Forum vir Atlete daar om atlete te ondersteun
Deur Carina Bester

Professionele atlete wat op die hoogste vlak meeding, berei dikwels hul lewens lank voor om aan die Olimpiese Spele en ander groot byeenkomste deel te neem – die meeste van die tyd ook nog op eie onkoste. In die meeste ander lande ondersteun die nasionale sportfederasies hierdie atlete sodat hulle behoorlik kan voorberei en alles tot hulle beskikking het om deel te neem.

AfriForum Sport het aan die begin van die jaar ’n gholfdag gehou waartydens fondse vir die Forum vir Atlete ingesamel is.

In Suid-Afrika lyk die prentjie egter baie anders. Suid-Afrikaanse atlete ontvang min tot geen finansiële hulp van die regering of sportfederasies om deel te neem nie. Terwyl die regering miljoene bestee het om Mama Joy Chauke en Botha Msila, die Springbokke se sogenaamde “superondersteuners”, se reis- en verblyfkoste by verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk te betaal, kon hierdie geld eerder aangewend geword het om Suid-Afrikaanse atlete na vanjaar se Olimpiese Spele te stuur. Dit kon ook die talle minderbevoorregte atlete die nodige hupstoot gegee het om na Parys, Frankryk te reis vir vanjaar se Spele.

Alhoewel AfriForum Sport werk om die onderskeie sportfederasies aanspreeklik te hou vir hul swak bestuur en administrasie, het die organisasie ná heelwat konsultasies met atlete besef dat daar self ingespring gaan moet word om atlete te ondersteun – hetsy finansieel of met byvoorbeeld optimale kondisionering of voeding.

Dit is waarom AfriForum Sport die Forum vir Atlete op die been gebring het. Die Forum vir Atlete is as’ t ware ’n voertuig waarmee atlete toegang tot die nodige hulpbronne kan kry om voldoende vir kompetisies en byeenkomste voor te berei en daaraan deel te neem.

“Die Forum vir Atlete is inderwaarheid die middelman tussen die privaat sektor en die atleet. Ons wil graag as kanaal dien om atlete wat nie die nodige ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) of Atletiek Suid-Afrika (ASA) kry nie, met die privaat sektor in kontak te bring sodat hulle wel die land op die hoogste vlak kan verteenwoordig,” sê Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport.

AfriForum Sport het aan die begin van die jaar reeds ’n gholfdag gehou waartydens fondse vir die Forum vir Atlete ingesamel is. Hierdie geld gaan aangewend word om atlete wat aan die Spele gaan deelneem, te help.

Dave Chamberlain, sakeman van Pretoria, het verlede jaar 2 173 km in 29 dae afgelê waartydens hy R21 730 ingesamel het vir dié fonds. Hierdie geld is aan Esti Olivier, Suid-Afrikaanse vrouesnelroeikampioen, oorhandig om haar te help met haar voorbereiding vir die Spele.

Dit is maar een van vele voorbeelde van hoe die privaat sektor inspring om atlete te ondersteun. Besoek AfriForum Sport se webtuiste by www.afriforumsport.co.za om deel van die Forum vir Atlete te word of om tot die fonds by te dra.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad