Deur Marthinus Koekemoer │Foto’s: Reint Dykema, Marthinus Koekemoer en verskaf
Eskom se aankondiging dat huishoudings en ondernemings met sonkragstelsels wat aan Eskom se kragnetwerk gekoppel is, hul stelsels by die nutsmaatskappy moet registreer, het die afgelope paar maande grootskaalse onsekerheid onder eienaars van sonkragstelsels veroorsaak. AfriForum het verbruikers egter gemaan om nie té oorhaastig te wees met die registrasie van hul stelsels nie aangesien daar in dié stadium nog nie genoegsame reëls is waarvolgens Eskom hierdie registrasie kan afdwing nie.
AfriForum eis antwoorde
AfriForum het reeds in Februarie 2025 ’n skrywe aan Eskom gerig om duidelikheid te kry oor die wetlike en regulatoriese raamwerk waarop die kragvoorsiener steun om die verpligte registrasie van kleinskaalse ingebedde kragopwekking (SSEG, in Engels bekend as small-scale embedded generation), wat minder as 100 kW opwek, af te dwing. Nadat geen reaksie ontvang is nie, het AfriForum ’n tweede skrywe en uiteindelik ’n prokureursbrief aan Eskom gerig, wat hom tot antwoord gedwing het.
Eskom het wel op laasgenoemde gereageer, maar die inligting wat hulle verskaf het was steeds onvoldoende. Hul antwoord het geen melding gemaak van spesifieke wetgewing of regulasies waarop hulle kan steun om die registrasies af te dwing nie.
Eskom se buitensporige voorskrifte nou heroorweeg
Luidens Eskom se oorspronklike voorskrifte moet ’n ingenieur ’n SSEG-stelsel as deel van die registrasieproses afteken. Die kragvoorsiener het intussen teen die einde van Augustus 2025 aangekondig dat hulle ’n versoek aan die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) gerig het om ’n regulatoriese aanpassing te maak wat die aftekening van so ’n stelsel deur ’n elektrisiën sal toelaat. Alhoewel Eskom verbruikers die kans gee om die registrasie van sonkragstelsels tot Maart 2026 gratis te doen, en in die proses ook ’n gratis slimmeter te bekom, sal die koste om sertifisering by ’n ingenieur te kry ’n verbruiker soveel as R20 000 uit die sak jaag.

Eskom se versoek aan die SABS bevestig, volgens Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, presies wat dié organisasie al maande lank sê, naamlik dat Eskom se huidige vereistes nie op ’n behoorlike wetlike óf regulatoriese grondslag berus nie. “Die feit dat Eskom hierdie kwessie heroorweeg is ’n stap in die regte rigting en ’n duidelike bewys dat druk van gemeenskapsorganisasies soos AfriForum tot verandering lei,” verduidelik Steffens.
Sy noem dat ingenieurs wat volgens Eskom op SSEG-stelsels moet afteken by die Ingenieursraad van Suid-Afrika geregistreer moet wees en dat daar net ’n handjievol van hulle in die land is. Dit sal dus ’n onbegonne taak wees vir dié ingenieurs om by elke verbruiker met ’n SSEG-stelsel uit te kom en elkeen af te teken sonder om ’n reusebottelnek te skep wat die proses net verder sal uitrek.
“Eskom het al baie keer gesê een van die redes vir die registrasies is om te verseker dat die stelsels veilig is en om toe te sien dat die veiligheid van die hele netwerk in stand gehou word. Daar is waarde aan wat hulle sê, maar dié argument is eerder van belang by groter aanlegte van meer as 100 kW. ’n Voorbeeld hiervan is ’n groot sonplaas wat krag aan Eskom verkoop. Dit maak egter nie sin vir ’n kleiner stelsel waar ’n boer byvoorbeeld net krag vir sy eie huis opwek nie,” sê Steffens.
Slimmeters dalk nie so slim nie
AfriForum hou intussen vol dat die gebruik van slimmeters boonop nie noodwendig ’n noemenswaardige voordeel vir verbruikers met kleiner sonkrageenhede inhou nie. Die slimmeters wat Eskom aan verbruikers gee, werk in beide rigtings – met ander woorde die meter meet die stroom wat van die netwerk na die verbruiker vloei, maar ook die stroom wat die verbruiker in die netwerk in terugstoot. ’n Verbruiker wat ’n groot SSEG-stelsel het kan in teorie krag in die netwerk terugstoot waarvoor hy of sy gekrediteer word. Iemand wat egter ’n kleiner stelsel het sal in alle waarskynlikheid te min krag opwek om in die netwerk terug te stoot en sal nie juis voordeel uit die slimmeter kan put nie.
Registrasie by die munisipaliteit

Mits ’n betrokke munisipaliteit die regte verordeninge het om dit te fasiliteer, moet verbruikers met ’n SSEG-stelsel wat hul krag by ’n munisipaliteit koop egter wel by hul munisipaliteit registreer, verduidelik Steffens. Iemand met ’n SSEG-stelsel wat meer as 100 kW opwek en aan die kragnetwerk gekoppel is, moet volgens huidige wetgewing en regulasies by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) registreer, maar nie by Eskom nie.
Registrasies en die wet
Morné Mostert, hoof van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dié burgerregtewaghond het toe Eskom die eerste keer moontlike registrasie van SSEG-stelsels geopper het, navorsing gedoen om te bepaal of daar wel wetgewing is wat dié registrasies afdwingbaar maak.
“Ons kon niks spesifiek vind wat Eskom die reg gee om hierdie registrasies op verbruikers af te dwing nie,” verduidelik hy. “Dit is hoekom ons aan hulle geskryf het om uitklaring oor die aankondiging te kry. Ná ’n paar versoeke het hulle wel geantwoord en die regulasies voorgelê wat hulle meen aan hulle die reg gee om registrasie af te dwing. Selfs nadat ons al hierdie regulasies deurgewerk het, was ons steeds oortuig dat Eskom nie by magte is om dié registrasie van verbruikers te verwag nie.”
Verbruikers wat nie aan Eskom se versoek gehoor gee nie kan volgens Mostert ook nie beboet word nie. Hy vermoed Eskom se veldtog het eintlik met iets anders te make.
“Nersa kan aanvoer dat hulle inligting oor kragopwekkingsvermoë van ’n wye spektrum verskaffers nodig het in die belang van ’n doeltreffende stelsel en om ’n geheelbeeld te kry van kragopwekking en die verskillende maniere waarop dit gedoen word. Eskom wil dalk hul hande op daardie data kry vir tariefdoeleindes in die toekoms. Ons moet probeer verhoed dat Eskom dit wel kan doen,” verduidelik Mostert.
“Ons sal aanhou om ons waghondfunksie te vervul en as ons sien dat daar groot gebreke is met hoe enige van hierdie staatsdepartemente, insluitend Eskom, optree teen die regte van verbruikers, sal ons nie skroom om toe te tree en seker te maak dat daar regverdigheid is in hierdie soort prosesse nie en dat rasionele besluite geneem word,” sluit Mostert af.
* Teen druktyd was daar nog nie uitsluitsel in dié saak nie. Hou AfriForum se sosialemediaplatforms en webtuiste dop vir die jongste inligting rakende sonkragstelselregistrasies.