Toe AfriForum kort ná ons ontstaan genader is om ’n borg van ’n onvoorbereide debatskompetisie in die Vrystaat te wees, kon niemand voorsien waar hierdie betrokkenheid by Dink of Sink sou eindig nie!
Mettertyd het AfriForum die hoofborg geword, die Wes-Kaap se Dink of Sink-kompetisie het by AfriForum se nasionale kompetisie ingeskakel en daarna het universiteite, danksy die studentegroep Agenda, ook deel daarvan geword.
Vanjaar bestaan Dink of Sink uit ’n kompetisie vir laerskoolleerders in Gauteng én vir hoërskoolleerders met uitdunne in ses provinsies, asook ’n finaal in Pretoria om die nasionale kampioene te kroon. Dan is daar ook ’n kompetisie vir universiteitstudente met uitdunne op deelnemende kampusse en ’n finaal in Centurion.
Onvoorbereide debat leer mense om op hulle voete te dink, met selfvertroue voor ’n gehoor op te tree en oortuigende argumente te formuleer. Dit is vaardighede waarby deelnemers lewenslank kan baat.
AfriForum bied die kompetisies aan om jongmense van kleins af toe te rus vir ’n wêreld waar kennis van aktuele sake aan jou ’n voorsprong gee en waar jy jou standpunte met gemak en kundigheid moet kan aanbied – ook voor aanhoorders wat soms onvriendelik teenoor Afrikaanssprekendes staan.
Die jaar het afgeskop met die kompetisie vir graad 6- en graad 7-leerders wat op 29 Februarie in Gauteng gehou is. Dit was die eerste keer dat die kompetisie in Gauteng vir laerskole aangebied is. Altesaam 42 leerders het by die Hoërskool Montana, die gasheerskool, deelgeneem. Die Laerskool Anton van Wouw het in die finaal teen die Laerskool Pretoria-Oos gedebatteer en as wenner uit die stryd getree.
Op 20 April 2024 was die uitdunne vir die beste spanne van Akademia en die Universiteit van Pretoria (UP) aan die beurt met 48 studente wat by Akademia se Gerhardstraatkampus deelgeneem het. UP 1 het gewen, met Akademia 1 in die tweede plek. Beide spanne dring dus deur na die universiteite se finale stryd.
Die eerste hoërskole-uitdun het op 4 Mei 2024 by gasheerskool Hoërskool Framesby in die Oos-Kaap plaasgevind. In die junior kategorie (graad 8 tot 9) het twee spanne van Framesby in die eindrondte teen mekaar te staan gekom. Die senior wenspan was van die Hoërskool Pearson, met ’n span van die Hoërskool Brandwag in die tweede plek.
Kompetisies wat nog voorlê is die hoërskole se uitdunne in Gauteng by die Hoërskool Montana (11–12 Julie); die Wes-Kaap by die Hoërskool D.F. Malan (19 Julie); Limpopo by Merensky Landbou Akademie (26 Julie); die Vrystaat by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje (22 Augustus); Mpumalanga by die Hoërskool Nelspruit (28 Augustus); en die nasionale finaal op 5 Oktober in Pretoria by die Aros-kampus. Die laaste uitdunne én die finaal vir universiteite lê ook nog voor.
AfriForum bedank al die gasheerskole en kampusse vir hulle gasvryheid, asook elke onderwyser, deelnemer en ouer wat Dink of Sink jaarliks help uitbou.
Navrae en inskrywings kan aan Nicolene Müller, projekkoördineerder van Dink of Sink, gerig word by debat@afriforum.co.za.