Deur Barend Uys – hoof van Interkulturele Samewerking en Verhoudings by AfriForum │Foto’s: Argief
“Alles sal regkom indien elkeen sy plig doen.”
President Johannes Henricus (Jan) Brand (sien dekfoto) het van 1864 tot 1888 vyf agtereenvolgende termyne as president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat gedien – hy was sonder twyfel die groot bouer van die Vrystaat.
Die roeping van Brand
Die Volksraad van die Vrystaat het in 1863 besluit om Brand as kandidaat vir die presidentskap by die volk aan te beveel. Brand het soos volg gereageer: “Die man wat deur die stem van die volk tot die bekleding van die presidentsamp verkies word, het geen aangename of gemaklike taak voor hom nie. Groot is die verantwoordelikheid wat op hom rus, en moeilik die werk wat hy moet doen.”

Nadat hy uitwei oor die opofferings wat hy sal moet maak om die amp op te neem, skryf hy verder: “Maar aan die anderkant bied die presidentskap ’n uitgebreide en nuttige werksveld aan. Pligsgevoel gebied my om te gaan waarheen ek oortuig is ek die meeste nut kan toevoeg. Deur die gevoel gedrewe, hoewel nie sonder baie aarseling en groot bedenkinge nie, gee ek my toestemming om vir die presidentskap verkiesbaar gestel te word.”
Brand is daarop met ’n volstrekte meerderheid tot president verkies en het op 2 Februarie 1864 die Staatspresidentseed in die N.G. Kerk Bloemfontein afgelê.
Brand en die Basotho’s
Brand het die president van ’n worstelende republiek geword. Die Vrystaat het steeds die gevolge van die Eerste Basotho-oorlog (van 1858) gevoel en daar was steeds verskeie burgers wat ten gunste daarvan was om die Vrystaat weer onder Britse gesag te bring.
Die dringendste kwessie wat Brand moes takel was die uitdagings met die Basotho op die oostelike grens van die Vrystaat. Brand het alles in sy vermoë gedoen om ’n tweede oorlog met die Basotho te vermy as gevolg van die uiters slegte ekonomiese gevolge wat dit noodwendig sou hê. Hy het met groot geduld met koning Moshoeshoe I gekorrespondeer in ’n poging om ’n vreedsame oplossing te vind, maar die Tweede Basotho-oorlog het uiteindelik in Junie 1865 uitgebreek.

Brand het hom gedurende die oorlog as ’n man van daad bewys deur tussen Bloemfontein en die front te reis en self verantwoordelikheid te neem om te sorg dat genoeg burgers op kommando is. Die Vrystaat het militêre suksesse behaal maar kon nie daarin slaag om die Thaba Bosigo-bergvesting in te neem nie. ’n Uitputtingstrategie is gevolglik gevolg wat koning Moshoeshoe I uiteindelik gedwing het om op 3 April 1866 vrede te sluit.
Die vrede het egter nie lank gehou nie en die Derde Basotho-oorlog het op 13 Julie 1867 uitgebreek. Basotholand is uiteindelik op 12 Maart 1868 deur Brittanje geannekseer, wat die einde van die oorlog beteken het. Philip Wodehouse, die Kaapse goewerneur, het alles in sy mag probeer om ook die Vrystaat te annekseer, maar Brand se wyse optrede en leiding het dit verhoed.
Die uiteindelike grens tussen die Vrystaat en Basotholand is op 12 Februarie 1869 te Aliwal-Noord ooreengekom wat ’n groot diplomatieke triomf vir Brand was en het ’n periode van stabiliteit en voorspoed vir die Vrystaat ingelei.
Brand versterk die Vrystaat
Brand het besef dat die Vrystaat ekonomies sterk sal moet wees om verbeterings in die bestuur van die republiek moontlik te maak, wat weer ’n voorwaarde vir die behoud van die republiek se soewereiniteit was en het hom daarom aan die versterking van die ekonomie toegewy.
Op 21 Maart 1868 verklaar Brand tydens sy openingsrede voor die Volksraad: “Iedereen sal verseker saam met my die noodsaaklikheid insien om die opvoeding in die land op alle moontlike maniere te bevorder. En dit is vir my aangenaam om te weet dat u as die vaders van die volk alle bereidwilligheid besit om u van u aangename plig te kwyt en die nodige middele te verskaf waardeur die opkomende geslag in goeie beginsels en grondige kennis opgelei kan word. […] Om die finansies op ’n goeie voet te plaas en in die behoefte van die opvoeding van die jeug en vir goeie regspleging te voorsien, sal maatreëls getref moet word om ons inkomste te vermeerder.”
Brand en die diamantvelde
Diamante is in 1867 naby die Oranjerivier naby die teenswoordige dorp Hopetown ontdek. Brittanje het uiteindelik onregmatige aansprake van die Griekwa-leier Nicolaas Waterboer op die westelike gedeeltes van die Vrystaat gebruik om die diamantvelde te annekseer. Brand het met groot deursettingsvermoë gewerk om die grond vir die Vrystaat te behou, maar die militêre vermoë van die Vrystaat en geopolitieke werklikhede het dit baie moeilik gemaak.
Hy skryf in dié tyd aan H.A.L. Hamelberg, die Vrystaat se verteenwoordiger in Europa: “Solank as wat daar geen sterk vreemde moondheid aan die kus van Suid-Afrika, byvoorbeeld Duitsland, Rusland of Amerika sigself by Delagoabaai gevestig het nie, sal ons allerlei moeilikhede ondervind. […] Dink ernstig oor die voorstel na, wat jy kan doen om die resultaat te bevorder.”
Hy skryf in die derde brief: “Ons sal geen rus hê totdat ons goed georganiseer is nie. Daarom moet ons onsself van die beste geskut en gewere voorsien. […] Die Amerikaanse konsul Mnr. Edgecomb is tans hier om ’n ooreenkoms van vriendskap en handel met ons te sluit. Die Volksraad het my gemagtig om indien verkrygbaar ’n offensiewe-defensiewe-verdrag met Amerika te sluit.”
Op 13 Julie 1876 slaag die Vrystaatse president uiteindelik daarin om ’n ooreenkoms met Brittanje te sluit waarvolgens die Vrystaat £90 000 vir die verlies van die diamantvelde vergoed is. Dit is slegs Brand se deursettingsvermoë, sy diplomatieke vernuf en die ondersteuning van die Volksraad wat tot dié sukses aanleiding gegee het. ’n Totaal van £70 000 is aangewend vir die stigting van ’n nasionale bank – waarmee nog een van Brand se strewes verwesenlik is.
Brand en die Transvaal

Brand het ’n sleutelrol gespeel in die onderhandelinge om die herwinning van die Transvaal se onafhanklikheid ná die Eerste Vryheidsoorlog van 1880–1881. Hy het hom daarna verder daarvoor beywer om ’n federale verbintenis tussen die twee republieke daar te stel en het in Oktober 1887 voorgestel dat ’n federale verband tussen die republieke daargestel word. Die wetgewende gesag sou by ’n federale raad en die uitvoerende gesag in die hande van ’n federale president berus, terwyl die regspraak in die hande van ’n federale hooggeregshof sou wees. Hieroor het Brand geskryf: “Elke staat behou sy soewereiniteit, vryheid en onafhanklikheid en alle regte […] wat nie deur die federale ooreenkoms spesifiek afgestaan word nie.”
Brand se federale strewe
Brand het in Desember 1874 die volgende aan die Britse historikus J.A. Froude gesê: “Ervaring wys dat alle kolonies vroeër of later onafhanklik word. Oor geen lang tyd nie sal die Britte Suid-Afrika geheel en al verlaat en ek kan dit bekostig om te wag.”
Tydens Brand se openingsrede voor die Volksraad op 22 Oktober 1887 wys hy daarop dat ’n mooi toekoms vir suidelike Afrika weens die ontdekking van goud moontlik is en dat ’n spoorlyn deur die Vrystaat oor Bloemfontein wat die Delagoabaai-Pretoria-spoorlyn en die Kaapkolonie verbind, dringend bevorder moet word.
Brand het vervolg: “Daardeur sal nie alleen ons hulpbronne en steenkoolmyne ontgin, industrialisering aangemoedig en markte vir ons produkte geskep word nie, maar daardeur sal ook die toenadering van almal verkry word, wat sal lei tot nouer verenging van die ZAR en die Vrystaat in ’n federale unie wat die weg sal baan vir ’n konfederasie van al die state en kolonies van Suid-Afrika, en die grondslag sal lê vir die opkoms en opbloei van ons Suid-Afrikaanse nasie.”
Die republieke kon ongelukkig egter nie ’n federale ooreenkoms bereik nie, omdat hul prioriteite as gevolg van geopolitieke werklikhede net te veel verskil het.
Brand se swanesang
Brand het tydens sy openingsrede voor die Volksraad op 7 Mei 1888 weereens ’n beroep op die Volksraad gedoen vir die aanleg van ’n spoorweg. ’n Droom is vir Brand bewaarheid toe die Volksraad op 5 Junie die aanleg van ’n spoorweg deur die Vrystaat goedkeur.
Uit die 41 teenwoordige volksraadslede het 38 lede op 8 Junie 1888 ten gunste van ’n besluit gestem om Brand vir ’n sesde keer as president van die Vrystaat by die volk aan te beveel. ’n Sesde ampstermyn was egter nie vir Brand beskore nie. Hy het op 14 Julie in die teenwoordigheid van sy familie kalm en sag heengegaan.
Brand as gelowige
Op 1 Januarie 1884 skryf Brand in ’n brief aan ’n vriend in Nederland: “Ek het uiteindelik tot die oortuiging gekom dat mens soos ’n kind moet glo. Aanbid, maar verstaan kan ons nie. Hoe kan ook ’n sondige menslike verstand die Oneindige verstaan? In die geloof voel ek my gelukkig.”
Op 23 September 1885 skryf hy in ’n brief aan H. Blignaut: “Ook ek het ons Here Jesus lief as my enigste Saligmaker en ek stem in dat Gods Woord die rigsnoer van ons handelinge en ons hoogste wet moet wees. Daaraan ontleen ons troos in droefheid, krag tot stryd, lus vir werk.”
Brand vandag
Brand word onthou vir sy leuse: “Alles sal regkom indien elkeen sy plig doen.” Dit kan ons vandag opnuut begeester om in gehoorsaamheid aan die Here te doen wat nodig is om ’n toekoms vir die opkomende geslagte hier aan die suidpunt van Afrika te verseker.