Die eeu (en méér) van Afrikaans

Deur Ilze Nieuwoudt

Die storie van Afrikaans is mooi. Dis poëties. Dis kompleks en soms hartseer. Maar bowenal is dit die storie van mense wat die kombuistaal omskep het in ’n onderrigtaal, ’n wetenskapstaal, ’n amptelike taal en ja, ’n hartstaal. Afrikaans het nie sommer net “gebeur” nie. Afrikaans is, in die woorde van een van die taal se grootste seuns Jaap Steyn, gemáák.

Op 8 Mei 1925 het Afrikaans, naas Engels, ’n amptelike landstaal geword en in Mei 2025 word dié mylpaal as deel van die Afrikaans 100-feesjaar gedenk. Hoewel Afrikaans as amptelike taal nou eers die 100 jaar-merk bereik het, is die skep van Afrikaans al jare voor dié vreugdevolle dag begin. Stuk vir stuk en generasie vir generasie is daar gebou, gevorm en gemaak aan die taal wat vandag met meer as 6,57 miljoen moedertaalsprekers die land se derde grootste taal is.  

Maar hoe lyk die storie van Afrikaans en hoe is hierdie taal dan gemaak? Hier is die storie van tien eerstes in Afrikaans.

1. Die eerste Afrikaanse koerant

Teen die einde van die 19de eeu was dit duidelik dat dit wat sommige as ’n dialek weens die verwaarlosing van Hollands beskou het, ’n eie taal kon word. ’n Klein groep Afrikaners, onder leiding van ds. S.J. du Toit, het dié nuwe taal as ’n skryftaal probeer vestig. Hulle was nie die eerstes om in Afrikaans te skryf nie, maar het wel daarna gestreef om dit op ’n georganiseerde wyse as skryftaal te bevorder. Op 15 Januarie 1876 verskyn die eerste uitgawe van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot. Dit sou jare neem voordat mense vertroud sou raak met Afrikaans as skryftaal in hierdie koerant. Die samestellers en lesers is gespot en selfs gedreig. Tog het geskrewe Afrikaans sy voete gevind en teen die vroeë 1880’s was die oplaag van die Patriot groter as selfs die gewilde Hollandse koerante van die tyd.

Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot.

2. Die eerste Afrikaanse spelreëls

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat op 14 Augustus 1875 in Pastorielaan in die Paarl gestig is, het hulle beywer vir Afrikaans as geskrewe taal. Die vestiging van spelreëls was daarom noodsaaklik. Die eerste elementêre spelreël was bloot: Ons skryf nes ons praat. Meer as 40 jaar later, in 1917, verskyn die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls (AWS) waarvan die 11de uitgawe in 2017 die lig gesien het.

3. Die eerste Afrikaanse skole

Op 14 Maart 1883 open die Gedenkschool der Hugenoten (oftewel die Gedenkskool fan di Hugenote) sy deure op die plaas De Kleyne Bosch in Dal Josafat. Dit word as die eerste amptelike Afrikaanse skool beskou en het vele bekendes opgelewer, insluitend die digters A.G. Visser, Totius en D.F. Malherbe. Daar was in die 1840’s ook reeds skole in die Kaapse Moslem-gemeenskap wat Afrikaans as onderrigtaal gebruik het. Hier is skryfoefeninge in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.

Gedenkschool der Hugenoten

4. Die eerste Afrikaanse tydskrif

Tydens die taalkongres wat in Januarie 1896 gehou is, is besluit om die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Klyntji, op die been te bring. Tydens ’n gesellige byeenkoms stel die teoloog Jan Lion Cachet ’n heildronk op dié nuwe blad in: “Di Klyntji wat vandag gebore is, is ’n Klyntji wat hy al lang verwag het (gelag); want hy het di noodsakelikheid ingesiin dat ons Afrikaanse volk ook Afrikaanse leesstof moet hê.” In Maart 1896 verskyn die eerste uitgawe van dié tydskrif met ’n oplaag van 500 tydskrifte. Binne slegs een jaar het die oplaag tot sowat 3 000 aangegroei.

Die eerste Afrikaanse tydskrif – Ons Klyntji

5. Die eerste Afrikaanse historiese roman

’n Gewilde vervolgverhaal uit die pen van S.J. du Toit het in die eerste jare van Ons Klyntji lesers gaande gehad. Die reeks was so geliefd dat dit uiteindelik in 1898 in boekvorm gepubliseer is – hiermee het die eerste historiese Afrikaanse roman, Di Koningin van Skeba of Salomo syn oue goudfelde in Sambesia, verskyn. Dit het sedertdien verskeie herdrukke beleef.

6. Afrikaans word vir die eerste keer amptelike skooltaal

C.J. Langenhoven is in Maart 1914 tot die Kaaplandse provinsiale raad verkies. Hy is aangemoedig om nie die stryd vir die erkenning van Afrikaans as onderrigtaal te voer alvorens Afrikaans genoegsaam in die pers en letterkunde bevorder is nie. Dié taalman het egter nie op hom laat wag nie en hom uit die staanspoor vir Afrikaans as onderrigtaal in skole beywer. In April 1914 word sy voorstel, om Afrikaans-Hollands as medium in die plek van Hollands ingestel te kry, aangeneem. In Junie word dieselfde voorstel in die Vrystaat en Transvaal goedgekeur. Die besluit word uiteindelik in 1918 in Transvaal geïmplementeer toe Afrikaans die plek van Nederlands inneem en in 1920 volg die skuif ook in Vrystaatse skole. Die Burger beskryf die instelling van Afrikaans as onderrigtaal as “niets minder dan een revolutie” in die Afrikaanse skryftaal.

C.J. Langenhoven

7. Die eerste Afrikaanse rolprente

Hoewel die rolprent De Voortrekkers, wat in 1916 verskyn het, onthou sal word as die eerste Afrikaanse rolprent omdat dié stilprent Afrikaanse of Nederlandse flitskaarte gebruik het, behoort die titel van die eerste volwaardige Afrikaanse klankrolprent aan Moedertjie. Dié rolprent het in 1931 verskyn en was ’n skamele 32 minute lank. Dié verwerking van J.F.W. Grosskopf se eenbedryf In die wagkamer het egter die weg gebaan vir ’n glansryke Afrikaanse rolprentbedryf.

’n Toneel uit Moedertjie

8. Die eerste Afrikaanse Bybel

In 1872 het die Nederlands gebore onderwyser Arnoldus Pannevis al in die media gepleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans ter wille van veral die bruin gemeenskap wat nie die Woord in Nederlands kon verstaan nie. In 1873 het C.P. Hoogenhout ook gevra vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Dit sou egter ses dekades neem voordat die Bybel uiteindelik in 1933 volledig in Afrikaans uitgegee sou word. Hoogenhout het in 1878 sy hand aan die vertaling gewaag en die Markus-evangelie vertaal, maar dit is nooit uitgegee nie. In die 1890’s het S.J. du Toit en nog ander vertalers die vertaling van sewe Bybelboeke aangepak wat tussen 1893 en 1908 gepubliseer is. In 1893 verskyn Genesis in Afrikaans en in 1895 Matteus. Ná jare se stryd en teenkanting teen die vertaling van die Bybel in Afrikaans verskyn die eerste volledige vertaling van die Afrikaanse Bybel in 1933.

Die eerste eksemplare van die Afrikaanse Bybel is in Mei 1933 by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap afgelewer.

9. Die eerste Afrikaans op radio

Die eerste Afrikaans wat oor die klankgolwe oor ’n openbare uitsaaidiens gehoor is, is op 18 Desember 1923 met die opening van die Johannesburgse sender uitgesaai. Dit was ’n kort openingsrede deur die toenmalige Vrystaatse administrateur E.R.P. Grobler. Hoewel markverslae in beide Afrikaans en Engels aangebied is, het Afrikaans eers werklik in 1924 ’n plek op die radio begin inneem in ’n tweetalige radioprogram wat deur Tommie Beckley aangebied is. In dieselfde tyd is Afrikaanse programme met gedigte, aangebied deur Queenie Fagan (eggenoot van die digter H.A. Fagan), en programme met Lulu Brewis (latere eggenoot van die digter Abraham H. Jonker) uitgesaai.  

10. Die eerste Afrikaanse hofuitspraak

Teen 1932 het Afrikaans sy plek op talle terreine begin inneem. Dieselfde geld vir die regsberoep waar appèlregter F.W. (Willie) Beyers op 27 Oktober 1932 in ’n patenteregsaak in die appèlafdeling van die hooggeregshof die eerste hofuitspraak in Afrikaans gelewer het. Die eerste hooggeregshofuitspraak in Afrikaans is in Februarie 1937 in Kaapstad gelewer. Die publikasie van die eerste Afrikaans-Engelse regswoordeboek in 1933 word ook as ’n belangrike mylpaal vir Afrikaans as regstaal geag. 

Die vroeë Afrikaanse media en kunste het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van Afrikaans as jong taal.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad