Veiligheid is Durbanville-tak se prioriteit

Deur Carina Bester | Foto’s: Verskaf

AfriForum se Durbanville-tak het sedert die tak se ontstaan in 2022 verskeie suksesse behaal met die projekte wat hulle aangepak het.

Van skoonmaakprojekte, sypaadjies verf en onderhou tot boomplantprojekte – dié tak se hande staan vir niks verkeerd nie. Hulle het reeds die Durbanville-skaatspark skoongemaak, sypaadjies in Beyers Naudéweg geverf en een van die grootste projekte wat hulle suksesvol aangepak het, is die verfraaiing van die sypaadjie voor die Durbanville-polisiestasie.

“Ons het hierdie sypaadjie skoongemaak, 20 aalwyne en 20 spekbome geplant en klippe daarop gepak om die sluipslapers weg te hou,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Durbanville-tak.

Die tak het ongeveer R18 000 aan dié projek bestee en dit is een van hul volhoubare projekte wat hulle voortaan in samewerking met die polisiestasie gaan onderhou.

Aangesien hulle weinig slaggate en straatligte het wat herstel moet word, plant en skenk hulle deurentyd bome aan skole.

Hierdie winkeltrollies is by sluipslapers afgeneem.

“Dit is nodig om ’n AfriForum-tak in Durbanville te hê omdat ’n mens hoop wil skep. Jy wil ’n waghond hê vir wanneer die munisipaliteit dalk nalatig is, nie genoeg hulpbronne in die area aanwend nie of nalaat om sekere dienste te verskaf,” verduidelik Stoop.

Veiligheid bly egter hierdie tak se hooffokus. Volgens Stoop moet daar toenemend op misdaad gefokus word soos mense van ander provinsies na die area verhuis. Daarom word daar weekliks in Durbanville gepatrolleer en word honderde kilometer per maand afgelê om misdaad in hierdie voorstad hok te slaan. Hulle is ook besig om ’n tweerigtingradiotoring te installeer wat verbeterde kommunikasie tussen buurtwaglede sal meebring.

Verder hou hierdie buurtwag elke maand in samewerking met die Kaapstad-metro se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en MES, ’n niewinsgewende organisasie wat met hawelose mense werk, asook ander rolspelers ’n identifiseringsessie waartydens sluipslapers in die Durbanville-sakekern se besonderhede ingesamel word. Met hierdie projek poog hulle om hierdie mense te rehabiliteer en word daar gekyk na oplossings om die hawelose mense van die straat af te kry. Diegene wat wel bereid is om hulp te kry, help tydens die tak se skoonmaakprojekte om sodoende ’n inkomste te verdien.

Nog een van die buurtwag se projekte wat maandeliks suksesvol aangepak word, is om winkeltrollies by sluipslapers af te neem. Volgens Stoop word hierdie trollies dikwels gebruik om misdaad te pleeg of gesteelde goedere te versteek om dit later te smous.

“Ons het goedkeuring by die kleinhandelaars om hierdie trollies te verwyder en ons kry maandeliks minstens 20 tot 30 trollies terug.”

“Durbanville is nie meer so veilig soos jare gelede nie. Met die toename in mense is daar ’n leemte in terme van veiligheid aangesien die polisie ongelukkig nie by al die klagtes kan uitkom nie. Daarom moet die buurtwag en gemeenskap aktief betrokke wees en self verantwoordelikheid neem vir hul veiligheid. Uiteindelik moet die gemeenskap na hulself omsien om ons nageslagte se veiligheid en toekoms in die Kaap en in die land te verseker.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad