AfriForum het in April ’n denkbeeldige begrafnis vir dienslewering in Parys gehou. Dít volg in reaksie op die swak dienslewering waaronder dié dorp en verskeie ander in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit deurloop.
“Ek werk al sedert 2019 in hierdie streek en van die begin af was daar groot probleme in Parys. Ons het al drie dringende hofsake gebring om die probleme te probeer pak, maar in elke geval het die hof beslis dat die saak nie dringend is nie. As daar gehoor gegee was, het die dorp dalk darem al teen hierdie tyd skoon water gehad,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die munisipaliteit het hom boonop doof gehou vir verskeie versoeke om aandag aan die probleme op die dorp te gee. AfriForum en Save Ngwathe, ’n plaaslike drukgroep, het dus besluit om ’n denkbeeldige begrafnis, met ’n kis en al, vir dienslewering voor die munisipale kantoor in Parys te hou. Verskeie besorgde inwoners het ook vir die geleentheid opgedaag, maar steeds was daar nie ’n verteenwoordiger van die munisipaliteit wat AfriForum of Save Ngwathe te woord gestaan het nie.
“Ons het nog verlede jaar gereeld vergaderings met die munisipaliteit gehad om na oplossings vir die dorp se probleme te soek, maar sy verteenwoordiger het later net nie meer vir die vergaderings opgedaag nie. Ons het aangebied om hulle te help om ’n klagtebank op die been te bring, maar ná hulle aanvanklik te vinde was vir die idee, het daar ook niks van gekom nie,” sê Karien du Plessis Viljoen, verteenwoordiger van Save Ngwathe.
Intussen moet inwoners van Parys soms vir dae of selfs weke op ’n slag sonder elektrisiteit of water in hul krane oor die weg kom. Dié probleme is volgens Pretorius ook net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei.
“Wat die kragnetwerk betref, is onderhoudswerk net nie gedoen nie. Daar is vandalisme en diefstal, onwettige aansluitings en reuseskuld aan Eskom wat ernstige probleme veroorsaak. As daar nie elektrisiteit is nie, kan water nie gepomp word nie en kort voor lank dan is die krane ook droog. Waterinfrastruktuur word ook nie behoorlik onderhou nie en die watersuiweringsaanleg is in ’n haglike toestand,” sê Pretorius.
Die munisipaliteit se onvermoë om veilige drinkwater aan die nagenoeg 50 000 inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville te lewer, het sedertdien die situasie op dié Vrystaatse dorp laat oorkook.
Sowel AfriForum as die gemeenskapsorganisasies Save Ngwathe en Metsi Pompong, asook ontstoke gemeenskapslede van Parys, Tumahole en Schonkenville het daarom in Mei na die munisipale kantoor in Parys opgeruk. ’n Ingenieursverslag wat in opdrag van AfriForum oor die toestand van die watersuiweringsaanleg saamgestel is, is hiertydens aan dr. F.P. Mothamaha, die munisipale bestuurder, oorhandig. Dié verslag toon dat water wat net gedeeltelik behandel is, uit die krane in Parys vloei. Daarbenewens toon die verslag dat uiteenlopende basiese instandhoudingswerk nie op die aanleg gedoen word nie, dat die aanleg swak bestuur word en dat nuwe infrastruktuur wat geïnstalleer is, reeds foutief is.
Dié druk het nou vrugte afgewerp en die munisipaliteit het na afloop van ’n vergadering ingestem om saam met AfriForum en die ander betrokke organisasies te werk en op die lewering van veilige drinkwater aan die inwoners as ’n saak van dringendheid te fokus.
“Die uitkoms van dié vergadering is ’n wen in die belang van die Parys-, Tumahole- en Schonkenville-gemeenskap en skep nou die ruimte vir samewerking tussen die owerheid en gemeenskappe om saam aan die oplossing te werk. Die ware oorwinning sal egter kom wanneer inwoners weer sonder huiwering of vrees die water uit Parys se krane kan drink. Ons sal nie ophou werk totdat hierdie oorwinning behaal is nie,” verduidelik Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake.