AfriForum slyp só sy tande om NGV-wet te pak
Deur Ilze Nieuwoudt

Pres. Cyril Ramaphosa het toe op 15 Mei die pen gekry waarmee hy die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-wet wou onderteken. In sy staatsrede wat in Februarie gelewer is, het hy reeds grappenderwys aangevoer dat hy bloot na sy pen soek om dié stuk wetgewing te onderteken en te bekragtig. Die president se aanvaarding van die nuwe NGV-wet was dus geen verrassing nie. Boonop was die ANC-regering se tydsberekening daarvan, presies twee weke vóór die nasionale verkiesing, berekende verkiesingstaktiek – of ’n “verkiesingsfoefie” soos talle kommentators dit gestel het.

NGV, hy kom van ver!

Die sêding “’n jakkals verander van hare, maar nie van streke” is in die geval van NGV en die ANC se jarelange strewe daarna, in die kol. Hoewel talle Suid-Afrikaners dalk eers vroeër vanjaar van die “streke” of moontlike implikasies van NGV bewus geraak het, is dié ’n “jakkals” wat al ver en wye draaie gestap het tot op pres. Ramaphosa se lessenaar.

Een van die eerste amptelike geluide van ’n nasionale gesondheidsplan vir Suid-Afrika kom uit ANC-beleidsdokumente van April en Mei 1994. Daarin word telkens verwys na onder meer die “radikale transformasie” en die “algehele transformasie” van gesondheidsdienste in Suid-Afrika. Die dokument van April 1994 sluit af met dié woorde (vertaal uit Engels): “Uiteindelik sal die mees doeltreffende manier om verandering en transformasie van die gesondheidstelsel te verseker, wees die aanvaarding van toepaslike wetgewing om uitvoering te gee aan hierdie politieke wil en verbintenis.”

Teen November daardie jaar is die Witskrif op Heropbou en Ontwikkeling gepubliseer waarin doelstellings vir bykans elke aspek van ’n transformasieprogram van Suid-Afrika uiteengesit is, insluitend die gesondheidstelsel, om (soos dit in die witskrif gestel is) al die land se hulpbronne en mense te mobiliseer vir die “finale uitwissing van die gevolge van apartheid”. Volgens die program se beleidsraamwerk word die rekonstruksie van die gesondheidsektor in die vooruitsig gestel wat die “algehele transformasie van die volle leweringstelsel” sal behels.

Die publikasie van die eerste NGV-beleidsdokument, oftewel die groenskrif, in 2011 en daarna die witskrif teen die einde van 2015, het begin om werklik lewe te gee aan dit wat die ANC jare vantevore reeds in die vooruitsig gestel het en het voortgebou op onder meer 1997 se Witskrif op die Transformasie van Gesondheidstelsels in Suid-Afrika.

In Junie 2018 is die NGV-wetsontwerp vir die eerste keer in die Staatskoerant gepubliseer vir openbare kommentaar en in die jare wat daarop gevolg het, is tientalle openbare verhore gehou, kommentare is skriftelik ingedien en debatte is gevoer. Dit is in Junie 2023 in die Nasionale Vergadering (NV) en in Desember daardie jaar deur die Nasionale Raad op Provinsies (NRP) aanvaar. Ramaphosa se ondertekening van die wet het dus die ANC se jarelange ideaal van minstens die afgelope 30 jaar vir die algehele transformasie van die gesondheidsektor ’n tasbare, wettige werklikheid gemaak.

Al het hierdie “jakkals” al draaie geloop en nou op die president se lessenaar geland, is AfriForum egter vasbeslote dat dié wet nie sy pad van vernietiging tot in die hospitaalsale en spreekkamers sal stap nie.

AfriForum maak só om NGV-wet te pak 

Die stryd téén die implementering van hierdie wet, wat volgens kenners as “onbekostigbaar”, “onhaalbaar” en selfs “ongrondwetlik” beskryf word, is nog lank nie verby nie. AfriForum het reeds die afgelope aantal jare tydens die dosyne sessies wat vir openbare deelname landwyd aangebied is, asook in skriftelike kommentaar op die NGV-wetsontwerp en in drie navorsingsverslae gewys op die ekonomiese onhaalbaarheid en ongrondwetlikheid van NGV. AfriForum het byvoorbeeld reeds in 2019 aangevoer dat hoewel artikel 27 van die Grondwet voorsiening maak vir toegang tot gesondheidsorg, dit nêrens vermeld word dat die staat onder die verpligting staan om dié sorg aan almal te voorsien nie. Voorts het Natasha Venter, AfriForum se toenmalige woordvoerder oor NGV, aangevoer dat indien die regering se inmenging toegang tot gesondheidsorg verhinder, dit wel ongrondwetlik sal wees.  

Sowel AfriForum as verskeie ander teenstanders van dié wet is egter nog lank nie bereid om die implementering van die wet gedweë te aanvaar nie. AfriForum is daarom reeds besig om sy tande te slyp vir ’n regstryd.

In die ure ná die ondertekening van die wet het AfriForum ’n regskrywe by die Uniegebou in Pretoria oorhandig. Daarin wys die organisasie, namens sy 320 000 lede, op die ongrondwetlikheid, onbekostigbaarheid, onimplementeerbaarheid en onregverdigbaarheid van NGV. AfriForum het ook in die skrywe benadruk dat die president en alle parlementslede betrokke by die proses bewus is van die wet se tekortkominge, maar tog ten alle koste volgehou het met die promulgasie daarvan ten spyte van die gevaar wat dit vir die Suid-Afrikaanse fiskus en die oorbelaste belastingbetalers in die besonder inhou.

AfriForum het hierin ook die president in kennis gestel dat die organisasie regmaak om ’n regsaksie teen die regering, pres. Ramaphosa, die parlement en Joe Phaahla, Minister van Gesondheid, van stapel te stuur vir die skade wat Suid-Afrikaners weens NGV gaan ly.

AfriForum se hoogste besluitnemende liggaam, die AfriForum-direksie, het intussen ’n resolusie onderteken waarin die organisasie hom daartoe verbind om die regstryd teen NGV enduit te voer totdat alle remedies uitgeput is.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, beskou AfriForum hiermee gesondheidsvryheid as ’n beginselsaak. “AfriForum sal nie ophou met die stryd teen NGV nie, selfs al duur dit jare.”

Teen druktyd was AfriForum se regspan besig met die samestelling van die dagvaarding in dié saak. Om voor te berei vir hierdie taai hofgeding sal uiteenlopende kenners, insluitend ekonome, sosio-ekonome, akademici uit die mediese veld en mediesefondskenners, betrek word. Hou AfriForum se sosialemedia- en nuusplatforms dop om die ontvouing van hierdie reusesaak te volg.   

Louis Boshoff

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad