Waterslaai: AfriForum en gemeenskap spring in waar regering faal
Deur Carina Bester

Terwyl die regering handjies gevou sit in die dreigende waterslaaikrisis, het AfriForum in samewerking met ander organisasies en gemeenskapslede reeds sedert die begin van die jaar ingespring en duisende ton waterslaai uit die Vaalrivier verwyder.

Waterslaai (Pistia stratiotes) is ’n uitheemse spesie wat in Suid-Afrika se gunstige weerstoestande floreer. Die hoë vlakke van E. coli en nutriënte wat weens vervalle rioolwerke in die land se waterbronne gestort word, veroorsaak boonop dat dié spesie selfs nog vinniger groei.

Bote is gebruik om die waterslaai na die kant te stoot sodat dit opgeskep kan word.

Buiten dat ’n groot gedeelte van die Vaalrivier in die Vaal Barrage-gebied onder ’n digte mat waterslaai bedek is, belemmer hierdie plantspesie ook die waterlewe van die gebied. Dit veroorsaak verder dat die plante en diere in die water vrek weens ’n tekort aan suurstof in die water, terwyl die waterslaai boonop ook die natuurlike vloei van die water beïnvloed.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, bedreig die waterslaai ook die ekonomie in die gebied aangesien toerisme-ondernemings wat van die rivier afhanklik is om sake te doen, nie soos voorheen kan voortgaan nie. Die eiendomswaarde langs die rivier neem ook af en mense wat langs die rivier woon het nie meer toegang daartoe nie.

Grobbelaar sê die gemeenskap het tot dusver 168 000 m3 waterslaai verwyder en gifstowwe is gespuit om dié vinniggroeiende spesie te stuit. “Ongelukkig groei die plant geweldig vinnig. Deur onkruiddoders te spuit en terselfdertyd die plant te verwyder, is die gemeenskap stadig besig om vordering te maak.”

Alhoewel ’n kewer spesiaal gebroei word om waterslaai uit te roei, vrek die kewer ook net soos die waterslaai in die winter. Dus moes daar na alternatiewe oplossings gekyk word om dié vinnig verspreidende plantspesie te beperk.

Die spuit van gif het vroeër vanjaar tot groot omstredenheid gelei en baie mense en selfs kenners was gekant teen die gebruik van gif. Die teenstand was só groot dat die spuit van gif tydelik gestaak is.

“Die gif wat aanvanklik gebruik is, was nie geregistreer vir gebruik op waterslaai nie, maar wel op hiasinte. Die gif bevat ook glifosaat waaroor baie mense bekommerd was omdat dit groot nagevolge inhou vir sowel mens- as dierlewe rondom die rivier,” vertel Grobbelaar.

Hy sê egter daar is nou ’n nuwe onkruiddoder wat goedgekeur en geregistreer is en waarmee die waterslaai bespuit kan word. Volgens hom bevat die nuwe gif ook glifosaat, maar nie die byprodukte wat die eintlike skade veroorsaak nie.

Waterslaai word op ’n trok gelaai.
AfriForum se Sasolburg-tak het in samewerking met die Vaaldriehoekdiepseehengelklub waterslaai uit die Vaalrivier verwyder.

“Hoewel die spuit van onkruiddoder op waterslaai in die Vaalrivier wel onder die toesig van Rand Water gedoen word, wil ons graag sien dat die regering ook iets daadwerkliks begin doen om hierdie indringerplante uit die rivier te verwyder.”

Grobbelaar sê terwyl die gemeenskap hard werk om die groei te beperk en om die Vaalrivier te red, het die regering nog niks van hulle kant af gedoen om te help nie.

Die munisipaliteite in die omgewing is geensins betrokke om dié natuurramp te bekamp nie. “Munisipaliteite se primêre verantwoordelikheid is om toe te sien dat die rioolwerke op peil is en nie die riviere besoedel nie. Hulle versuim om daardie pligte na te kom en is daarom direk verantwoordelik vir die natuurramp,” voeg Grobbelaar by.

Vrywilligers besig om waterslaai uit te skep.

AfriForum het in Mei ’n strafregtelike klagte teen April Ntuli, munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, gelê en dring nou daarop aan dat Ntuli in sy persoonlike hoedanigheid vervolg moet word vir die storting van rou riool in die Vaalrivier in dié munisipale gebied. Dié grootskaalse storting bied onder meer ’n gunstige teelaarde vir verskeie indringerplantspesies, insluitend waterslaai.

Volgens Grobbelaar is geen stappe al gedoen om die vervalle rioolwerke reg te maak nie. “Grootskaalse besoedeling vind daagliks in die Vaalrivier plaas en is die primêre oorsaak van die onbeheerde groei van waterslaai hier. Ons sal voortgaan om druk op die owerhede te plaas om rioolaanlegte reg te bestuur. Sodoende sal ons die sekondêre probleem, naamlik die groei van waterslaai, kan pak. Die gemeenskap takel tans die sekondêre probleem, maar die regering moet ook nou sy plig rakende die primêre oorsaak dringend nakom.”

Hy sê voorts as die waterslaai verder versprei, is daar ’n groot kans dat dit in die Bloemhofdam kan beland. Die waterslaaikwessie het die potensiaal om die Vaalrivier as waterbron te vernietig, wat rampspoedige gevolge vir die ekonomie en voedselvoorsiening sal inhou.

Só gryp die gemeenskap in terwyl die regering toekyk
 Gemeenskap (vrywilligers)Regering
SpanderingR6 miljoenGeen
Verwydering van waterslaai168 000 m3Geen
Dae gewerk80+Geen
Hektaar bespuit214,36 haGeen

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad