Ou storie, nuwe plan met plattelandse museums

Deur Ilze Nieuwoudt

Aan die voetheuwels van die Doringberge, net suid van die Oranjerivier, lê die Noord-Kaapse dorp Prieska – ’n naam afgelei van die Koranawoord “prieskab” wat “die plek van die verlore bokooi” beteken. Prieska is met sy meer as 14 000 inwoners die grootste dorp in die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit en ’n belangrike mynbousentrum in die gebied met veral kopermynbouaktiwiteite wat ’n kritieke komponent van die plaaslike ekonomie is.

Die tieroogfort uit die dae van die Anglo-Boereoorlog op Prieska.
Die N.G. Kerk Prieska is in 1921 ingewy.

Die gebied het reeds lank voor die dorp se ontstaan in 1878 trekboere hierheen gelok en gedurende die 1700’s ’n gewilde deurgangsroete vir jagters en handelaars gebied. Eg aan die Noord-Kaap is Prieska ook bekend vir verskeie halfedelgesteentes, waarvan tieroog waarskynlik die gewildste is. Tieroog is só volop dat ’n Britse fort wat in die Anglo-Boereoorlog op Prieska-koppie gebou is, in geheel uit hierdie steen opgerig is en vandag as ’n nasionale monument bewaar word.

Die bewaring van Prieska se ryke erfenis is egter, gemeet aan die verval van die Prieska-museum, nie op die plaaslike munisipaliteit se prioriteitslys nie.

Lize-Marie Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, het in Augustus die probleme rakende verval van die museum en die onregmatige verwydering van museum- en argiefstukke onder die aandag van die munisipale bestuurder gebring en dringende antwoorde daarop geëis. Dit blyk egter dat finansiële beperkinge en die wil tans by die munisipaliteit ontbreek om saam met die gemeenskap ’n plan vir die bewaring van die museum te bewerkstellig.

Die Prieska-museum, wat onder meer uitstallings met geologiese items uit die streek en gebruiksitems van vroeë nedersetters in die gebied bevat, is reeds ’n geruime tyd lank gesluit vir die publiek. En hoewel dit duidelik is dat items uit die museum verwyder is, is dit nie seker watter items dalk nou vir ewig verlore is nie, aangesien die museum nie eens oor ’n basiese bateregister beskik nie, verduidelik Smit.

Na aanleiding van onder meer gesprekke met kenners verbonde aan die McGregor-museum in Kimberley, stel AfriForum nou ondersoek in na maniere waarop die Prieska-museum se historiese stukke bewaar kan word. “Die verskuiwing van stukke na naburige museums waar dit op bruikleen geplaas kan word, sal vir nou kan help toesien dat daar nie nog stukke weggedra word nie,” sê Smit. Die hoop is egter om die stukke later as deel van ’n deeglik beplande privaat distriksmuseum terug te bring Prieska toe waar dit hoort en om as deel van ’n groter toerismeplan die bewaring van die dorp en ander dorpe in dié munisipaliteit, insluitend Draghoender, Marydale en Niekerkshoop, se erfenis weer toeganklik te maak vir inwoners en besoekers. AfriForum se plaaslike tak sal na verwagting ’n belangrike rol in die projek speel.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, benadruk dat die verval van museums, soos dié in Prieska, nie uniek is nie. “By owerhede, nasionaal en internasionaal, is erfenis baie selde ’n prioriteit en daarom is dit noodsaaklik dat gemeenskappe self verantwoordelikheid vir die bewaring van hulle erfenis neem,” verduidelik sy. “Daar is uitnemende voorbeelde van hoe gemeenskappe dit kan regkry. Dan is dit nie alleen ’n liefdestaak en ’n ereskuld wat hulle daarmee aan hul voorgeslagte volbring nie, maar dit kan selfs vir hulle ’n bron van inkomste deur middel van toerisme en die positiewe aanwending van die erfenis wees.”

In haar aanlyn artikelreeks oor interessante erfenisterreine en -verhale oor die hele land heen, stel Bailey ook telkens ondersoek in na plattelandse museums. So is daar byvoorbeeld in April 2022 ’n privaat dorpsmuseum op die Vrystaatse dorpie Paul Roux geopen wat dié dorp se storie vertel en nou, deur middel van onder meer maandelikse museumdae en demonstrasies, as kulturele bymekaarkomplek vir die dorpenaars en toeriste dien. Die gemeenskap het hier self eienaarskap van die museum en die bewaring van hul geskiedenis geneem. Die ervaring van “medemuseumbouers” betrokke by die Bethlehem-museum is ingespan om hierdie dorpsmuseumprojek van die grond af te kry.

Paul Roux-museum
Bethlehem-museum

In die geval van Bethlehem het ’n groep gemeenskapslede hier wat ’n passie vir geskiedenis en die bewaring van erfenis deel, reeds in Maart 2013 byeengekom om die Vriende van die Museum-vereniging op die been te bring wat in samewerking met die Bethlehem Museumtrust die bewaring van die plaaslike museum behartig.

Lees Erfenisjuwele (hier) vir meer inligting oor die Bethlehem- en Paul Roux-museum in Bailey se reeks Erfenisjuwele en vind uit hoe dié gemeenskappe die bewaring van hul verlede weer opeis en met ywer beskerm vir die nageslag.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad