Die 25 jaar van Kallie

Deur Ilze Nieuwoudt

Vir sy vrou, Elana, is hy die man met ’n zero-toleransie vir gemiddeldheid, maar ook die een met “eindelose grappies”, geloof, beginsels en die “uitsonderlike vermoë” om elke gesprek aan tafel, in die kar of in hospitaalteaters “so te stuur dat dit altyd strategies oor die Afrikaner en Afrikanervraagstukke gaan”. Kallie Kriel, die man wat al 18 jaar (sedert stigting in 2006) aan die stuur van AfriForum – die unieke burgerregteorganisasie met sy meer as 300 000 lede – staan, het pas sy 25ste jaar by die Solidariteit Beweging gevier.

Kallie Kriel – die kampvegter vir die beskerming van Pretoria se naam – in 2007 saam met sy dogter Nina.

Hulle sê ’n boer maak ’n plan. Dis waar, maar in die geval van Kriel maak hy nie net ’n plan nie, hy maak twee!

Op ’n sonnige lentedag in 2024 maak ek reg om die man met die plan oor sy kwarteeu in die spreekwoordelike loopgrawe van die Afrikaner te peper met vrae. Hy het egter reeds sy antwoorde gereed nog voor die vrae kan kom en dit is waarskynlik presies waar die Kallie Kriel wat deur die jare volksbesit geword het, se sukses lê. Hy is altyd ingelig. Altyd gereed met die antwoord en kan, soos sy geliefde eggenoot van die afgelope 30 jaar al te goed weet, altyd die gesprek stuur in die rigting van die Afrikaner en hierdie minderheidsgemeenskap se vraagstukke.

Die Kriel-gesin het lank reeds geleer dat hulle Kallie met die wêreld moet deel, maar in die eerste oomblikke van ’n gesprek met hierdie Afrikaner-aktivis is dit duidelik dat sy gesin juis sý wêreld is. In talle gesprekke sal een van sy vier kinders (CM, Emri, Nina en Jana) se name opduik. Dit waarvoor hy bedags vir die Afrikaner veg en bou is per slot van sake juis ook vir hierdie volgende generasie Afrikaner.

Sy dag-tot-dag-werk herinner sterk aan ’n artikel wat Susan Lombard, uitvoerende hoof van Maroela Media, etlike jare gelede oor ’n kasteelbouer in Suid-Tirool geskryf het: “’n Mens kan jou amper nie indink wat in die gedagtes van die heel eerste baron omgegaan het toe hy sy bouer aangesê het om die klip te kap wat die eerste hoeksteen van die kasteel sou wees nie. Die visie wat hy moes hê: Dit was net ’n klip, maar dit was die begin van iets groots. Ek sit ’n klip neer, maar ek begin bou aan ’n kasteel. Ek beitel ’n vesting vir die volgende generasie. Ek gaan nooit die einde van my handewerk sien nie, maar dit keer my nie om daarmee te begin nie.”

Toegegee, Kriel is beslis nie die eerste om aan die bouwerk van die Afrikaner te beitel nie, maar dat hy homself in die afgelope 25 jaar al as meesterbouer bekwaam het, is nie altemit nie. Ook sy handewerk het nie ’n einde nie en is deel van iets groots wat vir die volgende generasies Afrikaner bedoel is.

Sy pad tot hier in sy byna pynlik netjiese kantoor wat oor die rantjies van Centurion op die Voortrekkermonument in die weste van Pretoria uitkyk, het 55 jaar vantevore in Johannesburg begin as die jongste van drie seuns. Ná matriek aan die Hoërskool Pretoria-Noord waar hy in st. 9 en matriek op die leerlingraad gedien het, het hy ’n BA-graad in geskiedenis, geografie en sielkunde, ’n hoëronderwysdiploma, ’n honneurs en uiteindelik ’n meestersgraad in politieke geografie met ’n fokus op ’n polities-geografiese perspektief op die akkommodering van minderhede soos die Afrikaner aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Sy jare van studentepolitiek op Tukkies en tyd op dié destyds hoofsaaklik Afrikaanse universiteit se studenteraad in die stormagtige oorgangsjare waar hy die verdeeldheid onder jong Afrikaners eerstehands beleef het, het die jong Kriel ’n waardevolle blik op die mikrokosmos van Afrikanerdenke van die tyd gegee.    

Die Rapport-berig deur Z.B. du Toit wat die stigting van AfriForum in 2006 aangekondig het.

“Wat ek daar geleer het, is dat mense soveel gefokus het op die twis tussen die onderskeie groeperinge dat hulle minder tyd spandeer het aan die plan vir die toekoms,” vertel hy. Hierdie les uit sy studentedae rig hom steeds en is volgens hom een komponent in AfriForum se suksesverhaal waarin “ons verby die ou verdelingslyne kom” en “al verskil Afrikaners nog steeds oor baie goed, is daar genoeg dinge waaroor ons saamstem”. Dit is juis daar waar Afrikaners ooreenstem en dieselfde behoeftes het waar AfriForum waarlik ’n verskil maak, benadruk hy. Sake soos veilige woonbuurte, die vestiging van ’n land met ’n goeie lewenstandaard, die voortbestaan van Afrikaans, die bewaring van Afrikaneridentiteit en die respekvolle verhoudings met ander kultuurgemeenskappe bied daarom vandag aan derduisende uiteenlopende Afrikaners met, wat Kriel bestempel as ’n “veelheid van denke”, ’n kultuurtuiste by AfriForum.

Ná universiteit het Kriel as deel van die finale groep jongmanne om opgeroep te word in 1993 sy weermagdiensplig gedoen, maar is in dié tyd opgeroep om as onderwyser by die destydse Hoërskool Verwoerdburg (tans Hoërskool Centurion) aan te meld. Sy belangstelling in partypolitiek het hom egter in 1996 tot in die hartjie van Suid-Afrikaanse politiek gelei waar hy aangestel is as parlementêre navorser deur genl. Constand Viljoen. Drie jaar in die Kaap en omvangryke ervaring in die wêreld van politiek het Kriel met sy liefde vir politiek laat besef dit is nie vir hom persoonlik die voertuig waardeur hy die Afrikanersaak wil bevorder nie.

Kallie Kriel (links) en Nantes Kelder (AfriForum, regs) en sangers Sean Else, Steve Hofmeyr en Gerrie Pretorius tydens ’n protesaksie teen Julius Malema se sing van die lied “Kill the Boer” in Johannesburg in 2010.

Toe hy op 1 Julie 1999 as bemarkingsbestuurder by die Mynwerkersunie (MWU), later bekend as MWU-Solidariteit en vandag as Solidariteit, se hoofkantoor in Braamfontein in die Johannesburgse middestad instap, was die vakbondwese vir hom onbekend en ongenaakbaar. Tog was dit ’n tuiste waar Flip Buys, toe nog uitvoerende hoof van ’n vakbond in ’n ernstige finansiële verknorsing, groot gedink het oor die bou van ’n toekoms vir die Afrikaner op vele fronte, verduidelik Kriel. Hier het Kriel saam met ander vakbondleiers, insluitend Dirk Hermann, gewerk aan die herposisionering van die ou unie met sy nagenoeg 100 jaar lange tradisie.

Die groei van die MWU tot Solidariteit en die toenemende besef dat daar ’n dringende behoefte aan meer hulpbronne is om die toekomsplanne te befonds wat die vakbond destyds al vir uitbreiding buite die normale vakbondwese gehad het, het vernuwende denke genoodsaak. Die vestiging van Solidariteit Ledevoordele (tans bekend as Solidariteit Finansiële Dienste, SFD) wat daarop gemik was om finansiële voordele, deur middel van onder meer korttermynversekering vir vakbondlede, te ontsluit om bykomende hulpbronne vir die toekomsplanne te kry, het op Kriel se skouers geval. Die Virseker-produk wat al meer as R100 miljoen tot Afrikaanse onderwys bygedra het, het intussen hieruit voortgevloei.   

Terwyl die meeste Afrikanerorganisasies in die laat 1990’s en vroeë 2000’s tot niet gegaan het, of weens hul swaar politieke las irrelevant geword het, het ’n ernstige leemte in die burgerlike samelewing ontstaan, verduidelik Kriel. Die Afrikanergemeenskap, wat kort tevore polities ontmagtig geword het, het nou in die spreekwoordelike koue gestaan sonder politieke leiers om hul te rig. Solidariteit se vernuwende denke en sukses het daarom ’n logiese tuiste gebied, maar kwessies soos die stryd teen misdaad, die beskerming van Afrikaans en die Afrikaner se kulturele erfenis kon eenvoudig nie binne die vakbond self getakel word nie. Dit het stadig maar seker, sonder enige bloudruk van soortgelyke instellings, in 2006 tot die vestiging van AfriForum as burgerregteorganisasie aanleiding gegee.

Vandag bieg Kriel. Daar was dalk nie ’n fyn uitgewerkte plan nie, maar hy het, toegerus met ’n roeping, geweet watter rigting ingeslaan moet word. “Met roeping kan gewone mense buitengewone goed regkry in baie moeilike omstandighede. Hulle kry dit egter reg deur ’n klomp goed te probeer en as sekere goed nie werk nie, dan gaan lê jy nie moedeloos nie. Jy hou aan probeer totdat jy op die regte formule afkom,” stel hy dit duidelik.

Kallie Kriel, die gesinsman, en sy vrou, Elana, en hul kinders (Emri, links agter; CM, regs agter; Nina, links voor; en Jana, regs voor) in Augustus 2024.

Die formule is deur die afgelope 18 jaar van AfriForum se bestaan beproef en verfyn. Suksesverhale is volop – soos die sogenaamde Blood Milk-veldtog van 2009 waarin Nestlé ná openbare druk melkaankope vanaf Grace Mugabe, eggenote van die destydse Zimbabwiese president Robert, se plaas gestaak het; die veldtog vir die behoud van Pretoria se naam; die vestiging van ’n nasionale netwerk van AfriForum-takke en -buurtwagte wat op grondvlak bou aan ’n tasbare beter toekoms vir Afrikanergemeenskappe as deel van ’n unieke vorm van gemeenskapsfederalisme; die uitbou van ’n selfdoenvermoë met samewerkingsooreenkomste in groot metro’s; en die vestiging van AfriForum Brandweer, Forum Sekuriteit, AfriForum Teater en AfriForumTV.

In 2024, ná 25 jaar in die Solidariteit Beweging en 18 jaar by AfriForum, werk Kriel steeds saam met die AfriForum-span en -lede aan ’n plan vir die toekoms. Die pad daarheen is dalk soms onduidelik, maar die man met die twee, drie of vier planne kén die rigting na vryheid, veiligheid én voorspoed, en so pak hy, as gewone Afrikaner, die buitengewone stryd in moeilike tye steeds moedig aan.

Dekfoto: ’n Jong Kallie Kriel tydens ’n betoging op Kerkplein in 2005.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad