Tydens ’n presidensiële werkgroep oor gestremdheid wat in Maart 2023 gehou is, het pres. Cyril Ramaphosa verklaar dat nagenoeg 7% van die Suid-Afrikaanse bevolking met die een of ander vorm van gestremdheid leef. Dit kom neer op meer as 4,2 miljoen mense. “Hulle is nie net syfers nie,” het hy voortgegaan, “hulle verteenwoordig mense wat ambisies, drome en ’n doel het. Hulle verteenwoordig burgers wie se reg op gelyke behandeling en gelyke geleenthede gewaarborg en beskerm moet word.”
As ons nie hierdie kleiner verhoging aanvaar het nie, sou ons Sunfield Home Fortuna moes toemaak.
Rolf Ramakers, voorsitter van die Sunfield Home Fortuna se raad
So eerbaar as wat hierdie woorde mag klink, toon gevalle soos dié van Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir mense met gestremdhede buite Balfour in Mpumalanga, dat dié woorde net lippediens is. En terwyl politici voortgegaan het met vergaderings en toesprake met leë woorde, was AfriForum in ’n regstryd met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) gewikkel rakende toelae vir inwoners wat deur die staat in Fortuna se sorg geplaas is. Teen die tyd wat dié tehuis AfriForum die eerste keer in 2022 genader het, het die DMO reeds 14 jaar lank geweier om die toelae vir inwoners wat deur die staat in hul sorg geplaas is, te verhoog. Met ’n skamele bedrag van net meer as R1 800 per maand, moes die bestuur van dié tehuis raap en skraap om alle uitgawes – van kos en klere tot behuising, mediese sorg en toiletware – te dek.
Rolf Ramakers, voorsitter van die Sunfield Home Fortuna se raad, vertel dat daar al jare lank harde klippe gekou word om dié tehuis, tans ’n tuiste vir 25 privaat inwoners en 33 inwoners wat deur die DMO in hul sorg geplaas is, se deure oop te hou. Laasgenoemde het dikwels geen ander heenkome of familie wat enige steun bied nie. Die inwoners is almal óf verstandelik óf fisiek gestremd óf albei en die jongste is in sy vroeë 20’s, terwyl die oudste net ouer as 60 jaar is.
Sedert Ramakers AfriForum die eerste keer genader het, het die burgerregteorganisasie die DMO hof toe gesleep om aan te dring op ’n billike verhoging van inwoners se toelae. In Januarie het die Hooggeregshof in Mpumalanga in die guns van die tehuis uitspraak gelewer en beslissings rakende die billike verhoging van toelae gemaak. Intussen het die DMO egter aangedui dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer. Dit het tot ’n skikking buite die hof gelei. Ingevolge hierdie skikking sal ’n toelaag van R3 600 per inwoner per maand betaal word. Dít terwyl die werklike koste per inwoner tans op meer as R9 100 per maand gereken kan word.
Die skikkingsbedrag is laer as dit wat in die hofuitspraak beslis is, maar is volgens Ramakers ’n middeweg wat ’n verdere uitgerekte hofsaak waartydens geen verhoging betaalbaar sou wees nie, uitskakel. Die nuwe ooreengekome verhoging sal geldig wees tot die einde van die huidige finansiële jaar, waarna ’n verhoging van 10% per jaar sal geld.
Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, meen dat hoewel die uiteindelike skikking neerkom op ’n laer bedrag as wat die hofbevel vereis het, dit darem vroeër finansiële verligting vir dié tehuis bring.
Ramakers stel dit op sy beurt duidelik: “As ons nie hierdie kleiner verhoging aanvaar het nie, sou ons Sunfield Home Fortuna moes toemaak.” Vir hom is die oorwinning wat aan die einde van hierdie stryd behaal is, dalk nie finansieel van aard nie, maar wel moreel.
Sunfield Home Fortuna se situasie is nie die uitsondering nie. Dit is eerder die reël, verduidelik Ramakers. Talle tehuise sukkel om kop bo water te hou en baie moes al noodgedwonge hul deure sluit.
Die onbereidwilligheid om toelae te verhoog, wys volgens Boshoff op die departement se ongeërgdheid oor die versorging van kwesbare persone. “Dit wil voorkom asof ’n weelderige persoonlike leefstyl vir baie staatsamptenare belangriker is as hul plig teenoor die gemeenskap,” sluit hy af.
Brenda Mendes, bestuurder van Sunfield Home Fortuna, se emosie loop oor wanneer sy uitgevra word oor haar werk. Vir haar is dit juis die liefde, omgee, tientalle drukkies en dankbaarheid van inwoners wat elke dag dié tehuis vul. Geld is nodig, ja, erken sy, maar dit is nie waarom sy en haar span elke dag met ywer hul werk aanpak nie.
Kontak Mendes by themanager@sunfieldhomes.co.za indien jy by die tehuis betrokke wil raak.