Eenheid behaal reusesuksesse in die naam van geregtigheid

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die afgelope paar maande groot sukses in die howe behaal en in ander gevalle die eerste tree gegee in sake waar dit gelyk het asof geregtigheid slagoffers sou bly ontwyk.

Monique van Oosterhout

Dit sou nagenoeg ’n dekade duur, maar in Julie 2024 het geregtigheid uiteindelik geskied in die opspraakwekkende Alexi Bizos-saak. Bizos, seun van die wêreldberoemde ontslape menseregte-advokaat, George Bizos, het sy toenmalige vrou, Monique van Oosterhout, in 2015 ernstig aangerand in hul huis in Johannesburg. Nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie die saak te vervolg nie, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2018 dit op hulle geneem om dié saak privaat te vervolg.

Adv. Gerrie Nel en adv. Phyllis Vorster (regs) van AfriForum se privaatvervolgingseenheid by Monique van Oosterhout.

Gedurende die hofsaak wat in 2020 begin het, het die eenheid Van Oosterhout deurgaans ondersteun. Bizos is intussen skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Vonnis was teen druktyd nog nie gelewer nie.

“Hierdie uitspraak is ’n sprekende voorbeeld van die NVG se selektiewe vervolging en dat Alexi Bizos nie vervolg is nie omdat hy die seun van George Bizos is. Die eenheid sal seker maak dat belangrike persone wat onregverdige beskerming teen vervolging kry, hul dag in die hof kry,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid.

Lucille Oosthuysen

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n deurslaggewende rol in die vervolging van die 28-jarige Dylan Ferreira gespeel. Ferreira is in Mei 2024 skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer ná hy Lucille Oosthuysen (nou 80) in Augustus 2023, tydens ’n geskil oor huurgeld, van balans af gestamp het en hulpeloos op die plaveisel gelaat het. Die voorval het in Mayfield Park, in die suide van Johannesburg, plaasgevind.


Dylan Ferreira
Adv. Gerrie Nel, Theresa Daniels (dogter van slagoffer) en Lucille Oosthuysen en haar man, Will.

Die privaatvervolgingseenheid het Lucille en haar man, Will, in hierdie saak verteenwoordig, die egpaar gehelp om voor te berei om te getuig en hulle deurentyd ondersteun in dié moeilike hofsaak. Die eenheid het ook oudiovisuele toerusting aan die NVG verskaf wat die aanklaer in staat gestel het om beeldmateriaal in die hof as getuienis voor te lê. Hierdie beeldmateriaal wat Ferreira se aanval op die bejaarde vrou wys, was deurslaggewend in sy skuldigbevinding. Voorts het die eenheid ook die voorbereiding van sleutelgetuies vir die saak behartig.

“’n Boelie het gekry wat hy verdien. Ons het betrokke geraak ná die NVG aanvanklik nóg ’n slagoffer in die steek gelaat het. Die daaropvolgende aanstelling van ’n briljante jong aanklaer, die betrokkenheid van ’n sterk en bevoegde landdros en ons betrokkenheid het gesorg dat geregtigheid geskied,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid.

Antoinette Ndishishi

’n Voormalige stafsersant van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), Leon Santos Conga, is in September 2024 lewenslange gevangenisstraf opgelê ná hy skuldig bevind is aan verkragting en poging tot moord. Dít volg ná hy nie sy MIV-status aan sy voormalige vriendin Antoinette Ndishishi bekendgemaak het nie en hy haar met die MI-virus besmet het.

Slang Maangwale en Antoinette Ndishishi

Die privaatvervolgingseenheid het deurgaans druk op die SANW toegepas om belangrike bewysstukke te verkry. Slang Maangwale, ondersoeker by die eenheid, het elke hofsitting bygewoon en Ndishishi deurlopend ondersteun.

“Hierdie vonnis stuur ’n duidelike boodskap. Die saak het lank voortgesleep en as dit nie vir AfriForum se betrokkenheid was nie, sou die saak nooit opgelos gewees het nie. Geregtigheid het geskied,” beklemtoon Maangwale.

Patrick Jewell

Jacky Jewell sal nou, meer as drie jaar ná haar pa, Patrick, se dood, uiteindelik rustiger kan slaap. Dít volg nadat die man wat as 16-jarige verantwoordelik was vir die ongeluk wat tot Patrick se dood gelei het, in Oktober 2024 tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis is en dié hoofstuk uiteindelik afgesluit kon word.

Jacky Jewell en haar pa, Patrick
Jacky Jewell

Kgaugelo Masenya (nou 19) het Patrick in September 2021 voor sy huis in Brits raakgery toe Masenya sy pa se sportnutsvoertuig vir ’n plesierrit gevat het. Patrick se beserings was só ernstig dat hy sowat drie weke later in die hospitaal gesterf het.

Die ondersoek na die voorval het gesloer, vermoedelik omdat Masenya se pa ’n kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se beskermings-en-sekuriteitseenheid is. Jewell se frustrasie het meer en meer geword en sy het besluit om die privaatvervolgingseenheid om hulp te nader. Danksy die eenheid se hulp het Masenya sy dag in die hof gekry.

Hoewel Jewell meen die vonnis is te lig, is sy verlig dat die saak afgehandel is en kan sy en haar dogter nou met hul lewe aangaan. “Ek is bly hy is gevonnis, maar ek dink hy het lig daarvan afgekom. Ek is baie dankbaar vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid se betrokkenheid, want sonder hulle sou die saak seker nog nie ’n punt bereik het nie. ’n Mens voel asof die regstelsel ’n mens in die steek laat en sonder die privaatvervolgingseenheid was hierdie net nog ’n saak wat deur die krake sou val,” verduidelik sy.

Julius Malema, Floyd Shivambu en VBS Bank

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in Julie 2024 met die hulp van AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n klag van rampokkery teen Julius Malema, leier van die EFF, en Floyd Shivambu, die party se voormalige adjunk, oor die VBS-skandaal ingedien. Dié klag hou verband met miljoene rande wat by die VBS Bank verdwyn het. Kriel sê in sy beëdigde verklaring daar is oorgenoeg bewyse dat die EFF as georganiseerde misdaadonderneming bedryf word.

Adv. Gerrie Nel en Kallie Kriel nadat Kriel ’n klag teen Julius Malema en Floyd Shivambu gelê het.

“Die ondersoek verg toegewyde en onwrikbare ingryping deur die SAPD op ’n wyse waardeur hulle, sonder vrees, guns of vooroordeel, gestand sal doen aan die verwagting dat hulle hul grondwetlike verantwoordelikhede sal nakom,” sê Kriel.

Volgens adv. Nel sal die eenheid die vordering van hierdie ondersoek monitor en stappe doen indien die owerhede versuim om op te tree. “Daar moet gelykheid voor die reg wees. Ongelukkig het ons dit nog nie gesien in die staat se ondersoek en vervolging van Julius Malema en ander EFF-leiers nie,” verduidelik hy.



Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad