AfriForum het onlangs sterk opponerende kommentaar oor die voorgestelde sektorale numeriese rasseteikens vir elke bedryf en provinsie by die Departement van Indiensneming en Arbeid (DIA) ingedien. Die huidige druk vir die eskalasie van rasseteikens is maar net nóg ’n voorbeeld van hoe rasmal die Suid-Afrikaanse regering steeds in 2024 is.
Sedert die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is al nagenoeg 313 rasgebaseerde wette ingestel. Meer as 116 (dit wil sê sowat 37%) hiervan is ingestel nadat die ANC in 1994 aan bewind gekom het.
AfriForum is gekant teen sowel rasgebaseerde wetgewing as die rasseklassifikasiestelsel waaraan die regering vasklou. Beleide moenie beoordeel word op grond van hul bedoelings of titels nie, maar eerder op hul uitkomste. ’n Boom word tog aan sy vrugte geken. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ’n gepaste voorbeeld van ’n beleid met ’n titel wat billik klink, maar wat onregverdigbare uitkomste deur immorele middele lewer.
SEB se uitkomste oor dekades heen bewys dat dit niks meer as ’n rookskerm vir elite-bemagtiging en kaderontplooiing is nie. AfriForum staan op beginselvaste grond: Rassediskriminasie deur die regering in die verlede was verkeerd en is dus ook verkeerd in die hede. Veroordeling van rassediskriminasie in die verlede klink hol wanneer diegene wat dit veroordeel luidkeels rassediskriminasie in die hede verdedig.
Rasmalheid het al byna elke faset van die samelewing besmet – van korporatiewe aanstellingspraktyke tot laerskoolsport. ’n Dis-Chem- interne memorandum van 2022 waarin daar onder druk van die regering ’n moratorium op die aanstelling en bevordering van wit mense aangekondig is, dien as verdoemende bewysstuk van die absurditeit en onregverdigbaarheid van die ANC se rasgedrewe agenda.
Regeringsgedrewe, rassediskriminerende aanstellingspraktyke, wat as “regstellend” bemark word, is ’n skynoplossing. Die regering se beheptheid met gelyke uitkomste eerder as gelyke geleenthede het ’n toenemend rasbehepte omgewing geskep. Wat reggestel moet word is ’n wanfunksionele onderwysstelsel waar kinders in 2024 oor riviere moet loop om by skole met puttoilette uit te kom. Die werklike probleem is ’n regering wat aanhou misluk om kernprobleme soos werkloosheid, swak onderwys, misdaad, korrupsie en beurtkrag op te los, en dan meer rassewetgewing druk as die oplossing.
’n Kritieke aspek van AfriForum se kommentaar aan die DIA is die aandringing dat ’n sperdatum vasgestel moet word vir die beëindiging van wetgewing wat op grond van ras diskrimineer. ’n Regering wat nie daarin slaag om die land se krisisse te takel nie en hierdie krisisse terselfdertyd gebruik as regverdiging vir ’n verskerpte en voortgesette rassediskriminerende beleid, skep ’n bose kringloop. Rassediskriminerende beleid wat hoofsaaklik op die wit minderheidsbevolking gerig is het reeds ’n multigenerasie-aangeleentheid geword.
Suid-Afrika kan homself nie ’n nierassige land noem as die regering voortgaan om hulle vir verskerpte raswette te beywer nie. Suid-Afrika kwalifiseer reeds as een van die mees rasmal lande ter wêreld. Ná meer as 100 jaar van rassediskriminerende beleid, wat tot in die 21ste eeu voortduur, is dit tyd vir die afskaffing van hierdie afskuwelike praktyk.