Goed, beter, Bethlehem!

Bethlehem toptak én -buurtwag in sentraal-SA

Deur Carina Bester

AfriForum se Bethlehem-tak en -buurtwag het in Augustus by die organisasie se driejaarlikse nasionale kongres met twee toptoekennings weggestap en is onderskeidelik aangewys as die sentraalstreek se tak en buurtwag van die jaar.

AfriForum se Bethlehem-buurtwag verrig goeie werk in dié dorp en is onlangs vereer as die beste buurtwag in die sentrale streek van die land.

Hierdie Oos-Vrystaatse tak het die afgelope drie jaar behoorlik skouer aan die wiel gesit om die dorp op te knap en veiligheid te verbeter.

Die Bethlehem-tak is die eerste tak in dié streek wat ’n buurtspan deur die dienstemaatskappy Pionier aangestel het wat weekliks projekte in die dorp aanpak. Hierdie span vul onder meer slaggate, hou parke in stand en maak gereeld openbare ruimtes skoon.

“Die dorp se strate het baie agteruitgegaan. Nie net was dit vuil nie, maar ongelukke het ook dikwels weens slaggate plaasgevind. Die buurtspan is aanvanklik aangestel om hoofsaaklik slaggate op te vul, maar hulle het later begin om gras te sny en vullis wat in oop velde gestort word, op te tel. Dit het dan sommer ook veiligheid in dié gebiede verbeter,” verduidelik Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Die buurtspan het die afgelope drie jaar ongeveer 1 000 ton teer gebruik om slaggate te vul en 49 000 m2 gras gesny, wat die vyf begraafplase in die gebied insluit. Hierdie besige span herstel selfs ook gereeld verstopte stormwaterafvoerpype in die verskillende woonbuurte.

Die buurtwag help en ondersteun by verskeie noodgevalle. Hier het hulle ondersteuning gebied ná ’n vliegongeluk.

Die tak het voorts ook die Hoërskool Witteberg se netbalbaan en die Hoërskool Voortrekker se parkeerterrein herstel, asook ’n 500 m lange watervoor by die gholfbaan skoongemaak en ontbos. Die Bethlehem Museum se terrein word ook gereeld deur die buurtspan skoongemaak.

Hierdie tak werk nie net om die dorp skoon en netjies te maak nie, die plaaslike buurtwag kwyt hulle ook uitstekend van hul taak. Hulle werk goed saam met die plaaslike polisie en ander veiligheidsrolspelers.

Die buurtwag het die afgelope drie jaar by meer as 300 insidente, soos veldbrande en plaasaanvalle, ondersteuning gebied, en byna 130 inhegtenisnames uitgevoer. Hulle werk ook gereeld saam met die polisie om operasies uit te voer om dwelmverwante misdaad te bekamp.

Opleiding is vir die Bethlehem-buurtwag uiters belangrik. Hulle ondergaan daarom gereeld opleiding en oefen ook een maal per jaar hul gebeurlikheidsplanne in. Volgens Ikking het hierdie opleiding en inoefeninge die buurtwaglede al tydens verskeie voorvalle gehelp.

“Dit was vir my ’n riem onder die hart dat die tak en sy bestuur vereer is vir die harde werk wat hulle insit vir die gemeenskap. Die buurtwag is ook ’n toegewyde span wat goed saamwerk en een doel voor oë het en dit is om hulle gemeenskap te beskerm. Ons is dankbaar vir die toekenning, asook vir AfriForum en die gemeenskap se volgehoue ondersteuning,” sê Ikking.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad