Vryheid vereis ysere vasberadenheid

Ons leef in onstuimige dog interessante tye. Die eise van ons dag verg kreatiewe, vernuwende en baanbrekersdenke, wat stewig in beproefde waardes uit ons verlede gewortel is. Hoe sterker die stormwinde word wat om ons woed, hoe beter moet ons tenttoue en hoe stewiger moet ons tentpenne geanker wees. Ons fokus hoef nie uitsluitlik op ons eindbestemming gevestig te wees nie, want daardie droom is ons dalk nie in ons leeftyd beskore nie. Ons moet koers hou, met ons oë op die pad voor ons gerig. Soos Joost Strydom gereeld sê: “Die enigste ding naastens so soet soos vryheid, is die stryd vir vryheid.”
“Die geskiedenis het ons geleer dat die prys van ’n suksesvolle vryheidstryd altyd die volgende drie noodsaaklike bestanddele insluit: vasberadenheid, geduld en weldeurdagte planne.”
Totale eensgesindheid tussen alle vryheidstryders is ’n onbereikbare hersenskim. Soos met die Groot Trek en die Boereoorlog gaan daar verskillende leiers, idees, modelle en visies na vore kom. Die geskiedenis van die Afrikaner se vryheidsbewegings bestaan uit baie meer idees wat misluk het as uit suksesse, maar dit is juis die harde lesse wat uit daardie mislukkings geleer word wat die fondasies van die daaropvolgende suksesse vorm. Die geskiedenis het ons geleer dat die prys van ’n suksesvolle vryheidstryd altyd die volgende drie noodsaaklike bestanddele insluit: vasberadenheid, geduld en weldeurdagte planne. Ons moet dit wat Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, onlangs uitgewys het ook heeltyd in gedagte hou: “As mense nie iets kan doen aan diegene wat die probleem veroorsaak het nie, beveg hulle diegene wat die probleem probeer oplos.”
Die Solidariteit Beweging se weldeurdagte plan wat klaar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan bewys het, is gemeenskaps-federalisme. Hierdie begrip verwys na die praktiese toepassing van die federale beginsel op gemeenskaps-vlak op die volgende manier: In ’n sosiale orde, soos byvoorbeeld ’n gemeenskap of nasie, moet bestuursverantwoordelikhede eerstens toegestaan word aan die laagste moontlike sosiale eenheid of assosiasie wat dit kan hanteer.
Slegs wanneer daardie een-heid nie in staat is om daardie verantwoordelikheid na te kom nie, behoort dit deur ’n sosiale eenheid op ’n hoër vlak oorgeneem te word. Indien ’n dorp of ’n streek byvoorbeeld sy eie krag kan opwek, moet hulle nie gedwing word om afhanklik te wees van ’n ondoeltreffende staatsmonopolie soos Eskom nie. Gemeenskapsfederalisme stel dus voor dat die grootste moontlike outonomiteit en magte aan die kleinste moontlike gemeenskapstruktuur verleen moet word. Dit sal doeltreffendheid en verantwoordbaarheid bevorder en gemeenskappe weerbaar teen staatsverval maak.

Geen vryheidsplan kan egter suksesvol wees sonder vasberade, gemotiveerde en doelgerigte mense wat bereid is om dit toe te pas nie. Helder, beginselvaste denke moet tot weldeurdagte planne lei, wat gevolg moet word deur daadwerklike aksie. Ons moet diegene wat aan ’n toekoms vir ons nageslagte bou met ’n fondasie van weldeurdagte idees en beproefde waardes ondersteun en saam met hulle skouer aan die wiel sit. Vryheid is baie mense se droom maar dit is beslis nie slegs een mens of selfs net ’n paar dapper mense se taak nie. Daar heers ongetwyfeld omvangryke onregverdigheid in ons geslag Afrikaners se lewensomstandighede, maar kon ons voorouers nie ook maar presies dieselfde gesê het nie? Hoe vergelyk die opofferings wat ons vryheidstryd vandag van ons vereis met die opofferings wat deur ons voorouers van die Boereoorlog of die Franse Hugenote of die Voortrekkers gemaak is? ’n Dosis nugter perspektief op die Afrikaner se geskiedenis, wat as een groot vryheidstryd opgesom kan word, kan baie help om die regte kanniedood-oorlewingsingesteldheid weer by ons aan te wakker. C.J. Langenhoven het hieroor die volgende te sê gehad: “Van die paaie wat ek gister gekom het, dink ek vandag met die meeste genot aan die swaar opdraande wat ek uitgesukkel het, en met die minste genot aan die maklike afdraande wat ek afgerol het.” By AfriForum het ons geen twyfel dat ons vanuit ’n historiese perspektief na ons volk se hedendaagse uitdagings moet kyk nie. Miskien is ons struikelblokke ’n reeks toetse wat ons moet slaag om te bepaal of ons kultuur nog ’n bestaansreg verdien, sodat ons met trots ons voorouers se kultuurfakkel mag voortdra voordat ons dit vir ons nageslag aangee. Ons generasie moet dringend tot die besef kom dat ons doen en late, per slot van sake, ook ons nalatenskap en die impak van ons hoofstuk op die verdere verloop van ons geskiedenis gaan bepaal. Ons moet doen wat ons moet met wat ons het, want ons gaan nie ’n tweede kans kry nie.
Om meer te wete te kom oor die Solidariteit Beweging se toekomsplan gebaseer op gemeenskaps-federalisme, kyk gerus na AfriForum se jongste dokumentêre film Selfbestuur: Staatsbestande oplossings vir die toekoms. Dit is beskikbaar op AfriForum se YouTube-kanaal of op AfriForumTV.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad