Deur Carina Bester
Oorgrensmisdaad is ’n reuseprobleem in die gebiede teenaan die land se grense en boere en ondernemings ly telkens groot verliese weens die misdade wat daar gepleeg word. AfriForum en die familieboerorganisasie Saai het vroeër vanjaar ’n skrywe aan Jürgen Stock, Interpol se sekretaris-generaal, gestuur waarin die organisasies eis dat daar onmiddellik ingegryp moet word om die toename in oorgrensveediefstal – en die geweld wat daarmee gepaard gaan – tussen Suid-Afrika en Lesotho te takel. Maar wie en wat is Interpol en hoe help hulle om veiligheid te verbeter?
Interpol (oftewel die Internasionale Misdaadpolisieorganisasie) is ’n interregeringsorganisasie met 196 lidlande wat deel vorm van dié organisasie. Hierdie organisasie is die grootste polisieorganisasie ter wêreld en help polisiedepartemente in al die lidlande om saam te werk om veiligheid te verbeter en misdadigers vas te trek. Hulle bestuur ongeveer 19 databasisse wat inligting bevat oor misdade en misdadigers wat intyds beskikbaar is. Aangesien misdaad toenemend internasionaal plaasvind, is hierdie organisasie uiters belangrik.
Die hoofareas waarop Interpol fokus is terrorisme, kubermisdaad, georganiseerde misdaad, asook finansiële misdaad en teenkorrupsie.
Elke lidland van Interpol het ’n Nasionale Sentrale Buro (NSB) wat die land se nasionale wetstoepassingsagentskappe met ander lande en die Algemene Sekretariaat verbind deur ’n veilige wêreldwye polisiekommunikasienetwerk. Hierdie NSB’s kry onder meer inligting van ander NSB’s wat nodig is wanneer ’n misdaad of misdadigers in die betrokke land ondersoek word. Hulle deel ook data en intelligensie om ander lande te help. Dus werk NSB’s nie net saam met die plaaslike polisie van die land nie, maar ook saam met ander NSB’s en die kantore van die sekretaris-generaal oor die hele wêreld heen. Alhoewel dit verskil van land tot land, word die personeel van die NSB’s gewoonlik saamgestel uit hoogs opgeleide polisiebeamptes van die betrokke land.
In Suid-Afrika is Interpol se kantoor in Pretoria by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadintelligensie-eenheid gesetel. Die NSB hier is vir die SAPD ’n internasionale bron van intelligensie wat die SAPD in staat stel om Suid-Afrika se misdaaduitdagings vanuit ’n internasionale perspektief te takel. Dit stel die SAPD ook in staat om opkomende misdaadtendense te bespeur.
Juis hierom het AfriForum en Saai Interpol versoek om in te gryp op die Lesotho-grens. Dié organisasies het versoek dat ’n omvattende assessering gedoen word na die omvang en werksaamhede van sindikate in oorgrensveediefstal. Hulle het verder versoek dat geteikende ondersteuning en hulpbronne aan plaaslike wetstoepassingsagentskappe verskaf word om hul vermoë te versterk om hierdie misdade doeltreffend te bekamp.
Interpol is ook gevra om beter samewerking tussen die lande se wetstoepassers te fasiliteer.
“Die situasie het ’n kritieke punt bereik waar onmiddellike en beslissende optrede nodig is. Ons boere leef voortdurend in vrees vir hul lewe en lewensbestaan. Die eskalerende geweld en brutale diefstalle bedreig nie net ekonomiese stabiliteit nie, maar ook die struktuur van hierdie gemeenskappe,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.