AfriForum maak só … met kultuur en erfenis

Deur Alana Bailey – hoof van Kultuursake by AfriForum

Baie mense dink die woord “kultuur” verwys na dít wat by kunstefeeste plaasvind: die musiek, dans, toneelopvoerings, skilderye, voordragte …

Kultuur beteken egter nie net dit nie, maar verwys na alle geestelike, materiële, intellektuele en emosionele kenmerke van ’n individu, gemeenskap of groep. “Kultuur” is die resultaat van die geestelike of fisiese arbeid van mense, terwyl “natuur” na die skepping van God verwys.

AfriForum fokus veral op Afrikanerkultuur, maar omdat ons as burgerregteorganisasie kulturele regte oor die algemeen bevorder, is dit nie ’n eksklusiewe fokus nie. Dit is regte wat ons saam met ander gemeenskappe wil verwerklik, nie alleen in afsondering nie.

AfriForum beywer ons daarvoor dat Afrikaners vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika moet kan voortbestaan, maar ook as Afrikaners hulle elders bevind, nog steeds bande met ons kultuur kan behou. Dit veronderstel dat ons weet wie ons is, wat van ons ’n gemeenskap maak en dat ons ons unieke identiteit en kultuur met selfvertroue en gesonde trots sal opeis. Ons vra nie bevoordeling of meer regte as enige ander gemeenskap nie, maar kan ook nie ons kultuurregte prysgee bloot omdat ander gemeenskappe nie húlle regte opeis nie.

Debatte oor die Afrikaner Verklaring wat in April 2024 onderteken is, het dit duidelik gemaak dat Suid-Afrikaners baie vreemde idees oor kultuur, soos wat dit in ons identiteit sigbaar word, koester.

Een daarvan is dat enige uitdrukking van eie identiteit gelykstaande aan toksiese nasionalisme is. Om te kan floreer, meen hierdie groep kritici, is dit nodig dat mense een groot homogene massa moet wees. Ironies genoeg ignoreer hierdie argument die leuse van die land wat diegene dink hulle dien. Dit vier juis eenheid in diversiteit.

Dan is daar ook die werklikheid dat alle mense identiteite het. Niemand is tot een identiteit beperk nie. Sou ’n mens probeer om sonder identiteite deur die lewe te dryf, is die gevaar dat ander mense jou gaan identifiseer, ongeag of jy daarmee gemaklik is of nie, en dat dit dan moeilik gaan wees om etikette af te skud waarmee jy nie assosieer nie.

Die kritici van mense wat hulleself Afrikaners noem, is ook dikwels mense wat reis om ander kulture te beleef, en geen probleem het met meeste Westerse wêreldstede soos Antwerpen, Amsterdam, New York en San Francisco wat elk ’n Chinatown het waar daar selfs Chinese straatnaamborde is nie. Hierdie uitdrukking van ’n nasionale identiteit word deur hulle as toerisme-aantreklikheid beleef, maar wee ’n Afrikaner wat vra waarom padpredikante in Suid-Afrika deesdae slegs Engels is. Jy word dan maklik neerhalend of meerderwaardig behandel, byvoorbeeld met kommentaar soos dat jy voorstaan dat “Afrikaners terug op die ossewa klim”. Daar is selfs Afrikaanssprekendes wat inkoop in dié mening en voorgee dat hulle eintlik Engels is, soms met komiese gevolge wanneer hulle swak Engels praat of skryf …

Nog ’n drogredenasie is dat gedwonge samesyn liefde gaan skep. Panyaza Lesufi is een van die mense wat die teorie graag verkondig en senior amptenare van die Departement van Basiese Onderwys koop ook graag hierby in. Dit behels dat die enigste manier waarop verskillende kultuurgemeenskappe in vrede sal kan saamleef, sal wees as almal van jongs af saam in skole geakkommodeer word. Mense se wêreldbeskouing word egter gevorm deur die waardes waarmee hulle grootgemaak word en nie die mense met wie hulle spasies deel nie. Niks skep vinniger spanning as wanneer ’n kultuurgemeenskap onder druk geplaas word nie. Met dubbel- en parallelmediumskole is dit ongelukkig wat herhaaldelik gebeur.  

Wanneer AfriForum ons met kultuur besighou, gee ons aandag aan die skep, bewaar en oordra van alle aspekte van veral Afrikanerkultuur.

Die afgelope maande het ons dit gedoen met ’n wye reeks aksies om te verseker dat ons hierdie rol speel.

Die mees sigbare aksie is waarskynlik AfriForum se deurlopende teenstand teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde Bela-wetsontwerp). Hierdie teenkanting teen die ideologies geïnspireerde inhoud van die wet wat groter owerheidsbeheer en minder magte vir skole se beheerliggame probeer deurvoer, veral wat die finale besluit oor taal- en toelatingsbeleide betref, kom al van 2017 af. Tans is AfriForum se regspan gereed vir aksie, wat ook al die volgende stappe mag wees in die proses om dit deur te voer en te implementeer.

Daar word verder nie net op aksies van owerhede gefokus nie, maar die jeug word ook toegerus om met krag van Bo self aan ’n eie toekoms te bou. Met AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisies leer deelnemende jongmense van laerskool tot op universiteit om op hulle voete te dink oor sake van die dag en met selfvertroue standpunte in te neem. Die Besigheidsbytjies-kompetisie vir skoliere moedig deelnemers aan om hulle entrepreneursvaardighede te ontwikkel en leer hulle die basiese beginsels daarvan om ’n eie onderneming te vestig. Die Teenboelieveldtog help kinders om waardegedrewe lewens te leef. Ons bied ook finansiële steun aan die Rapportryers se jaarlikse Bybelvasvra. Dit is maar enkele van die onderwysprojekte wat AfriForum aanbied.

Ons dra by tot erfenisbewaringsprojekte en deur middel van ’n nuwe reeks op Forum Nuus, Erfenisjuwele, maak ons die publiek bewus van kultuurhistoriese skatte in hulle omgewing en die merkwaardige vrywilligers wat dit restoureer, in stand hou en finansieel onafhanklik probeer bestuur. AfriForum is byvoorbeeld een van ’n groep organisasies wat die Heldeakker en res van Kerkstraatbegraafplaas in Pretoria opknap. Hier is van die mees bekende Afrikaners begrawe – van leiers soos Paul Kruger tot letterkundiges soos Eugène Marais.

Min mense het nie vriende of familie in die buiteland nie en deur AfriForum se betrokkenheid by byeenkomste soos musiekkonserte en kerkbasaars oorsee, asook deur sosialemediakanale propvol interessante vertellings en noodsaaklike inligting, bied ons met AfriForum Wêreldwyd al sedert 2005 ’n virtuele tuiskomplek vir ons mense buite die landsgrense.

AfriForum maak só om ons kultuur sterk en gesond te hou as basis vir ons identiteit. Enigeen is welkom om by ons werksaamhede in te skakel en self te help bou aan ons toekoms.

AfriForum se teenboeliespan by Diazville
Primary School. Gerard Brune (AfriForum se
Weskus-tak), Lorenzo Williams, Matteus en
Tania Scheepers.
Fort Klapperkop in Pretoria is nog ’n belangrike erfenisterrein
waarby AfriForum betrokke is met opknapping en beveiliging van
die terrein. Planne om die geskiedenis van Fort Klapperkop meer
toeganklik vir besoekers te maak is ook aan die kom.
Mostert se meule (gebou in 1796) in
Kaapstad is in April 2021 in ’n brand
beskadig. AfriForum het bygedra tot die
fonds wat vir die herstel van die meule op
die been gebring is.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad