Skerpskutskietdag: Gemeenskap en industrie kom byeen oor veiligheid
Deur Carina Bester

Forum Sekuriteit, AfriForum se privaat veiligheidsmaatskappy, het op 4 Mei ’n skietdag vir die hele gesin aangebied waartydens vuurwapen- en jagfanatici die geleentheid gehad het om verskeie handelsname in die vuurwapenbedryf se wapens uit te toets. Hulle kon ook sien wat die sowat 30 veiligheidsverwante uitstallers hulle bied, na ’n hommeltuigdemonstrasie kyk en bloedingbeheeropleiding, aangebied deur Wild Medix, ontvang.

Die Skerpskutskietdag, wat by Out There Adventures buite Pretoria plaasgevind het, is aangebied om die gemeenskap en die industrie byeen te bring oor veiligheid. Skuts het ook ongeveer R700 000 se pryse – waaronder vuurwapens, teleskope, nagsigtoestelle en verkykers – losgeskiet.  

Deelnemers het tydens die dag geleentheid gehad om met ’n kragtige .50-kalibergeweer te skiet. Skuts het ook op die tien skietbane met van die land se grootste invoerders – CZ, Beretta, Glock, CANiK, Springfield, Zoli, Browning, Franchi, ATA en Benelli – se wapens meegeding in die onderskeie skietkompetisies.

Stefan Greyson vuur die .50-kaliber af.

Vir diegene wat nog skrikkerig is vir wapens met skerp ammunisie, het die personeel van Formalito, die verspreiders van Byrna, hulle op hul gemak gesit met dié gaswapen. Deelnemers kon na teikens op ’n hindernisbaan skiet om hierdie wapen, wat geen lisensie benodig nie, uit te toets. Hulle kon derhalwe die Byrna met skerpammunisiewapens vergelyk en meer gemaklik raak met die onderskeie wapens.

Om met die titel van Skerpskieter weg te stap, moes skuts die teikens in al drie die dissiplines – handwapen, haelgeweer en jaggeweer – raakskiet. Dit moes boonop ook nog met die invoerders se wapens gedoen word en nie met die skut se eie wapen nie. Sodoende was die speelvlak om as algehele wenner gekroon te word, gelyk. Die skut van die dag wat met die 76 mm-wisseltrofee weggestap het, was Wico Swanepoel met Jacques Janse van Rensburg (tweede plek) en Antonie Petzer (derde plek) kort op sy hakke.

Skuts wat die beste op die onderskeie bane met die 9 mm-pistole gevaar het, het wapens, asook die motivering vir ’n vuurwapenaansoek gewen. Die Springbok-skut Albert Wessels het met ’n 9 mm-Springfield weggestap, Flip Buys met ’n CANiK, Dirk Venter met ’n Glock en Rhinus van Heerden met ’n Beretta. Gerda du Preez het die tweestrydboom (“dueling tree”) gewen en ook met ’n Glock weggestap.

Die 20-jarige Rico Oosthuizen was een van die eerste skuts wat op die dag die .50-kaliber afgevuur het. Volgens hom het hy juis dié dag kom bywoon om die onderskeie invoerders se wapens uit te toets sodat hy ’n ingeligte besluit kan neem wanneer hy vir hom ’n handwapen aanskaf.

Dié benadering is deur Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, beaam. “Die Skerpskutskietdag was ’n wonderlike geleentheid vir die publiek om met kenners te gesels, opleiding te ontvang en bande te versterk. Geleenthede soos dié maak juis die deur oop vir mense wat betrokke wil raak of meer wil uitvind.”

Vir die kleinspan het die dag ook heelwat aktiwiteite gebied en die windbuksskietkompetisie was veral gewild. Henro Cronjé het die beste gevaar in dié kompetisie en met ’n splinternuwe windbuks weggestap.

Die harde werklikheid van misdaad laat ons met ’n reuseverantwoordelikheid om verstandig met veiligheid, veiligheidsopleiding en vuurwapengebruik om te gaan.

Wimpie Vogel, bestuurshoof van Besigheidsontwikkeling by AfriForum en organiseerder van die Skerpskutskietdag

“Die doel van die Skerpskutskietdag is onder meer om ’n ruimte te bied waar die gemeenskap en die industrie oor veiligheid kan ontmoet. Die harde werklikheid van misdaad laat ons met ’n reuseverantwoordelikheid om verstandig met veiligheid, veiligheidsopleiding en vuurwapengebruik om te gaan. Privaat vuurwapenbesit is nie iets waaraan enigiemand gaan karring nie. Die organisasies en mense wat hier bymekaargekom het, is ’n bewys daarvan,” het Wimpie Vogel, bestuurshoof van Besigheidsontwikkeling by AfriForum en organiseerder van die Skerpskutskietdag, gesê.

Die AfriForum-veiligheidstudiefondstrust, met ’n beginwaarde van R200 000, is ook tydens die dag bekendgestel. Hierdie studiefondstrust sal jaarliks aan minstens ’n dosyn studente toegang gee tot die snelgroeiende wêreld van hommeltuigtegnologie en talle beroepsmoontlikhede bied. Studente sal hiermee in staat gestel word om ’n hommeltuiglisensie (oftewel ’n RPC) en ’n graad E- tot C-PSiRA-kwalifikasie te bekom. Hierdie lisensie en kwalifikasies van die reguleringsowerheid vir die privaat veiligheidsbedryf (PSiRA) sal hommeltuigvlieëniers die geleentheid bied om hul kennis in uiteenlopende bedrywe toe te pas, van landbou en sekuriteit tot mynbou, rampbestuur en reddingsoperasies.

Volgens Vogel is die aanbied van ’n skietdag en die bekendstelling van ’n studiefondstrust wat veral toegespits is op hommeltuiggebruik in die veiligheidsbedryf, maar wat ook in ander bedrywe toegepas kan word, ’n logiese én waardevolle kombinasie.

Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) en Hannes Noëth (uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand) stel die AfriForumveiligheidstudiefondstrust bekend.
Die algehele wenners van die dag was Wico Swanepoel (eerste plek), Jacques Janse van Rensburg (tweede plek) en Antonie Petzer (derde plek). Op die foto is Marius Muller (Forum Sekuriteit), Janse van Rensburg, Swanepoel, Petzer en Wimpie Vogel (hoof van Besigheidsontwikkeling by AfriForum).

Dié studiefondstrust sal deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer word. Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is hommeltuigopleiding nie net ’n opwindende nuwe studierigting nie, maar gaan hierdie kritieke vaardigheid in die toekoms al hoe belangriker word.

“Ons is trots om deel van hierdie innoverende onderneming te wees waar ons ’n platform vir jongmense skep om hulself toe te rus met die kennis en vaardighede wat nodig is om in hierdie veld te presteer. Hommeltuigopleiding is nie net ’n nuwe rigting vir ons studietrust nie, dit is ’n sprong in die toekoms in. Hiermee sal ons studente in staat stel om hulself te vestig in ’n veld wat by die dag meer relevant word,” het Noëth gesê.

Ná die sukses van die eerste Skerpskutskietdag het die organiseerders daarvan bekend gemaak dat dit ’n jaarlikse instelling gaan word.


Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad