AfriForum pak die (veediefstal-)bul by die horings

Deur Ilze Nieuwoudt │Foto’s: Ilze Nieuwoudt en Carina Bester

Minstens 80 600 skape, 55 700 bokke en 53 600 beeste is tydens die 2024/2025- finansiële jaar in Suid-Afrika as gesteel aangemeld. Hierdie nagenoeg 190 000 stuks vee, asook kleiner hoeveelhede varke, hoenders, wild, donkies en volstruise wat gesteel is en waarvoor 25 606 klagtes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak is, vorm deel van ’n misdaadbedryf wat lank nie net meer net ’n kleinskaalse opportunistiese misdaad is nie. Veediefstal het deur die jare omvorm tot ’n gesofistikeerde misdaad waarin sindikate telkens aktief is. Dit is boonop ’n bedryf wat ernstige risiko’s inhou vir die finansiële voortbestaan en vooruitgang van boerdery in die land.

Veediefstal: ’n Omvangryke misdaad

Luidens berekeninge wat AfriForum oor die omvang van veediefstal vir die vierde kwartaal van 2024/2025 (dus Januarie tot Maart 2025) gemaak het, het veediefstal die landboubedryf in dié drie maande van minstens R200 miljoen in direkte verliese gestroop. Konserwatief bereken het die diefstal van beeste, skape en bokke alleen die bedryf in die 12 maande vanaf April 2024 tot Maart 2025 nagenoeg R880 miljoen in direkte verliese gekos. Dié bedrag sluit egter nie bykomende verliese soos die verlies aan potensiële aanwas in nie.

Van boer tot beskermer: AfriForum-boer maak ’n plan!

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, ken die verlies weens veediefstal maar alte goed. As deeltydse boer in die Morgenzon-distrik het hy al self ervaar watter impak veediefstal op ’n boerdery kan hê. Bekker, wat ook op ’n plaas grootgeword het, boer reeds sowat 14 jaar lank met gemengde kommersiële vleisbeeste. Sedert hy sy boerdery in 2011 met net meer as twee dosyn beeste begin het, het dié kudde nou aangesterk tot sowat 220 stuks vee.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld

“In Junie 2017 het ek R100 000 se beeste weens diefstal verloor. Dit was net tien koeie wat gesteel is, maar dié tien koeie sou sowat R60 000 per jaar in aanteel inbring,” verduidelik hy. Indien bereken word dat een koei nagenoeg tien kalwers in haar leeftyd kan lewer, bring dit die algehele verlies aan inkomste in dié geval op sowat R700 000 te staan.

Bekker het ná dié teëspoed die belang van die beveiliging van sy vee opnuut besef. “Ek het daarna drastiese veranderinge aangebring om my vee te beveilig en ek moes my hele boerderybestuurspraktyk daarvolgens aanpas.”

Uit die aard van Bekker se werk by AfriForum het hy onlangs die behoefte aan doelgemaakte veiligheidsopleiding in die bekamping van veediefstal geïdentifiseer. AfriForum se eerste kursus in dié veld vir buurt- en plaaswaglede het sedertdien daaruit voortgevloei.

“AfriForum en die organisasie se veiligheidstrukture het daagliks soveel mense wat op die pad is – en as ’t ware die oë en ore van boere kan wees. Hoewel hulle boere wil help, is kennis van die landbou soms uiters beperk. Hierdie opleiding bemagtig nou ook buurtwaglede om self verdagte aktiwiteite wat moontlik met veediefstal verband hou, te identifiseer. Of dit vee is wat met ’n sleepwa vervoer word of in dorpe opgemerk word, daar is dinge waarvoor uitgekyk moet word en wat sal aandui of dié diere nie dalk onregmatig bekom is nie,” meen Bekker.

Die kursus bied voorts ook aan buurtwaglede die nodige kennis oor hoe om in ’n veediefstalsituasie op te tree en hoe om die voorval by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Veediefstaleenhede: Min hande en min hoop

Diefstal van skape, bokke en beeste in 2024/2025

Luidens statistiek wat in Maart 2025 aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Polisie voorgehou is, het die aantal klagtes van veediefstal van 32 348 in 2018/2019 afgeneem tot 26 829 in 2023/2024. Die jongste jaarsyfer, wat in Mei 2025 deur die SAPD uitgereik is, toon boonop dat dié syfer intussen tot 25 606 klagtes gedaal het. Dit beteken dat daar steeds sowat 70 klagtes van veediefstal per dag in Suid-Afrika aangemeld word en landbou wat reeds onder soveel druk gebuk gaan, by die dag net meer en meer knou. 

Die komitee beskou werkloosheid, swak grensbeheer, swak beheerde skutkrale en ondoeltreffende monitering van veilings en slagpale as van die belangrikste bydraende faktore tot die probleem van veediefstal. Voorts is die identifikasie en die merk van vee – deur middel van brandmerke, oorplaatjies of selfs biometriese tegnieke – van kritieke belang.

Die komitee het ook bevestiging dat “boere hul tot selfgeorganiseerde plaaswagte gewend het weens die ondoeltreffendheid van die polisie”.

Bekker beaam die komitee se gevolgtrekkings in dié verband. Hy voer aan dat die SAPD telkens so oorweldig is deur die omvang van ernstige misdade dat veediefstal nie die nodige aandag geniet nie. “Veediefstal vereis spesiale ondersoekeenhede waarin lede met gespesialiseerde opleiding funksioneer. Ons sien egter dat die bestaande veediefstaleenhede onderbeman en oorwerk is en hul voertuie val uitmekaar. Voorts moet geleenthede soos veilings daagliks gepolisieer word, maar met die reusetekort aan veediefstalpolisielede en betroubare en werkende voertuie is daar reusegapings,” sê Bekker.

Hy meen dat AfriForum se buurt- en plaaswagte ’n uiters belangrike rol het om te vervul om met die regte kennis ’n noemenswaardige bydrae tot die bekamping van dié misdaad te maak. “Deur AfriForum se plaas- en buurtwagte kan boere self ’n impak maak en dié spreekwoordelike bul by die horings pak.”

AfriForum-tak trek vermeende veediewe vas

AfriForum se nuwe opleidingsmodule in veediefstalbekamping het teen Junie 2025 reeds vrugte afgewerp toe lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag toegeslaan het op vermeende veediewe en in twee afsonderlike operasies beslag gelê het op 64 gesteelde beeste. Die waarde van die gesteelde vee is op nagenoeg R960 000 bereken.

Boere vertel hoe veediefstal hulle raak

In die joernaalprogram AfriForum maak só het joernalis Carina Bester gaan aanklop by boere in Mpumalanga om uit te vind hoe veediefstal hul boerderye beïnvloed. In dié insetsel word onder meer vertel hoe die sogenaamde slagbendes verwoesting saai op plase deur beeste saam te jaag en eers hul hakskeensenings af te kap voordat die diere voor die voet afgemaai en die vleis gebuit word. Boere vertel openhartig van die trauma en grootskaalse finansiële verliese wat die slagbendes en diefstal van lewende vee tot gevolg het. Kyk die program hier of besoek die AfriForum-kanaal op YouTube.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad
Veediefstal_FOTO 3 - Copy