Jong buurtwag wen prys vir uitstekende werk

Deur Marthinus Koekemoer

Die AfriForum-buurtwag in Malmesbury is skaars ’n jaar oud, maar het reeds ’n reuseverskil in die plaaslike gemeenskap gemaak. Buurtwaglede se impak is sodanig dat hierdie buurtwag by AfriForum se nasionale kongres wat in Augustus 2024 gehou is, as die suidstreek se buurtwag van die jaar aangewys is.

V.l.n.r. is David Olivier (veiligheidskoördineerder vir die suidstreek), Riaan Muller (takvoorsitter), Johan Crous (distrikskoördineerder vir die Weskus), Henk Dryer (buurtwagleier) en Deon de Jager (hoof van Gemeenskapstrukture vir die suidstreek).

AfriForum se Malmesbury-buurtwag is in Oktober 2023 gestig en neem sy rol as beskermer ernstig op deur gereeld patrollies te ry en bande met die plaaslike polisie te smee. Die buurtwag het onder meer ’n aktiewe rol tydens die 2024-verkiesing gespeel om oor stemlokale te waak en seker te maak dat inwoners hul kruisies in ’n veilige omgewing kan trek.

Daar is ook al hoe meer van die buurtwaglede wat AfriForum se gespesialiseerde protospanopleiding ontvang wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van onskatbare waarde is. Hierdie buurtwaglede het al die SAPD tydens optogte en ná rooftogte in die dorp ondersteun, terwyl hulle ook vermeende inbrekers vasgetrek het.

Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, is geweldig trots op die Malmesbury-buurtwag. “Hierdie buurtwag se toewyding tot die gemeenskap is so omvangryk dat daar niks in sy pad sal staan om te verseker dat Malmesbury vry, veilig en voorspoedig is nie. Ons is vol vertroue dat die buurtwag sal voortgaan om die gemeenskap se belange, welstand en veiligheid eerste te stel.”


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad