Deur Marthinus Koekemoer
AfriForum se Benoni-tak het by die burgerregteorganisasie se driejaarlikse nasionale kongres twee pryse gewen. Dié tak is aangewys as nasionale tak van die jaar en hul buurtwag is aangewys as die noordstreek se buurtwag van die jaar.
Gesels met die bestuur van die tak en ’n mens kom gou tot die besef die tak se bedrywighede is altyd gemik op die gemeenskap en die verbetering en beveiliging van die omgewing. Die stigting van hierdie tak het juis voortgespruit uit ’n behoefte vanuit die gemeenskap om iets aan die stygende misdaadsyfer te doen.
“Ons kan ’n merkbare verskil in die misdaad in die omgewing sien sedert ons die tak se buurtwag in 2019 op die been gebring het. Aanvanklik het ons daarop gefokus om sigbaarheid van ons patrolleerders so hoog as moontlik te hou. Die uitwerking hiervan was dat misdadigers na ander omgewings begin skuif het en dat ons byvoorbeeld ’n afname in inbrake gesien het,” sê Jacques Laubscher, Benoni se buurtwagleier.
Die tak het intussen hul vermoë om misdaad te bekamp eksponensieel uitgebrei met die aankoop van toerusting en samewerking met verskeie ander rolspelers in die veiligheidsbedryf. Hulle span onder meer hul twee motorfietse, hommeltuig en uitgebreide kamerastelsel in vir die bekamping van misdaad in dié gebied. Die motorfietse word hoofsaaklik aangewend vir patrollies in landelike gebiede, terwyl die tak ook dikwels die kennis en ervaring van sowel hul twee opgeleide hommeltuigvlieëniers as ’n uitgebreide kamerastelsel, wat skakel met dié van ander veiligheidsrolspelers in die gebied, benut vir operasies soos die opsporing van verdagte voertuie.
Die tak werk onder meer saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Plotwatch en die Ekurhuleni-metropolisie om misdaad in die omgewing te bekamp. Daarbenewens het die buurtwag omtrent 70 aktiewe lede wat almal opleiding ontvang voor hulle met hul pligte begin. Twee buurtwaglede het ook AfriForum se gespesialiseerde protospanopleiding ondergaan.
AfriForum se Benoni-tak is daarbenewens gereeld besig met allerlei volhoubare projekte om die gemeenskap en omgewing op te hef. Die tak vul slaggate op, snoei bome en sny gras. Voorts het die tak aan AfriForum se jaarlikse boomplantprojekte, wat tydens boomplantmaand in September plaasgevind het, deelgeneem.
“Ons het onlangs die plaaslike polisiestasie geverf en 20 asblikke op sleutelpunte in die dorp aangebring om te help om die omgewing netjies te hou. Ons maak dit een keer per week self leeg. Elke jaar neem ons ook deel aan uitreikaksies oor die Kerstyd wanneer ons geskenke by kinderhuise gaan uitdeel,” vertel Archie Mouyis, voorsitter van die tak.
“Ons is natuurlik baie trots op die toekennings wat ons ontvang het en dit is ’n bewys van wat spanwerk kan vermag. Hierdie tak is soos ’n groot familie, maar dis die groot inkoop van die gemeenskap by ons projekte waarvoor ons die dankbaarste is, want dis hulle hulp wat ons hande sterker maak,” sê Mouyis.
“AfriForum se Benoni-tak het bewys dat hulle die kernwaardes van selfdoen en gemeenskapsbetrokkenheid volledig uitleef. Hulle toewyding en vasberadenheid om hul omgewing te verbeter, maak van hulle ’n steunpilaar vir die gemeenskap en hierdie toekenning is ’n welverdiende bewys van hul harde werk,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Ferreira noem dat die tak ook by erfenisprojekte betrokke is en gedurende die jaar byvoorbeeld die stadsaal skoongemaak het. Die tak is ook gevra om volgende jaar alle veiligheidsaspekte van die Oppifees Afrikaanse Musiekfees, die grootste fees van sy soort aan die Oos-Rand, te behartig.
Mouyis se boodskap aan ander takke en sy resep vir sukses is eenvoudig: “Onthou dat jou bedrywighede oor die gemeenskap gaan. Werk saam met die gemeenskap vír die gemeenskap en sukses sal volg.”