Só maak die AfriForum-aksiespan in Pretoria
Deur Marthinus Koekemoer
Howard de Lange (45)
De Lange is op Fochville gebore, maar woon al jare lank in Pretoria. Hy het by ’n konstruksiemaatskappy gewerk voor hy by die aksiespan aangesluit het.
Willem van Dyk (65)
Van Dyk het twee jaar gelede vir werk Pretoria toe gekom. Hy het voorheen in Johannesburg gebly waar hy by ’n goudmyn gewerk het.
Danie Visser (52)
Visser het omtrent vyf jaar gelede van Kaapstad na Pretoria verhuis om nader aan sy familie te woon. Hy het vir omtrent 30 jaar by die poskantoor gewerk.
Dean Rademeyer (21)
Rademeyer het in Pretoria grootgeword, maar het ook vir ’n paar jaar in Port Elizabeth gewoon. Hy het as karwag in Gezina gewerk voor hy by die aksiespan aangesluit het.

AfriForum se splinternuwe aksiespan het hul bedrywighede op 15 Mei in die ooste van Pretoria begin. Hierdie span bestaan tans uit vier lede en sal vanuit die AfriForum-hoofkantoor werk vanwaar hulle na gebiede waar probleme geïdentifiseer is, ontplooi kan word.

“’n Span wat vanuit hoofkantoor werk is belangrik sodat daar op spoedige diens gefokus kan word. Ons wil hierdie vermoë skep en uitbrei sodat, indien daar probleme in Pretoria ontstaan wat binne ons vermoë opgelos kan word, ons dit binne 48 uur kan doen,” sê Marié Steinberg, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die noordstreek.

AfriForum het ook vier buurtspanne in Pretoria wat reeds ’n geruime tyd lank volhoubare projekte aanpak. Hierdie spanne fokus op algemene instandhoudingswerk in Centurion, die Moot en die noorde van Pretoria. AfriForum het ook vroeër vanjaar ’n samewerkingsooreenkoms met die Tshwane-metro aangegaan en al bogenoemde spanne se werksaamhede sal by hierdie ooreenkoms inskakel.

Die aksiespan het hul werksaamhede met die skoonmaak van middelmanne en sypaadjies by groot verkeerskruisings begin, maar hulle sal ook aangewend word om gras te sny, padmerkers te verf, slaggate op te vul en verkeerstekens te herstel of te vervang. Daar word weekliks beplan aan die span se werksaamhede.

“Die span se pligte sal waarskynlik mettertyd uitbrei en dit kan beteken dat hulle ook later straatligte sal vervang, waterlekkasies herstel, herwinning sal doen en moontlik by vullisverwydering betrokke sal raak. Hulle het vir ’n maand lank opleiding by AfriForum se Centurion-tak ontvang waar daar twee voltydse spanne van tien werkers elk is,” vertel Steinberg.

’n Bakkie, ’n 4 ton-dubbelassleepwa, ’n Kudu-grassnyer, vier bossiekappers, vier grawe, vier spitvurke, twee 20 liter-gifspuitkanne, volledige persoonlike veiligheidstoerusting, 20 kegels, veiligheidspadborde en die nodige slaggathersteltoerusting is vir die aksiespan aangeskaf. Die span sal voltyds – Maandag tot Donderdag van 08:00 tot 16:30 en Vrydag van 08:00 tot 15:00 – werksaam wees. Die spanlede werk vir salarisse en word deur hoofkantoor, die Garsfontein-tak en die Moreletapark-tak befonds.

“Soos nuwe behoeftes geïdentifiseer word, sal ons die aksiespan se take uitbrei of aanpas. Ons hoop is om al vyf die spanne in Pretoria uit te brei sodat hulle meer gedoen kan kry. Die spanne sal natuurlik ook vinniger kan groei as die gemeenskap en ondernemings ons ’n finansiële hupstoot sou gee. Daarbenewens sal spanne in ander plekke geëvalueer word soos wat ons kapasiteit groei,” sê Steinberg.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad