Landbouprojekte boer vooruit
Deur Carina Bester

AfriForum en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) se inheemseveldbokprojek is in Mei in die Barolong Boo Seleka-koninkryk by Thaba ’Nchu, oos van Bloemfontein, van stapel gestuur. Hierdie projek is met ’n kudde van 21 Nguni-inheemseveldbokke begin.

Met hierdie projek wil bogenoemde organisasies plaaslike kleinboere met die nodige kennis en vaardighede toerus om hul bestaans- en kleinskaalse boerderye tot winsgewende ondernemings uit te bou. Hulle wil ook ’n bokkudde daarstel wat mettertyd tot ’n bokboerdery kan ontwikkel en bokke sal lewer om verdere ontwikkelingsprojekte op voetsoolvlak te begin.

Gerhard Lourens van die inheemseveldbokstoet LGL het vir die plaaslike boere, Kgosi Gaboilelwe Moroka (Kgosi van die Barolong Boo Seleka- tradisionele gemeenskap) en haar span opleiding aangebied om met dié bokke te boer.

“Landbou is die sleutel tot voedselsekerheid en volhoubaarheid, asook om wanvoeding, armoede en werkloosheid die hoof te bied. Hierdie veldbokprojek dien as ’n ontwikkelingspunt vir die rigting waarin ons glo bokboerdery moet beweeg in al die landelike gemeenskappe van Suid-Afrika,” sê Kgosi Moroka.

“Ons is besig om ’n netwerk van selfstandige kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek te vestig waarbinne gemeenskappe saamwerk,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum. Die samewerking met die Barolong Boo Seleka vorm deel hiervan.

By nog ’n suksesvolle landbouprojek buite Rustenburg het AfriForum, Saai en Thabake Business Enterprise vanjaar ’n tweede suksesvolle oes gelewer. Altesaam 4 191 kg murgpampoen, 728 kg rooikool en 740 kg kool is geoes en aan Nutripick gelewer. ’n Verdere 770 blomkoolkoppe is ook aan ander kliënte gelewer.

Tydens druktyd het die span gereedgemaak om nóg groente aan te plant.

Lebo Mosime, uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise, het AfriForum in 2022 genader nadat sy besluit het om die kleinskaalse groenteboerdery wat sy in haar agterplaas op 2 000 m2 bedryf het, uit te brei. Hoewel sy suksesvol produkte aan die mark gelewer het, was die skaal te klein om ekonomies lewensvatbaar te wees. AfriForum en Saai het Thabake Business Enterprise gehelp om 0,75 ha van die hoewe van 21 ha in die Phokeng-omgewing wat Thabake Business Enterprise by Royal Bafokeng Enterprise huur, onder songedrewe drupbesproeiing te plaas.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad