien, maar dit is baie duur en dus nie volhoubaar nie. Daar is ook grootskaalse opgraderings by die Rooiwal-rioolaanleg net buite Pretoria onderweg, maar De Vaal meen teen die tyd dat die aanleg voltooi is, gaan dit bloot ’n pleister op die probleem plak aangesien dié rioolwerke reeds sukkel om die toenemende volume riool te prosesseer.

Die Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB), oftewel die Brics-bank, het in September vanjaar ’n $1 miljard-lening aan die Suid-Afrikaanse regering toegestaan wat bedoel is om die konstruksie van water- en sanitasie-infrastruktuur op munisipale vlak te finansier. AfriForum meen die toestaan van die lening was egter ’n groot fout.

“Ons erken die noodsaaklikheid van finansiële ondersteuning vir waterinfrastruktuur, maar huidige munisipale vermoëns, doeltreffende bestuur en aanspreeklikheid ontbreek, wat waarskynlik sal beteken dat geld uit dié lening bloot in ’n eindelose put gestort gaan word sonder enige werklike verbetering in die waterkrisis. Werkbare oplossings soos AfriForum se vierpuntplan is daarom nou noodsaaklik,” sluit De Vaal af.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad