Terwyl die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette – beter bekend as die Bela-wetsontwerp – reeds jare lank gedebatteer, aangepas en heen-en-weer verwys word, en verskeie organisasies, insluitend AfriForum, sterk teenkanting teen die wetsontwerp bied, sit skoolgemeenskappe op hete kole oor die moontlike implikasies wat die implementering van dié wet op grondvlak kan hê.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, benadruk dat AfriForum se teenkanting teen die wetsontwerp multidimensioneel is, maar hoofsaaklik neerkom op die regering se poging om deur dié wetgewing beheerliggame van hul finale besluitnemingsmagte ingevolge skole se taal- en toelatingsbeleide te stroop. Met slim praatjies en woordgimnastiek het die Departement van Basiese Onderwys (DBO) boonop in die afgelope tyd probeer om hul sogenaamde toegewings in die aanpassings op die wetsontwerp aan die publiek te verkoop. “AfriForum word nie gerusgestel deur die wysigings nie,” verduidelik Bailey.
’n Berekende aanval op skole
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is “die Bela-wetsontwerp ’n berekende aanval op Afrikaanse skole én ons kinders”. Hy voer voorts aan dat die vernietiging van ’n kultuurgemeenskap se skole en die bedreiging van ’n kultuurgemeenskap internasionaal gereken word as ’n daad van kulturele etniese suiwering. Dit is juis die ANC-regering se bedoeling met die Bela-wetsontwerp, verduidelik Kriel. “Die ANC gebruik nie missiele en troepe om Afrikaanse ruimtes te beset nie. Hulle gebruik die Bela-wet en sodoende verbreek hulle die 1994-skikking gewetenloos,” gaan hy voort.
Met die grondwetlike skikking wat in 1994 bereik is, is ooreengekom dat taal en kultuur in die nuwe bedeling beskerm sal word. Dit sou verdraagsaamheid en ruimte vir die behoud en ontwikkeling van Afrikaans en ander inheemse tale insluit. Die behoud van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal is in die skikking as ’n bate voorgehou en is boonop verskans in artikel 6 van die Grondwet. In dié artikel word die kritieke belang van taal vir Suid-Afrika duidelik.
Voorts stel die DBO dit in sy jaarlikse prestasieplan vir 2024/2025 dat die departement oortuig is dat leerders beter presteer as hulle in hul moedertaal onderrig word. Dié stelling strook egter nie met die ware toedrag van sake wat duidelik met die Bela-wetsontwerp beoog word nie. “Die Bela-wetsontwerp gaan dit vir die departement moontlik maak om skole voller te maak en die bestaande moedertaalonderrig in enige taal buiten Engels te vernietig met die drogredenasie dat kinders nie uitgesluit gaan word nie. In wese sluit Engelstalige onderrig 90% van die land se kinders uit omdat Engels nie hulle moedertaal is nie,” verduidelik Bailey.
Kwynende getalle
Die druk op Afrikaanse skole neem reeds etlike jare lank toe. Luidens navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) in 2021 vrygestel het, het die getal enkelmedium- Afrikaanse skole binne slegs agt jaar met 15% afgeneem. In 2012 was daar 1 531 enkelmedium- Afrikaanse skole, terwyl daar in 2020 net 1 303 was (hiervan was 94 boonop onafhanklike skole). Dit is nie duidelik hoe die situasie sedertdien verander het nie.
Laat jou stem hoor
In Mei het die Nasionale Vergadering (NV) die wetsontwerp goedgekeur. Hoewel die ANC-gesinde amptenary gepoog het om die wetsontwerp voor die nasionale verkiesing finaal deur te druk, het dit nie gebeur nie. Die volgende stap is eintlik dat die wetsontwerp aan die president voorgelê word vir ondertekening, maar in die lig van die samestelling van ’n regering van nasionale eenheid was dit teen druktyd nog onduidelik of dié poging voortgesit sal word. AfriForum is egter gereed om die moontlike implementering van die Bela-wetsontwerp enduit te beveg vir so lank as wat dit ’n bedreiging vir die bestaan van Afrikaanse skole inhou.
Wat sê beheerliggaamlede?
Marelie du Toit (skuilnaam), ’n beheerliggaamlid van ’n enkelmedium- Afrikaanse hoërskool in Pretoria, meen dat finale besluitnemingsregte rakende ’n skool se taal- en toelatingsbeleid steeds by beheerliggame moet berus omdat die “beheerliggaam eintlik die gemeenskap se belange op die hart dra”. Die verlies aan kulturele identiteit wat die implementering van die Bela-wet tot gevolg kan hê, is vir haar ’n kommerwekkende komponent van die beoogde wet. “Taal en kultuur gaan hand aan hand. Dus het elke taal ’n groep wat sy eie kultuur het en sodra jy na Engels oorskakel, gaan die kinders nie meer daardie band met hul kultuur kan vorm nie … en die taal wat hulle praat, of dit nou Afrikaans, Ndebele of Zoeloe is, sal uiteindelik só onderdruk word dat dit in sekere plekke van die land glad nie meer gepraat sal word nie. In die lang termyn gaan dit veroorsaak dat Engels alles gaan oorheers en dat ander tale en kulture heeltemal gaan wegkwyn oor ’n paar dekades van nou af.”
Peet Vermaak (skuilnaam), ’n skoolhoof en beheerliggaamlid van ’n laerskool in die ooste van Gauteng, reken dat die stroping van ouers se besluitnemingsmag deur beheerliggame ook ’n ernstige invloed op skole se finansiële oorlewing kan hê en dat die motivering om skoolgeld te betaal met die aanvaarding van die Bela-wetsontwerp by die agterdeur sal uitgaan. “Die hele doel van beheerliggame is juis vir ouers om in ’n mate ’n sê in die skool te hê en die skool te verbeter, maar as ek (’n ouer) nie die taalbeleid kan bepaal nie, hoekom moet ek betaal?” ’n Verlies aan inkomste sal ’n direkte invloed op die befondsing van beheerliggaamposte hê en uiteindelik tot groter getalle leerders per klas lei.
Vermaak voer voorts aan dat moedertaalonderrig op minstens primêre vlak noodsaaklik is. “As ’n kind nie verstaan wat hy doen nie, het hy klaar ’n agterstand.” Hy verduidelik ook dat ’n toelatingsbeleid nie noodwendig as ’n taal- of rassekwessie beskou moet word nie, maar dat so ’n beleid ook deur ’n beheerliggaam toegepas kan word om te verseker dat bepaalde waardes in ’n skool behou kan word.
“Ek is ’n donkie”
AfriForum Jeug-lede het in April ’n protesaksie teen die omstrede Bela-wetsontwerp by die Uniegebou in Pretoria gehou en in ’n memorandum wat aan die Presidensie oorhandig is, daarop aangedring dat die wetsontwerp geskrap word. Protesteerders het swartborde met die woorde “I am a donkey” om hul nekke gedra omdat die Bela-wetsontwerp herinner aan die verengelsingsbeleid wat Britse owerhede kort ná die Anglo-Boereoorlog in skole toegepas het. As deel van dié beleid is kinders verneder indien hulle Afrikaans by die skool gepraat het. Bordjies waarop die woorde “I am a donkey, I spoke Dutch” aangebring is, is dan om dié kinders se nekke gehang in ’n poging om hulle te verengels. AfriForum Jeug beskou die Bela-wetsontwerp as ’n eietydse verengelsingsbeleid en ’n direkte aanval op moedertaalonderrig.