“Die beskuldigde het ’n kans gesien en dit gevat.”
Dít is die rede wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) destyds gegee het toe hulle besluit het om nie vir Isaac Andile Memese, ’n beweerde verkragter, op klagtes van verkragting en huisbraak te vervolg nie.
Dié beweerde verkragting het al in 2017 plaasgevind. Een van die slagoffer se vriendinne, wat ook ’n prokureur is, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 genader om te help nadat sy geen antwoord op haar navrae gekry het oor waarom geen strafregtelike stappe teen die beskuldigde ingestel word nie.
Celeste Gouws, die slagoffer, is vermoedelik bedwelm voordat sy later in haar gastehuis verkrag is. Gouws het reeds byna twee jaar gelede oor dié voorval in die Streekhof in Somerset-Oos getuig.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het tydens ’n vorige hofverskyning kringtelevisiebeeldmateriaal in die hof getoon wat duidelik wys hoe Memese herhaaldelik by Gouws aanlê, aan haar raak en haar probeer soen. Sy het dié toenaderings keer op keer geweier.
Gouws het getuig dat Memese herhaaldelik daarop aangedring het dat sy saam met hom moet bad. Gouws moes uiteindelik ’n jarelange vriend Gavin Donnolly kontak om haar geselskap te kom hou by die gastehuis wat sy bedryf het omdat Memese nie sy onvanpaste gedrag wou staak nie. Donnolly, wat ook namens Gouws getuig het, het in die hof gesê dat Memese oomblikke ná sy aankoms by Gouws by hulle in die kombuis aangesluit het en dat hulle drie wyn gedrink het. Die beeldmateriaal wys ook hoe Memese in ’n stadium sy eie glas met Gouws s’n ruil, waarna sy binne minute onstabiel begin raak. Memese drink daarna nie weer self uit dié glas nie.
Nadat Donnolly Memese uitgesien het, wys die beeldmateriaal hoe die beskuldigde minute later weer die huis binneglip en Gouws uiteindelik na haar slaapkamer dwing waar hy haar glo verkrag het.
Dafré Troskie, ’n vriendin wat die oggend ná die voorval by Gouws gaan kuier het, het tydens ’n vorige verskyning getuig van die trauma wat Gouws beleef het. Sy het ook getuig dat Memese Gouws daardie oggend gebel en gevra het om nie ’n saak teen hom te maak nie.
Ten spyte van die feit dat die privaatvervolgingseenheid al vir byna vyf jaar by die saak betrokke is, is daar nog nie ’n vonnis opgelê nie. Die saak is herhaaldelik deur die beskuldigde of sy regspan wat glo siek is, vertraag. Barry Bateman, kommunikasiebestuurder van die privaatvervolgingseenheid, sê dié eenheid was nog by elke geleentheid gereed om met die saak voort te gaan.
“Privaat vervolging verseker dat almal gelyk is voor die reg. Waar mense voel die regstelsel laat hulle in die steek, ten spyte van sterk sake teen oortreders, is daar ’n meganisme tot hul beskikking om geregtigheid te vind. Die regering het Suid-Afrikaners op omtrent elke vlak gefaal – van elektrisiteit, water en sanitasie tot gesondheidsorg – toegang tot geregtigheid is nie werklik anders nie. Privaat vervolging bied ’n remedie wat nie anders is as die ingryping van privaat entiteite in ander sfere van die lewe nie,” verduidelik Bateman.
Memese het in 2022 boonop ook ’n aansoek om ontslag kragtens artikel 174 van die Strafproseswet gebring. Landdros Eric Mbiyo het dié aansoek egter van die hand gewys. Ten spyte daarvan dat die direkteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap aanvanklik gesê het dat Memese nie vervolg moet word nie, het Mbiyo in sy uitspraak oor die aansoek om ontslag die volgende gesê: “Uit al die bewyse wat op hierdie stadium aan hierdie hof voorgelê is, is die mening van die hof dat daar getuienis is waarop die beskuldigde skuldig bevind kan word aan die misdryf waarvan hy aangekla is, en dit is om daardie rede dat die aansoek van die hand gewys word.”
Jason Jordaan, ’n ervare multimedia- en digitale forensiese ontleder, is deur die verdediging aangestel om die privaat aanklaer se videobewyse te ontleed. Nadat adv. Nel vanjaar in die hof aan Jordaan gesê het dat die onbetwiste getuienis wat aan die hof voorgelê is toon daar was nie tyd om die beeldmateriaal te redigeer nie en dat dit die dag ná die beweerde verkragting deur een van die deskundige getuies afgelaai is, het Jordaan later in die hof bevestig dat die beeldmateriaal nie enige beeldafwykings bevat nie.
Volgens Bateman laat die regering slagoffers van geslagsgeweld gruwelik in die steek. “Ons sien ongelukkig te dikwels hoe swak slagoffers van geslagsgebaseerde geweld hanteer word – vandat hulle by ’n polisiestasie aanmeld om ’n strafregtelike klag in te dien, tot hoe hulle behandel word deur aanklaers wat veronderstel is om namens hulle te baklei. Bewyse word selde korrek ingesamel; verklarings word nie korrek geneem nie; en klaers en getuies word nie voldoende geraadpleeg nie. Aanklaers is ook nie altyd bevoeg om bewyse tydens verhore toe te laat nie. ’n Gebrek aan vaardighede en kundigheid is regdeur die strafregstelsel te bespeur.”
Volgens Bateman is die regering se verbintenis om geslagsgebaseerde geweld te beëindig, blote lippediens. Hy sê die traagheid om hierdie tipe sake vinnig af te handel, bewys aan klaers dat die SAPD nie hulle klagtes ernstig opneem nie.
Volgens Bateman kom die saak weer in Julie voor vir slotbetoë. Indien die saak wel voortgaan en nie weer uitgestel word nie, gaan dit waarskynlik vir ’n paar maande uitgestel word sodat uitspraak gelewer kan word.
“Dit was ’n lang pad, maar die privaatvervolgingseenheid staan bankvas agter Gouws in haar strewe na geregtigheid. Sy is ongelooflik dapper en so ook die getuies wat vir haar getuig het. Die eenheid is vol vertroue dat hulle ’n sterk saak gestel het. Geslagsgebaseerde geweld is een van die eenheid se fokusareas. Ons sal voortgaan om kwesbare lede van ons gemeenskap te ondersteun wat deur die stelsel, wat veronderstel is om hulle te beskerm, in die steek gelaat word,” sluit Bateman af.