Skole vir gemeenskappe met eie taal en kultuur
Deur Alana Bailey

Kort gelede het ’n student aan ’n sogenaamde “voormalige Afrikaanse universiteit” my gevra hoe AfriForum se visie vir ’n Afrikaanse universiteit lyk. “Bedoel julle dan dat álles op die kampus Afrikaans moet wees?” Die vraag het my geskok want vir my, wat jare gelede skoolgegaan en studeer het, was eentalige Afrikaanse onderrig in ’n Afrikaanse kultuuromgewing ’n vanselfsprekendheid. Skielik het ek besef hoe ver instellings al verengels het – vir hierdie student het die normale vreemd, uitsonderlik of dalk selfs aanvegbaar geklink.

Met ’n eentalige Afrikaanse instelling is wat ons bedoel nie ’n instelling wat vyandig teenoor enige ander tale staan nie. Dit huiwer ook nie om deskundiges op gebiede te nooi om lesings daar in hulle eie taal aan te bied nie; inteendeel, dit word verwelkom ten einde studente se studie-ervaring te verryk, maar dan is tolkdienste in Afrikaans beskikbaar. Verder is die klasnotas in Afrikaans en ook sover as wat moontlik is, die handboeke. Waar handboeke in Afrikaans ontbreek, word ander tale gebruik, maar word daadwerklike pogings aangewend om dit te vertaal of nuwe handboeke in Afrikaans te skep. Studente moet hulle kennis natuurlik met leeswerk aanvul en deur artikels in meer tale te lees, kan hulle hul woordeskat tog veeltalig uitbrei met die oog op die nasionale of internasionale arbeidsmark. ’n Eentalige onderrigtaal beteken nie ’n gebrek aan ontwikkeling in ander tale nie.

Hierdie tipe instelling is nie ’n droom nie, maar die werklikheid waaraan Akademia en Sol-Tech elke dag bou.
In die boek Kultuurvryheid en selfbestuur (2017) skryf prof. Deon Geldenhuys dat taal van wesensbelang vir die oorlewing van kulturele identiteit is. “In ’n moderne samelewing loop ’n taal wat nie ’n openbare taal is nie, die gevaar om só gemarginaliseer te raak, dat dit slegs onder ’n klein elite in ’n geritualiseerde vorm oorleef, of in afgeleë plattelandse gebiede bly voortbestaan.”

Hy verwys verder na die politieke filosoof Will Kymlicka se waarskuwing dat regeringsbesluite oor die taal van openbare skole en dienste in wese eintlik besluite is oor watter samelewingskulture in ’n land sal kan voortbestaan.

Dit is presies die rede waarom AfriForum sedert ons ontstaan in 2006 verbete veg teen enige aanslae wat Afrikaanse moedertaalonderrig in die gedrang bring, insluitend tans weer die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (ook bekend as die Bela-wet). Enige terrein waarop Afrikaanse onderrig prysgegee word, berokken die menslik gesproke toekomsverwagting van Afrikaners skade.

In lande soos Engeland, Ierland, Spanje en Tunisië sien ons tans hoe taalgemeenskappe ná dekades en selfs eeue van onderdrukking probeer om hulle inheemse tale soos Wallies, Iers-Gaelies, Baskies, Katalaans en Tamazight te laat herleef. In van die lande word groot finansiële beleggings gemaak en wetgewing afgekondig om dié planne te laat slaag, maar wanneer ’n taal eers sy hoë funksies laat versand het en mense dit nie in die alledaagse omgang gebruik nie, word dit tipies in afgeleë gebiede en deur klein elite gemeenskappe bedryf, soos Geldenhuys in die aanhaling langsaan noem.

Die Amazigh is die oorspronklike, voor-Arabiese bevolkingsgroep in Noord-Afrika. Daar word geraam dat hulle uit 30 tot 40 miljoen mense bestaan, en tog het die druk van koloniale tale soos Arabies, Frans en Engels hulle taal in openbare sfere in onder meer Tunisië, Marokko en Algerië uitgewis. Tunisië se nuwe grondwet probeer wel meer ruimte vir die taal skep.

Getalle is dus geen waarborg vir ’n taal se oorlewing nie, maar die sprekers se ywer is wel.

In Europese lande waar klein taalgemeenskappe vir hulle taalregte opstaan en vir wetgewing soos die Europese Handves vir Streeks- en Minderheidstale sorg, sien ons onderwysinstellings van minderhede wat te midde van groot meerderheidstale gedy en internasionaal mededingend is. Dit sluit die Duitse gemeenskappe in Italië (Suid-Tirool) en België, Dene in Duitsland en Hongare in Roemenië in, om slegs enkele voorbeelde te noem.

Getalle is dus geen waarborg vir ’n taal se oorlewing nie, maar die sprekers se ywer is wel.

Die argument dat die akkommodering van meer tale ’n luuksheid is, word verkeerd bewys wanneer ons na die lande se ekonomiese stand kyk. In die 2022-tabel waar lande se bruto binnelandse produk (BBP) deur hulle totale bevolking gedeel word, staan Denemarke tiende, België sewentiende, Italië nege-en-twintigste en Roemenië agt-en-vyftigste. Vergelyk dit met lande waar inheemse moedertale moet veg om oorlewing, soos Suid-Afrika (posisie 93) en Algerië (119).

Die beregtiging van meer tale en amptelike beskerming daarvan het hoër vlakke van geletterdheid, laer vlakke van werkloosheid, meer welvaart en gevolglik ook groter maatskaplike stabiliteit tot gevolg, maar die Suid-Afrikaanse regering weier om dit te erken en onderdruk taalgemeenskappe om ideologiese redes.

As gemeenskap is ons antwoord die beskerming van die onderrig-instellings in eie taal wat tans bestaan en die uitbou en onderhoud van meer sulke instellings op alle vlakke. Dit maak nie net uit ’n ekonomiese, ontwikkelings- en veiligheidsoogpunt sin nie, maar ook wat die behoud en bevordering van ons identiteit vir onsself en ons nageslag betref.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad