AfriForum en die Kaapse Forum het vroeg vanjaar twee splinternuwe dokumentêre bekendgestel.
Selfbestuur: Staatsbestande oplossings vir die toekoms, AfriForum se dokumentêre film, handel oor selfbestuur en die Solidariteit Beweging se toekomsplan gebaseer op die beginsel van gemeenskapsfederalisme. In dié dokumentêr word idees van staatsbestandheid en selfdoen ondersoek en met praktiese voorbeelde gedemonstreer. Dit bespreek AfriForum se inisiatief vir ankergemeenskappe, internasionale voorbeelde van federalisme in aksie, provinsiale outonomie, groeiende outonomie vir die Wes-Kaap, Orania, Pretoria as kulturele kanton en vele meer.
Flip Buys, Kallie Kriel, prof. Danie Goosen, Robert Duigan, Heindrich Wyngaard, dr. Ernst Roets, Helen Zille, Martin van Staden, Russell Lamberti, Joost Strydom, Carel Boshoff, dr. Luis Durnwalder, dr. Christoph von Ach, Carlo Vettori en Marc Röggla is sprekers in die dokumentêr.
Volgens Ernst van Zyl, veldtogtebeampte vir strategie en inhoud by AfriForum en regisseur van dié dokumentêr, moet Afrikaners die moed bymekaar skraap om hul toekoms en lot in hul eie hande te neem. “Ons kom vanuit ’n erfenis van pioniers, ons pad is staatsbestand en ons is op pad na vryheid. Met die dokumentêr poog ons om die gesprek rondom gemeenskapsfederalisme te versnel.” Die dokumentêr het onderskrifte vir Engelse kykers en kan op AfriForum se YouTube-kanaal of op AfriForumTV gekyk word.
Die Kaapse Forum het in Maart dié organisasie se dokumentêr Tussen die duiwel en die diep, blou see in St. Helenabaai aan die Weskus bekendgestel. Dié dokumentêr vertel die storie van die vissersgemeenskap se stryd om oorlewing. Mense wat eens op ’n tyd goed gedoen het en vandag niks oor het om van te leef nie, mense wie se kinders nie meer skool toe kan gaan nie, geliefdes wat afgesterf het en mense wat van al hul waardigheid gestroop word.
Die mense wat in die dokumentêr verskyn is onderworpe aan politiek, regstellende aksie en jaloesie. Die vissersgemeenskap is afhanklik van die Fishing rights allocation process (Frap) wat deur die staat geïmplementeer word sonder om die werklikheid van gemeenskappe in ag te neem. Hierdie mense is al vir meer as vyf geslagte in die visvangbedryf werksaam en word nou op grond van hul velkleur ontken en aan hul eie lot oorgelaat; hulle is mense wat ’n bestaan moet maak met slegs R6 000 ’n jaar.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het tydens die bekendstelling vertel hoe hulle as kinders langs die see grootgeword het en die see die bekoring ingehou het van lewe en toekoms, terwyl dit vandag net ’n diep, donkerblou poel water sonder lewe en die bekoring van ’n opwindende toekoms is.
Kyk Tussen die duiwel en die diep, blou see op die Kaapse Forum se YouTube-kanaal of op AfriForumTV.