
Deur Marthinus Koekemoer
Die lied “Oranje” – geskryf deur die gesoute liedjieskrywer Johan Vorster in samewerking met Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en opgeneem deur Steve Hofmeyr – is in Februarie bekendgestel. Met dié lied verklaar Afrikaners trots dat die bloed wat deur hul are vloei, oranje is.
“Oranje” is in opdrag van AfriForum en Solidariteit geskryf nadat meer as 10 000 mense, wat meestal in oranje geklee was, in November verlede jaar na die Voortrekkermonument opgeruk het om protes aan te teken teen die implementering van die omstrede Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela).

Volgens Hermann is die kleur oranje al eeue lank die kleur van die Afrikaner, maar dat verlede jaar se Bela-optog hom net opnuut tot dié besef gebring het. “Ons het ná die optog, waar soveel mense in oranje geklee was en daar ’n klomp oranje plakkate was, weer besef oranje is die kleur van die Afrikaner. Dit kom eintlik al van voor ons voorvaders na Afrika gekom het, maar is hier voortgesit met byvoorbeeld die benaming van die Oranjerivier en die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat. Die boodskap van die liedjie is dat Afrikaners weer selfvertroue in hul kulturele identiteit moet kry, maar dit is ook ’n harde boodskap aan die regering dat ons hier is om te bly.”
Kriel benadruk dat Afrikaners nie dink hulle is beter as ander mense nie, maar dat dié gemeenskap beslis ook nie onderdanig aan ander kultuurgroepe is nie. “Ons gaan nie meer jammer sê dat ons Afrikaners is en ons ons identiteit opeis nie. Afrikaners gaan nie verdwyn nie. Ons gaan hier bly en ’n toekoms vir ons kinders skep,” verduidelik hy.
Afrikaners se band met oranje kan sowat 2 000 jaar gelede teruggetrek word na die vestiging van die stad Orange in die suidooste van Frankryk. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, skryf dat dié stadjie, wat vandag veral bekend is vir sy besonderse Romeinse monumente, in ’n stadium ’n prinsdom en die eiendom van prins Willem van Nederland geword het. So het prins Willem die titel “Prins van Oranje” gekry. Hy het oranje as die kleur van sy skild en familiewapen gekies en selfs sy soldate was in oranje geklee. Alhoewel die stad later deel van Frankryk geword het, het die Prins van Oranje deel van die Nederlandse koningshuis gebly, en vanweë die Nederlandse konneksie het dié kleur deel van verskeie plekname in Suid-Afrika geword.

Hofmeyr, ’n uitgesproke kampvegter vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur, sê dit het nie veel oortuiging geneem om hom te kry om “Oranje” te sing nie. Hofmeyr was selfs meer oortuig om die liedjie te sing ná hy gehoor het Johan Vorster, wat hy as patriot bestempel, het dit geskryf. “Ek dink die liedjie is baie toepaslik vir nou. Afrikaners word weer raakgesien en dit is ’n goeie tyd om weer ons simbole binne die raamwerk van die wet te laat herleef.”
Die liedjie is beskikbaar op verskeie aanlyn platforms, insluitend Spotify, Apple Music en YouTube Music. Op laasgenoemde platform is “Oranje” binne twee maande bykans 140 000 keer gekyk. Die volgende kommentaar is onder meer op die liedjie gelewer: “Ons bou om te bly en bly om te bou” en “Baie mooi! Dankie, Steve. Dit maak my van voor af trots om ’n Afrikaner te wees!”