
Deur Carina Bester
AfriForum Sakenetwerk het vanjaar begin om plaaslike sakenetwerke in samewerking met AfriForum se gemeenskapstrukture te stig en spog reeds met heelwat takke reg oor die land. Dié takke is in onder meer Pretoria, Kempton Park, Potchefstroom, Bloemfontein, die Paarl en Durbanville gevestig en bied verskeie voordele aan ondernemings wat by hierdie netwerke aansluit.
Buiten maandelikse netwerkgeleenthede word werkswinkels oor finansies, belasting, operasionele sake, administrasie en bemarking teen ’n minimale bedrag deur Akademia aangebied.
Die netwerke het ook ten doel om plaaslike ondernemings en entrepreneurs aan mekaar voor te stel, sakeverhoudings te vestig en gemeenskappe sterker te maak.
Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, gaan die stigting van plaaslike sakenetwerke verseker dat ondernemings in gemeenskappe van krag tot krag sal gaan. “AfriForum Sakenetwerk besef dat ondernemings en entrepreneurs dikwels die hart van ’n gemeenskap is, so wanneer ’n onderneming floreer, floreer ’n gemeenskap.”
Azaan van Eeden, voorsitter van AfriForum se Durbanville-sakenetwerk, is opgewonde oor die nuwe verhoudings wat tussen plaaslike ondernemings gebou gaan word. Haar visie is om die plaaslike sakenetwerk in Durbanville te laat groei om ’n impak in en vir die gemeenskap te maak.
In Potchefstroom het sakelui van nagenoeg 32 ondernemings reeds in April een van dié netwerke se geleenthede bygewoon waar entrepreneurs idees kon uitruil om Afrikaanse handelsmerke te versterk en samewerkingsgeleenthede te ondersoek.
Christiaan Steyn van Steyn IP, wat ook deel is van die netwerkbestuur in Kempton Park, het vyf jaar gelede deel van AfriForum Sakenetwerk se projekte geword en hy het sedertdien heelwat kliënte deur middel van AfriForum Sakenetwerk bygekry. Volgens hom is ’n netwerk een van die beste maniere om verhoudings te bou en ’n kliëntebasis uit te brei.
Volgens Van der Walt, wat die afgelope tien jaar reeds by AfriForum Sakenetwerk (voorheen Afrikaans-Vriendelik) werksaam is, is die uitbou van ’n sakenetwerk in gemeenskappe een van die lekkerste en positiefste projekte waarby sy tot dusver betrokke was. Sy sê dit is veral omdat ’n mens tasbaar kan sien dat mense en ondernemings ’n verskil wil maak, mekaar wil help, by mekaar wil leer en saam groei.
“Om te sien dat daar hoop is in en vir Suid-Afrika is vir my hartroerend – veral om te sien hoe klein en mediumgrootte sakeondernemings juis dié is wat omgee en bitter hard werk om ’n toekoms te skep, nie net vir hulself nie, maar ook vir gemeenskappe en hul medemens.”
Besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za om by hierdie plaaslike sakenetwerke betrokke te raak.





