Hooffoto: Die drie vroue van Allegaartjie: Didi Serfontein, Linda Gordon (middel) en Thelma Oosthuizen.
Allegaartjie. Dít is die woord én naam wat Thelma Oosthuizen se onderneming in Stilbaai perfek beskryf.
Dit was ook die woord wat hulle in die HAT gevind het toe sy en haar ma, Linda Gordon, na ’n naam vir die onderneming gesoek het.
“Ons het ’n naam gesoek wat nie te swaar geklink het nie. Dit moes net ’n lekker-sê-woord wees wat lekker op die tong val. My ma kry toe die naam ‘allegaartjie’, wat ’n mengsel of versameling van verskillende soorte goed beteken. En dit was presies wat ons was. Die naam was perfek vir ons,” vertel Oosthuizen.
Allegaartjie het in 1998 ontstaan nadat Oosthuizen en haar man vir ’n ekstra inkomste bokpootsleutelhouers en biltong verkoop het. Haar ma het destyds twee ondernemings, ’n skoenwinkel en ’n winkel wat tweedehandse items verkoop, in Riversdal besit en voorgestel dat hulle nóg ’n onderneming in Stilbaai begin en dat Oosthuizen dit dan bestuur.
Oosthuizen vertel sy het daardie tyd ook vir ’n ekstra inkomste speserye van die plaas af verpak en aan ondernemings verkoop. “Ons neem toe dit wat ons het en gooi dit bymekaar. Met ’n paar reekse skoene, drie tweedehandse meubelstukke en ’n rak vol speserye het Allegaartjie sy begin gemaak.”
Sy sê haar geheim destyds was dat as sy R1 200 verdien het, sy R1 000 in die onderneming teruggeploeg het en die R200 gebruik het om mee te leef. Só het sy haar eie voorraad opgebou en die onderneming later oorgeneem.
“Ons het tien jaar gelede besluit om uit te brei en ons eie erf te koop waar ons ons eie gebou kon oprig. Allegaartjie kom al vir drie generasies saam met ons. Alles wat ons van die sakewêreld weet, het ons by my ma geleer. Ons is dankbaar vir my pa wat ons al die jare ondersteun en gehelp het in die onderneming. Niks was ooit vir hom te moeilik of te veel nie – van kaste bou tot herstelwerk doen. My man moet ook maar altyd inspring en hawe toe ry wanneer ons ’n oorsese besending ontvang.”
Die grootste seëning is die mans in hul lewe se ondersteuning en aanmoediging in moeilike tye, asook die vryheid wat hulle gegun word om hulle drome na te streef. Gordon het egter nou ná 40 jaar afgetree en Oosthuizen se dogter, Didi Serfontein, is al die laaste agt jaar deel van die onderneming en neem die onderneming weer met haar eie innovering en vernuwing na die volgende vlak.
“Ons is trots om te sê dat ons gegroei het van ’n piepklein winkeltjie na ’n maatskappy met 28 personeellede waar ons drie ondernemings langs mekaar het.”
Volgens haar is entrepreneurskap Suid-Afrika se behoud en solank daar entrepreneurs is, sal daar altyd werk wees.
“Dit is verstommend hoe innoverend mense raak wanneer hulle swaarkry. Dit is ook vir my so mooi om te sien hoe innoverend die jeug van ons dorp en die land is. Covid-19 het ons geleer om uit die boks te dink en ek dink as ’n onderneming Covid-19 oorleef het, kan daardie plek enige iets oorleef. Entrepreneurskap bring hoop vir die toekoms.”
Om volgens haar suksesvol te wees as ’n entrepreneur het jy ’n droom en buitengewone deursettingsvermoë nodig.
Oosthuizen sê entrepreneurs en sakelui moet beslis in Afrikaans handeldryf. “Wat is dan beter as om ons land, ons mense en ons tradisies in Afrikaans uit te leef en te laat beleef?”
Hierdie restaurant, boetiek, geskenk-, meubel- en skoenwinkel met sy Mediterreense atmosfeer het vanjaar boonop ook met ’n Tinteltong Toekenning van AfriForum Sakenetwerk weggestap.
AfriForum Sakenetwerk gee sedert 2016 erkenning aan ondernemings wat in Afrikaans handeldryf. Vanjaar is 47 innoverende Afrikaanse ondernemings beloon – die meeste Tinteltong Toekennings tot nog toe.
Op die vraag oor wat dié toekenning vir hulle beteken, sê sy: “Al is die rede dat ’n mens sake doen eintlik dat jy jou eie drome verwesenlik, is dit tog ’n reusevoorreg om raakgesien te word, erkenning te kry en waardeer te word. Dit gee ’n mens sommer weer ’n lekker hupstoot en motiveer ’n mens om meer innoverend te dink en te doen.”
Om suksesvol as entrepreneur te wees, verg harde werk – iets wat hierdie drie suksesvolle entrepreneurs goed verstaan.
“As jy ’n droom het, daarin glo en bereid is om hard te werk, is niks onmoontlik nie. Moenie te trots wees om raad te vra of ’n mentor te hê nie. Dit is ’n voorreg om sulke mense in jou lewe te hê. Omring jou met mense wat meer kennis as jy het. Wees bereid om te leer, om aan te pas by die tye waarin ons leef en onthou dat verandering altyd goed is – dit hou dinge interessant,” is haar raad aan ander entrepreneurs.