Terwyl Afrikaans se eerste 100 jaar as amptelike taal tans gevier word, werk AfriForum deurlopend ook met ywer saam met ander kultuurgemeenskappe om moedertaalgebruik op uitgebreide maniere in dié gemeenskappe aan te moedig. Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum, verduidelik hoe daar prakties aan die bevordering van moedertaal in dié netwerk van kultuurgemeenskappe gebou word.
“Welkom in Disaneng”
AfriForum en die kantoor van kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in Noordwes, het in September kragte saamgesnoer om verwelkomingsborde op te rig om inwoners en reisigers in die gebied van dié gemeenskap te verwelkom. Dit is nie sommer enige borde nie, maar Tswana-borde met die woorde “Batlharo Boo Tokwana ba ga Masibi ba lo amogela mo Disaneng” wat beteken “Die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi verwelkom jou in Disaneng”.
Volgens kgosi Masibi is die gemeenskap trots daarop om padtekens in hul moedertaal te hê wat gemeenskapslede en reisigers verwelkom in die plek wat hul tuiste is. Hul gemeenskap het boonop ’n gesegde wat die waarde van kultuur akkuraat beskryf: “Morafe o senang ngwao, ga o iketse, e bile, leina tsela”, wat beteken dat ’n volk wat nie hul kultuur en tradisies uitleef nie, verlore is en dat as jy iemand se naam ken, jy weet waar hy vandaan kom.
Hierdie projek het voortgevloei uit die wedersydse erkenning-en-samewerkingsooreenkoms wat AfriForum vroeër met die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi gesluit het as deel van AfriForum se inisiatief om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te bou wat kan saamwerk en mekaar kan ondersteun om ‘n toekoms vir alle gemeenskappe se kinders hier aan die suidpunt van Afrika te verseker.
Ndebele op die SAUK
AfriForum pak etlike jare lank reeds projekte in samewerking met ander kultuurgemeenskappe ter bevordering van moedertaal aan. In September 2020 het AfriForum die Ndebele-belangegroep Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) ondersteun met ’n petisieveldtog vir die regverdige behandeling van Ndebele deur die SAUK ten einde gelyke behandeling van alle Suid-Afrikaanse tale te verseker. In Januarie 2022 het AfriForum en VUKO ook ’n veldtog van stapel gestuur om die korrekte vaslegging van kulturele en taalwerklikhede in Suid-Afrika te bevorder. Die organisasies het gemeenskapslede aangemoedig om aktief aan Statistiek SA se Sensus 2022 deel te neem en om hul huistaal korrek aan te dui, asook om hul kulturele identiteit pleks van ras aan te dui.
Xhosa hier tuis én geliefd
AfriForum en die kantoor van inkosi Zwelothando Mabandla het in November 2023 saamgewerk om die kulturele identiteit van die AmaBhele KaJamangile- tradisionele gemeenskap te bevorder deur verwelkomings- en rigtingwyserborde in dié gemeenskap se gebied tussen Tsolo en Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap op te rig. Verwelkomingsborde met die Xhosa-woorde “Isizwe SamaBhele KaJamangile siyakwamkela” (“die AmaBhele KaJamangile-volk verwelkom jou”) is na aan die grense van die koninkryk opgerig, terwyl rigtingwyserborde wat die pad na die koninklike woning van inkosi Zwelothando, as die setel van die kultuurgemeenskap se koninklike familie – die leidende familie van die gemeenskap – aandui, ook opgerig is.
’n Eervolle bewaring in Tswana
In Julie 2024 het AfriForum en die Seleka Barolong-kultuurgemeenskap van Thaba ’Nchu in die Oos-Vrystaat saamgewerk om kgosi Tshipinare Moroka, die laaste leier van Thaba ’Nchu as ’n onafhanklike staat, te vereer met die onthulling van ’n nuwe grafsteen. Dié verering het gekom te midde van die Seleka Barolong-koninkryk se herdenking van sy dood 140 jaar gelede, op 10 Julie 1884. Kgosi Gaboilelwe Moroka, ’n nasaat van kgosi Tshipinare en die huidige koninklike leier van die koninkryk, het die grafsteen namens die Seleka Barolong onthul. Die oorspronklike Tswana-woorde wat in 1884 op die grafsteen aangebring is, is ook op die nuwe grafsteen aangebring.
Want Engels is nie die enigste taal nie!
AfriForum se betrokkenheid by hierdie projekte help ook om die strewe na die uitbou en bevordering van moedertaal te normaliseer. As ander kultuurgemeenskappe ook aandring op die gebruik en bevordering van moedertaal, sal Afrikaners se aandrang daarop nie ’n uitsondering wees nie. Met ander woorde: Terwyl ons ander kultuurgemeenskappe help, help ons ook onsself omdat dit ons stryd makliker maak.
Die belangrikste manier waarop taal deur hierdie projekte bewaar en bevorder word, is deur die tasbare en sigbare werklikheid wat daargestel word. Mense kan sien dat hul eie taal ook gebruik kan word vir amptelike kommunikasie soos padtekens. Dit bevestig dat hul eie taal “goed genoeg” is en dat Engels nie die enigste “aanvaarbare” taal is om te gebruik vir amptelike sake nie.
Dit is belangrik vir gemeenskappe om hul eie taal te bewaar omdat dit kernbelangrik is vir ’n goeie en gesonde kulturele selfbeeld. ’n Kultuurgemeenskap met ’n gesonde kulturele selfbeeld is ook selfversekerd. Só ’n gemeenskap sal nie graag in iemand anders (soos die staat) se oë wil kyk om te oorleef en te leef nie. Hierdie gesonde trots motiveer ’n gemeenskap om te werk vir selfstandigheid en sulke gemeenskappe is die vennote wat AfriForum graag in ons netwerk van kultuurgemeenskappe koppel waar ons mekaar kan ondersteun om ’n toekoms vir ons kinders te verseker.