Een-nul-trippel-flop: Polisie dop reaksietydtoets

Deur Ilze Nieuwoudt

Sirenes wat loei en polisievoertuie wat deur die verkeer vleg op pad na nóg ’n misdaadtoneel is geen onbekende verskynsel in Suid-Afrika nie. Iewers het iemand dringend hulp nodig en die mans en vroue in blou se blitsige optrede is noodsaaklik. Dit is dikwels letterlik ’n saak van lewe en dood. Oomblikke wat lewens kan red. Vanaf die oomblik dat ’n lid van die publiek die 10111-noodnommer skakel totdat hulp uiteindelik opdaag, is kritiek.

Tog toon ’n datastel wat Johan Nortjé, navorser by AfriForum, oor die reaksietye van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontleed het, dat daar ernstige tekortkominge in dié verband bestaan. Sover bekend is dit die eerste keer dat die SAPD se reaksietyd op hierdie spesifieke tipe misdaad op hierdie omvattende wyse nagevors word.

Volgens dié studie kon die polisie, in die vier jaar vanaf 2019/2020 tot 2022/2023, in slegs 23% van gevalle hul eie teikens ten opsigte van reaksietye op sogenaamde alfa-, bravo- en charlie-insidente tref. Oor die eerste agt maande van 2023/2024 kon die SAPD steeds net 42% van hul reaksietydteikens haal.

Insidente word in die SAPD se 10111-noodsentrum geprioriseer as alfa- (verwysend na misdade wat tans in proses is en alle ernstige misdade wat onmiddellike polisieoptrede vereis), bravo- (insidente wat reeds plaasgevind het en geen onmiddellike bedreiging vir lewe inhou nie) of charlie-insidente (minder ernstige insidente soos dronkenskap of leeglêery).

Volgens Nortjé sou daar, aan die hand van die prioritisering van insidente, verwag word dat die gemiddelde reaksietyd op ernstige insidente (oftewel alfa-insidente) veel beter sou wees as in die geval van minder ernstige gevalle. Dit is egter nie die geval nie.

Boonop toon die resultate van die studie dat Mpumalanga, ingevolge jaarlikse reaksietydteikens, die swakste gevaar het en nie in een van die jare wat ondersoek is, hul teikens gehaal het nie. Die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes het nie veel beter gevaar nie en kon elk net een keer in meer as vier jaar die paal haal.

Die jongste syfers wat in die studie ingesluit is (die eerste sewe maande van 2023/2024) skets, ten spyte van ’n oorhoofse verbetering in resultate, steeds nie ’n rooskleurige prentjie nie. Iemand wat ’n ernstige misdaad of misdaad wat nog in proses is by die 10111-noodoproepsentrum in byvoorbeeld die Noord-Kaap aanmeld, kan verwag om ’n gemiddeld van 27 minute en 56 sekondes te wag vir hulp om op te daag, terwyl dit ’n gemiddeld van onderskeidelik 25 minute en 46 sekondes en 24 minute en 51 sekondes sal neem in Mpumalanga en die Oos-Kaap. Daar kan egter verwag word dat hulp veel vinniger sal opdaag in alfa-insidente wat in Gauteng en Limpopo aangemeld word. In Gauteng was die gemiddelde reaksietyd vir die genoemde 2023/2024-periode 11 minute en 55 sekondes, terwyl dit in Limpopo 13 minute en 55 sekondes was.  

Reaksietye is beslis nie die enigste komponent waaraan die polisie se oorhoofse suksesse of mislukkings gemeet word nie, waarsku Nortjé, maar dit bly tog een van die kritieke elemente.

Nortjé voer aan dat verskeie aspekte – soos die tekort aan werkende polisievoertuie, moontlike leemtes in die opleiding van noodsentrumoperateurs, onbeantwoorde noodoproepe en die blote geografiese ligging van sekere insidente – tot die swak prestasie ten opsigte van reaksietye kan bydra. Bheki Cele, toenmalige Polisieminister, het juis in ’n antwoord aan die parlement in 2023 verklaar dat die 10111-noodnommer in die drie jaar vanaf 2020 tot 2022 sowat sewe miljoen oproepe onbeantwoord gelaat het. Cele het ook in Julie 2023 bevestig dat ’n gemiddeld van 21% van alle polisievoertuie en 16% van voertuie wat deur polisiespeurders gebruik moet word, defektief is. Dié syfers beklemtoon die omvang van probleme wat by die noodsentrum ontstaan en oorspoel na die polisie se vermoë om vinnig op noodsituasies te reageer.

Weens ’n tekort aan toeganklike en betroubare data is dit nie moontlik om die reaksietye van plaasaanvalle en -moorde met dié van alle misdade in Suid-Afrika te vergelyk nie. Tog meen Nortjé wil dit voorkom uit die beperkte inligting dat die syfers min of meer ooreenstem. Syfers oor reaksietye wat die SAPD vroeër in 2024 vrygestel het toon dat alfa-insidente se reaksietye in Gauteng vergeleke met vorige vrygestelde data van ’n gemiddeld van 11 minute na 12 minute verswak het en reaksietyd op insidente van dieselfde dringendheidsvlak in die Noord-Kaap tot een uur was.

Sowel AfriForum se navorsing as ander syfers wat reeds oor reaksietye vrygestel is, beklemtoon dat die SAPD se dienslewering in dié verband uiters gebrekkig is en dat ingryping deur die Polisieminister en die nasionale polisiekommissaris noodsaaklik is. “Hoewel die publiek self nie veel kan doen om dié probleem op te los nie, word betrokkenheid by ander veiligheidsinisiatiewe, soos die plaaslike AfriForum-buurtwag of gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), aanbeveel,” verduidelik Nortjé.

Dekfoto: Johan Nortjé, navorser by AfriForum se navorsingsafdeling


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad