Unieke misdade vereis ’n unieke oplossing
Deur Ilze Nieuwoudt

Die bekendstelling van AfriForum se jaarverslag oor plaasmoorde en -aanvalle in April het een saak herbevestig – die uniekheid, brutaliteit en omvangrykheid van plaasaanvalle vereis ’n unieke benadering in die voorkoming van en ondersoeke na dié aanvalle en moorde.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is daar verskeie geweldmisdade waaraan die SAPD spesiale aandag gee. Hierdie misdade staan amptelik as “prioriteitsmisdade” bekend en sluit onder meer transitorooftogte, taxi- en bendegeweld, asook onwettige mynbou-aktiwiteite in. Broodryk benadruk dat hierdie misdade beslis uniek is, dikwels ’n spesifieke inslag het en goed georganiseerd is. Hy hou egter vol dat plaasaanvalle oor dieselfde kam geskeer kan word aangesien dit ook aan hierdie eienskappe voldoen.

Boonop is die voorkoms van plaasaanvalle dikwels veel meer omvangryk en gewelddadig as die misdade wat as sogenaamde prioriteitsmisdade geklassifiseer is, voer Broodryk aan. “Geen lewe is belangriker as ’n ander nie, maar dit is ook nie aanvaarbaar vir die regering om boere se lewens as minder belangrik af te maak nie en daarom eis AfriForum dat daar spesiale aandag aan plaasaanvalle gegee sal word.”

“Terwyl die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om hul oë te sluit vir die werklikheid van plaasaanvalle, en politici soos Julius Malema en sy ondersteuners voortgaan om openlik ‘Kill the Boer, kill the farmer’ te dreunsing, vra AfriForum nie vir spesiale behandeling van plaasmoorde en -aanvalle nie – ons vra bloot vir gelyke behandeling,” stel Broodryk dit duidelik.

Luidens die verslag oor plaasaanvalle en -moorde het ’n totaal van 49 plaasmoorde (dus 0,94 moorde per week) gedurende 2023 plaasgevind in 296 plaasaanvalle (oftewel 5,7 aanvalle per week). Hierdie syfers is volgens Johan Nortjé, AfriForum-navorser en samesteller van die verslag, net ietwat laer as die 339 plaasaanvalle en 50 plaasmoorde wat in AfriForum se databasis vir 2022 aangeteken is.

Hierdie daling kan egter nog lank nie as ’n oorwinning beskou word nie en daarom sal AfriForum deur middel van sy nasionale veiligheidsnetwerk die stryd vir die beveiliging van landelike gemeenskappe voortsit én verskerp.

Landelike veiligheid: AfriForum maak só

AfriForum volg ’n veg-en-bou-strategie ten opsigte van landelike veiligheid. Aan die een kant veg die organisasie en plaas druk op die regering om plaasaanvalle te kategoriseer as ’n unieke tipe misdaad waarvoor ’n unieke voorkomingstrategie vereis word. Terselfdertyd neem AfriForum deur sy meer as 170 buurt- en plaaswagte en meer as 10 000 opgeleide vrywilligers landwyd, in samewerking met ander veiligheidstrukture op grondvlak en die landelike gemeenskap, self verantwoordelikheid vir veiligheid en bou nuwe veiligheidstrukture en -netwerke waar die ruimtes daarvoor ontstaan. Intussen versamel die burgerregteorganisasie ook deurentyd misdaadintelligensie in, stel ondersoek in na die misdaadbrandpunte in landelike gebiede en moedig sy buurt- en plaaswagte aan om sigbaarheid en ’n veiligheidsteenwoordigheid in die omgewing van die brandpunte te verhoog.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad