AfriForum-herwinningsprojekte in Pretoria maak ’n groot verskil

Redaksie en foto’s deur Marthinus Koekemoer

AfriForum het vanjaar sy herwinningsprojek uitgebrei om naas Centurion ook in Groenkloof hierdie diens aan inwoners te lewer. Dié diens is boonop gratis aan alle AfriForum-lede in hierdie woonbuurte beskikbaar.

“Kort ná ons die AfriForum-tak in Centurion in Julie 2020 op die been gebring het, het klagtes begin instroom oor informele herwinners wat hulle aan misdade skuldig maak. Ons het byvoorbeeld video’s ontvang waar ’n mens kan sien hoe hulle stormwaterdeksels steel. Daar is ook punte waar hierdie herwinners langs riviere hul herwinning doen wat die vrye vloei van die rivier belemmer en dit op sy beurt tot oorstromings by eiendomme lei,” vertel André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

Daarbenewens, sê De Bruyn, word amper enigiets wat in ’n herwinner se sak kan pas, soms gesteel. Centurion-inwoners het gekla oor tuinslange, hekmotorbatterye en selfs fietse wat gesteel word.

“Ons het na aanleiding van die misdaadprobleme in Augustus 2021 besluit om met ons herwinningsprojek te begin. Groot herwinningsakke is by huise gelos waarin inwoners hul herwinbare items kan plaas en ons dit dan een keer per week gaan oplaai,” verduidelik De Bruyn.

Die projek het klein begin met net 251 kg herwinbare items wat in die eerste maand opgetel is. Daarna het dit stelselmatig gegroei tot op hede waar omtrent 15 000 kg se herwinbare items elke maand by huishoudings, komplekse en ondernemings opgelaai word. Anders gestel tel die span tussen 550 en 600 sakke by nagenoeg 1 000 deelnemers aan dié herwinningsaksie op. Hierdie items word by ’n sentrale punt sorteer en na verskeie herwinningspunte geneem en verkoop.

“Ons het ’n behoefte aan ’n groter perseel, meer voertuie en meer personeel om die projek verder uit te brei. Die wonderlike ding van herwinning is dat dit maklik is om te doen en selfs kinders kan daarby betrek word. In die dele van Centurion waar ons projek aktief is, het ons ook ’n drastiese afname in misdaad gesien soos wat informele herwinners besef daar is nie meer veel vir hulle oor om hier in te samel nie en na ander woonbuurte geskuif het,” sê De Bruyn.

Benewens die voordeel wat herwinning vir die omgewing inhou, help hierdie projek boonop ook om die aksies wat in die Centurion-omgewing aangepak word, selfs verder uit te brei. Boonop word daar reeds aan nog opwindende planne vir die toekoms gewerk. Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, verduidelik: “Die fondse wat ons insamel word aangewend om verskeie volhoubare projekte, insluitend die opvul van slaggate en skoonmaak van parke, aan te pak. Die herwinning vorm deel van ’n groter beplande projek waarvolgens AfriForum ’n privaat vullisverwyderingsdiens in Pretoria wil begin.”

Vinnige feite oor herwinning in Suid-Afrika

  • 90%: Navorsing wat in 2022 oor vullis in Suid-Afrika gedoen is, toon dat sowat 90% van alle afval op vullisterreine of onwettige stortingsterreine opeindig.
  • 10%: Slegs sowat 10% van alle vullis wat in Suid-Afrika gegenereer word, word herwin.
  • 65%: Volgens die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing is nagenoeg 65% van alle afval wat in Suid-Afrika gegenereer word, herwinbaar.

Herwinningsgroentjie? Jy kan ook ’n verskil maak!

’n Studie wat in 2018 onder meer as 2 000 Suid-Afrikaanse respondente gedoen is oor huishoudelike herwinning, het getoon dat nagenoeg 75% van huishoudings glad nie herwin nie. ’n Tekort aan beskikbare tyd, kennis van herwinning en die ontoereikende ligging van herwinningsfasiliteite is as van die belangrikste redes vir dié neiging aangegee. Die herwinning van huishoudelike vullis is egter nie so moeilik of tydrowend nie. Begin klein en spits jou toe op een of twee spesifieke tipe items, soos byvoorbeeld plastiek- of glasprodukte.

Die Suid-Afrikaanse Plastiekherwinningsorganisasie (Sapro) gee die volgende handige wenke vir diegene wat plastiek wil herwin. Dit is so maklik soos 1, 2, 3!

  1. Spoel alle herwinbare plastiekprodukte uit voordat jy dit in jou herwinningshouer gooi.
  2. Druk alle houers en bottels plat – dit spaar spasie.
  3. Hou die proppies van bottels op sodat dit nie uitval en deel van die rommelprobleem word nie.

Ken jou plastiek

As jy belangstel in die herwinning van plastiekprodukte, behoort jy as ’t ware Plastiek 101 onder die knie te kry. Vir ’n beginner is dit genoeg om te weet dat daar verskillende tipes plastiek is en dat die soorte met die hulp van verskillende kodes onderskei kan word. Kyk dus uit vir die genommerde kodes. Die meerderheid herwinningsentrums aanvaar 1-PET-, 2-HDPE-, 4-LDPE-, 5-PP- en 6-PS-plastiekprodukte. Die niewinsgewende organisasie EPR Waste Association of South Africa (eWASA) gee die volgende as ’n breë riglyn van die tipe plastiek en watter items gewoonlik in die betrokke kategorie val:

1-PET: Hierdie plastiek is sterk, buigbaar en lig. Water-, koeldrank-, seep-, mondspoel- en lyfroombottels word gewoonlik van hierdie tipe plastiek vervaardig.

2-HDPE: Hierdie tipe plastiek is ietwat sterker as 1-PET en kan hoër temperature weerstaan. Items soos houers vir chemiese produkte, verf en skoonmaakmiddels word gewoonlik van 2-HDPE-plastiek gemaak.

4-LDPE: Plastiekverpakkingsitems soos broodsakkies, kleefplastiek en borrelplastiek word meestal van 4-LDPE-plastiek vervaardig en is die mees buigbare plastiek wat daar is.

5-PP: 5-PP-plastiekprodukte kan uitgeken word aan hul onbuigsaamheid en word gebruik vir produkte soos plastiekstrooitjies en voedselhouers wat in die mikrogolfoond gebruik kan word.

6-PS: Hierdie tipe plastiek word onder meer gebruik vir die deksels van winkelkoekhouers, soesjihouers en jogurthouers, asook hangers en speelgoed.  


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad