Nuut op die AfriForumTV-kassie

Deur Ilze Nieuwoudt

Vermaak – en dit boonop in Afrikaans – was nog nooit só gratis en só gerieflik nie! AfriForumTV se digitale platform, wat in April 2022 bekendgestel is, spog reeds met nagenoeg 170 000 intekenaars wat daagliks voor die kassie (of rekenaar of slimfoon) inskuif om na hul gunstelingprogramme te kyk en te luister. Kies uit ’n wye reeks inhoud, insluitend AfriForumTV se eie topproduksies soos Die Val en Die Korf; ou gunstelinge soos Die swart kat en Orkney snork nie!; opnames van gewilde musiekblyspele insluitend Die Gelofte: ’n Musiekblyspel en Die Kaplyn; of delf dieper met een van die talle insiggewende dokumentêre en geestelike programme.

Twee opwindende nuwe AfriForumTV-produksies is vanaf Oktober beskikbaar op dié platform – net betyds vir die luilekker somersvakansiedae. Maak seker dat jy dit nie misloop nie.

Katinka Oosthuizen, of aan haar sosialemedia-aanhangers beter bekend as Katinka die Kat, pak in Platsak tot stinkryk haar reistas om die land se goedkoopste en duurste toeristebestemmings te gaan verken en te beproef. Sy neem leunstoelreisigers in dié reeks van agt episodes saam op ’n onvergeetlike reis van Suid-Afrika en stel ’n bekostigbare treinrit, die luukse Rovos Rail, ’n prentjiemooi foefieslaaid (zipline), die weelde van Sun City en vele meer op die proef. Beleef die land se skoonheid vanuit die lug, op die golwe van die see, vanuit die boomtoppe van die Tsitsikamma en vanaf die blouste berge van die Kaap. Moenie hierdie reis misloop nie. Platsak tot stinkryk is vanaf 17 Oktober beskikbaar op AfriForumTV. Hou AfriForumTV se sosialemediaplatforms dop en staan die kans om groot pryse los te slaan. (Jy sal moet spring, want inskrywings sluit op 30 November 2024!)

Spoegwolflede en broers, Danie en Moskou du Toit, verruil in die nuwe AfriForumTV-reeks Ons kos hul kitaar en tromme vir die potte en panne van die kombuis.

Hulle klop aan by die koskenner Bertus Basson, historikus Riana Mulder, musieklegende Francois van Coke en selfs hul pa, Johan, en Ouma Beatrix en ontdek saam die oorsprong van verskeie eg Afrikaanse disse.

Hulle deel staaltjies en ervarings oor kos, terwyl hulle self koeksisters bak, bolognese op die Du Toit-manier voorberei en selfs melktert op die vuur maak. Hierdie reeks bestaan uit agt episodes en is vanaf einde Oktober beskikbaar op AfriForumTV. Kykers kan ook uitsien na musiek wat dié Spoegwolflede spesiaal geskryf en getoonset het vir die reeks.

’n Opwindende nuwe inisiatief is pas by AfriForumTV bekendgestel en bied aan skole oor die hele land heen nou die geleentheid om kosteloos ’n eie kanaal op AfriForumTV te vestig. Hier kan skole hul eie inhoud met hul eie geslote gehore deel en die gerief en sekuriteit van AfriForumTV se platform ten volle benut. Bereik ’n gehoor wat daardie spesiale oomblik op die verhoog misgeloop het, die seun daardie wendrie tydens die eerste rugbyspan se naelbytoorwinning weer en weer wil beleef, die dogter wat vanjaar se treffertoneelstuk net nog ’n keer wil kyk of selfs die skool se nuusspan wat die jongste nuus direk aan die skoolgemeenskap bring – die geleenthede is eindeloos. Indien jou skool van hierdie geleentheid gebruik wil maak, kontak Shinelle Brewis by shinelle.brewis@afriforum.co.za.    

AfriForumTV is AfriForum se gratis stromingskanaal wat beskikbaar is by www.afriforumtv.co.za of met die gratis selfoontoepassings op GooglePlay en App Store, asook op GooglePlay op standaard Android TV’s of Mi Box-toestelle.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad